Martin van Staden
Die ANC en DA stem saam: Ons het ’n ramptoestand nodig om die kragkrisis te beëindig.
Die regering het in 2020 en 2021 dit duidelik gemaak dat hy die magte wat die Rampbestuurswet aan hom verleen vir ramptoestande beskou as soortgelyk aan die magte wat hy in ’n noodtoestand sou hê. Dit is ’n gevaarlike vertolking van die reg en Suid-Afrika moet liewers vandag nie dieselfde pad stap nie.
Die mensdom is veronderstel om belangrike lesse uit die geskiedenis te leer. Indien ons met baie onlangse geskiedenis werk, is daar nie regtig ’n verskoning indien dié lesse nie geleer word nie.
Van die Kaap tot die Limpoporivier was Suid-Afrika vir byna drie jaar onder ’n nasionale ramptoestand. Ingevolge dié ramptoestand is ’n reeks “inperkings” deur middel van ministeriële regulasies – nie parlementêre wetgewing nie – in werking gestel.
Dit was veral ministers Ebrahim Patel en Nkosazana Dlamini-Zuma wat die ramptoestand gebruik het om onder meer die verkoop van warm hoender, ooptoon-plakkies, tenktoppies, tabak en alkohol te verbied. Aandklokreëls is ingestel. Miljoene Suid-Afrikaners se werk is as “nienoodsaaklik” geklassifiseer wat beteken het hulle moes by die huis sit en van die werk af wegbly.
Duisende ondernemings het inkomste verloor en ander moes permanent sluit. Ekonome by die Universiteit van die Witwatersrand skat dat sowat 2,2 miljoen Suid-Afrikaners hul werk in die eerste maande van die inperking verloor het.
Deur dit alles was daar min sprake van grondwetlike regte en burgerlike vryhede en nog minder sprake van konstitusionele beperkings op staatsmag.
Slegs politieke wil is nodig, maar daarvan is daar niks.
Die heersende sentiment in die regering, soos verwoord deur die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, was dat die regering gebruik moet maak van watter magte hy ook al het, insluitend die beperking van vryhede, om die verspreiding van die virus te beveg.
Die Grondwet maak voorsiening vir noodtoestande waar regte opgeskort mag word onder beperkte omstandighede. Maar ons was nooit onder ’n noodtoestand nie – slegs ’n ramptoestand. Die Suid-Afrikaanse regering het nietemin die ramptoestand soos ’n noodtoestand aangewend.
Die risiko wat burgerlike vryhede en ekonomiese belange in gevaar stel is te groot.
Dit is die lesse uit die onlangse geskiedenis – lesse wat ons nie so gou behoort te vergeet nie.
Ons maak ’n groot fout indien ons dink die regering sal nie weer ramptoestandmagte só misbruik ten koste van konstitusionele instellings nie. Politici is altyd in die versoeking om hul mag uit te brei.
Pres. Cyril Ramaphosa is wêreldwyd geprys vir sy “beslissende leierskap” en die regering se inperkingsbeleid in die Covid-19-pandemie. Vandag hoop politici dat om nou wéér ’n ramptoestand te verklaar vir hulle soortgelykeplus-punte gaan wen.
Dit is heeltemal binne die regering se huidige mag om die kragkrisis tot ’n einde te bring – buitensporige maatreëls soos ’n ramptoestand is onnodig.
Slegs politieke wil is nodig, maar daarvan is daar niks. Hoewel die regering dus in werklikheid niks aan die kragkrisis wil doen nie, sal ’n ramptoestand dit laat lyk asof hulle dit baie ernstig opneem.
So wat is die praktiese oplossings vir die kragkrisis?
Eskom moet toegelaat word om mensehulpbron-kwessies beslissend te hanteer. Dit beteken dat sogenaamde saboteurs afgedank en strafregtelik vervolg moet word. Oortollige werknemers en dié wat nie uitmuntende diens lewer nie moet ook afgedank kan word sonder die risiko van duur KVBA- of hofprosesse, en beslis sonder die bedreiging van