Staal jouself vir 'n nuwe paradigma en kies dienooreenkomstig - Maroela Media

Aug 29, 2018
29 August 2018 - Ons by die Instituut vir Rasseverhoudinge was nog altyd ten gunste van sterk, onomwonde teenkanting teen slegte idees – nou niks minder as onder apartheid nie – want aktiewe burgerskap vereis dit.

Terence Corrigan

Die afgelope paar weke sou bevestig het – indien bevestiging hoegenaamd nodig is – dat beslissende veranderinge in Suid-Afrika se politieke gang in die vooruitsig is.

Dit is van seldsame belang vir enige land.  Dit staan vas dat wat nou gebeur een van die belangrikste ontwikkelinge – waarskynlikste dié belangrikste – sedert Suid-Afrika se demokratisering is.  Dir beteken dat ’n nuwe paradigma daargestel is, en ou aannames bevraagteken moet word.

Waarskynlik die belangrikste aanwyser hiervan was president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die African National Congress (ANC) sou voortgaan met ’n wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding (OSV) te bewerkstellig.

Die uitvloeisels van ’n wysiging van die Handves van Menseregte met ’n politieke doelstelling voor oë kan nooit ’n geringe saak wees nie.  Dit geld soveel te meer wanneer die beskerming van eiendom, die vestiging van ’n suksesvolle markekonomie en ’n onontbeerlike verskansing van indiduele vryheid die doelwit is.

Die werklikhede en implikasies van hierdie verandering word heeltemal te lig aangeslaan.

Een van die opvallendste aanwysers hiervan is die oorgeruste reaksie op hierdie ontwikkelinge. Sedert die saak na die ANC se konferensie in Desember verlede jaar op die voorgrond van Suid-Afrika se politiek geskuif is, het baie mense vasgeklou aan die hoop dat OSV in werklikheid ’n beperkte ingryping, hoofsaaklik simbolies van aard, sou wees wat op ’n aantal minder waardevolle bates gerig sou wees.  

Groot vertroue is geplaas in versekerings dat dit nie die ekonomie sou ontwrig of voedselsekerheid sou bedreig nie.  President Ramaphosa was ‘klaarblyklik’ persoonlik teen hierdie handelswyse gekant.  Baie ontleders het inderdaad beslis dat hy op meesterlike wyse ’n ‘langtermyn-spel’ aan’t  speel was wat die saak gemanipuleer het ten einde dit te beheer.

’n Verdere uitgangspunt is dat die gevolge van ’n roekelose veldtog van OSV selfverydelend sou wees.  Grondpolitiek in Suid-Afrika – en veral landelike sake – staan altyd in die skadu van Zimbabwe.  Suid-Afrika het genoeg geleer om die foute van sy noordelike buurland te vermy.  Dit sou net nie sinvol wees nie.  Die beste optrede sou dus wees om kalm te bly en te vertrou dat dinge vanself sal uitwerk.

En so is Agri-SA se president Dan Kriek se beskouings, byvoorbeeld, ’n paar weke gelede in ’n uitvoerige onderhoud met Willemien Brümmer in Beeld geprofileer. Om landbou te ondermyn is om ook die hele waardeketting wat daarop staatmaak te ondermyn.  Buitendien is president Ramaphosa ’n intelligente man met kollegas wat ‘net soos ek en jy dink’ aan sy sy.  Dit sou net ondenkbaar wees.

Op soortgelyke wyse het professor Steven Friedman geskryf dat dit onwaarskynlik is dat ’n grondwetlike wysiging eiendomsregte ernstig sal bedreig, omdat dit sou beteken dat ‘ die eiendom van elke ANC-kieser wat ’n huis besit in gevaar gestel sal word’.  News24 se Adriaan Basson het gesê dat dit ’n ‘allemansgeheim’ was dat die president teen die wysiging van die Grondwet gekant was.  En ’n Business Day-hoofartikel was van mening dat “Ramaphosa, wat nooit oorhaastig is nie, presies weet hoe dit gaan uitspeel”. 

Dit sou ’n fout wees om dít sommer te aanvaar.  Dit sou beteken dat veronderstel word dat elkeen op gemeenskaplike prioriteite en resultate ingestel is en dat almal dieselfde lesse uit die ondervinding van ander gemeenskappe sou leer.  Dit is onloënbaar foutief.

Die handhawing van politieke mag vereis sy eie stel prioriteite, en dit geld soveel meer wanneer politieke denke hoogs ideologies is.  Vir die ANC is die ‘grondkwessie’ minstens ewe veel ’n politieke as ’n ekonomiese saak.  Waarskynlik meer so.

Dit is geen geheim dat grondhervorming nooit vir die regering ’n prioriteit was nie en, in die lig van die veranderende struktuur van die Suid-Afrikaanse samelewing, is dit verstaanbaar.  Suid-Afrika het ’n verstedelikende bevolking waarvan die aspirasies toenemend is om in stede te woon, salarisbetalende werkgeleenthede te vind en te behou en toe te sien dat hul kinders vir meer winsgewende loopbane opgevoed word.

Dit is inderdaad billik om te sê dat hoewel ’n grond- en landelike hervormingsprogram – indien suksesvol geïmplementeer – vir Suid-Afrika ’n mate van ontwikkelingsbelofte bied, dit onwaarskynlik is dat dit vir die ekonomie as geheel transformerend sal wees.

Op die keper beskou was ‘die grond’ nog altyd ’n sensitiewe en hoogs gelaaide aangeleentheid in Suid-Afrika, ’n aanduiding van die onbillikheid van Suid-Afrika se geskiedenis. En, soos mnr Kriek kan getuig, manifesteer dit dikwels in vyandigheid teenoor wit kommersiële boere.  Die laasgenoemde het ietwat van ’n “Feindbild’ – letterlik, ’n beeld van die vyand – geword en is lank as ’n vyand gestigmatiseer.  Hulle word vir allerlei euwels verantwoordelik gehou en van allerhande misdrywe beskuldig.  (Inderdaad, soos in die onlangse skietery by Bergville, brei dit uit na die toeskrywing van kriminele dade aan ‘boere’, selfs wanneer die beweerde skuldiges nie op plase woon en nie in die landbou werk nie.) 

Vir die ANC is ‘die grond’ deel van ’n verhaal. Dit is ’n diep emosionele saak waaromheen die party-elite kan verenig – in die ANC sowel as in die Economic Freedom Fighters (wees op die uitkyk vir ’n moontlike eenheidsooreenkoms).  Dit voorsien ’n vorm vir wat kwansuis met Suid-Afrika verkeerd is en die rigting wat dit voorskryf beloof ’n ideologies bevredigende uitkoms.

Verder pas die vermindering van eiendomsregte in by die ideologiese standpunt van baie ANC-lede.  Of die Grondwet eiendomsregte behoort te beskerm of nie – en hoe dit behoort te gebeur – was een van die sake wat die ernstigste by die konstitusionele onderhandelings betwis is.  Sterk meningsrigtings in die party het nooit met hierdie idee vrede gemaak nie. Party was ten gunste van die uitbreiding van die diskresie van die staat om met die ekonomie in te meng as deel van die bou van ’n magtige Oos-Asiatiese styl van ontwikkelingstaat.  Andere sou dit verkies as ’n stap in die rigting van ’n sosialistiese samelewing.  Albei is in ooreenstemming met die ANC se strategiese paradigma, die sogenaamde Nasionale Demokratiese Revolusie.

En om hierdie rede sal die kwessie van OSV nie met grond eindig nie.  Grond sal waarskynlik ’n eerste stap wees, ’n presedent wat die weg baan vir verdere vervreemding in ander sektore.

Ja, hierdie roete sal koste verg.  Drastiese koste, wat ongetwyfeld deur die maghebbers erken word.  Die vraag is nie of hierdie koste bestaan nie, maar of dit as die moeite werd beskou word.  Want dit sal ekonomiese koste wees, wat deur die hele land gedra sal word, terwyl die voordele as politieke wins gesien word wat deur die party geoes sal word.

Die beskouing is dat ’n nuwe ekonomiese en maatskaplike orde oor die langer termyn sal ontwikkel – een wat regverdig en moreel meerderwaardig is en waarin ’n behoorlik bemagtigde en welwillende staat ’n toekoms van oorvloed vir almal kan lewer.  (Terloops, die lesse wat uit hierdie perspektief van Zimbabwe geleer kan word is minder oor die gevare van ekonomiese ineenstorting as wat dit gaan oor die verlenging van regering deur ’n bevrydingsbeweging, strategieë vir beleidsuitvoering ondanks ‘teenrevolusionêre’ weerstand en die herstabilisering van ’n nuwe samelewing – waarvan die laaste punt ’n onafgehandelde taak is.)

Dit is ’n koste-voordeel-berekening wat uitstekende sin maak vir baie wat gesagsposisies in Suid-Afrika beklee.  Dit is ook ’n waarskuwing oor die vestiging van hoop op die idee dat president Ramaphosa gekant is teen OSV en besig is om die ‘langtermyn-spel’ te speel.  Wat sy persoonlike geneentheid ook al mag wees, sal sy dade minstens so sterk deur politieke dryfvere as deur hul onvermydelike ekonomiese gevolge gerig word.

(Trouens, heersende realiteite – veral ’n staat wat onbevoeg gemaak is –  sou enige kans op sukses met die bestuur van die proses verswak, maar om ideologiese redes sal hierdie oorweging waarskynlik grootliks buite rekening gelaat word.)

Die aanslag op eiendomsregte het in elk geval stellig te vining beweeg en het te prominent geraak vir president Ramaphosa om nou sonder probleme terug te draai.  Hy het self tot hierdie momentum bygedra – dit is moeilik om te dink aan ’n ander saak waaraan hy soveel oordrewe en moreel gelaaide ondersteuning verleen het.  Die vraag oor of hy bereid sou wees om die ekonomiese skade met die voortsetting van OSV te aanvaar sou beantwoord moes word deur sy instemming om ’n konstitusionele wysiging te lei.

Die veldtog vir OSV verteenwoordig ’n diepgaande gevaar vir Suid-Afrika.  Dit laat ’n mens wonder hoe om te reageer.  Ons by die Instituut vir Rasseverhoudinge was nog altyd ten gunste van sterk, onomwonde teenkanting teen slegte idees – nou niks minder as onder apartheid nie – want aktiewe burgerskap vereis dit.  Daarom het ons ons duidelik uitgespreek in die weerstand teen OSV.  Ons nooi alle Suid-Afrikaners wat ’n voorspoedige toekoms soek uit om by ons aan te sluit.

Ander mense moet natuurlik self besluit oor die standpunte wat hulle wil inneem.  Dit is egter noodsaaklik dat hulle ’n duidelike begrip moet hê van die realiteite wat bestaan.  Enigiets anders sal waarskynlik net neerkom op ’n onderhandeling oor die voorwaardes van hul eie ondergang.

Terence Corrigan is projekbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge.  Lesers word genooi om by die Instituut vir Rasseverhoudinge aan te sluit in ons teenkanting teen die instelling van onteiening sonder vergoeding deur ’n SMS na 32823 te stuur.

 https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/staal-jouself-vir-n-nuwe-paradigma-en-kies-dienooreenkomstig/

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi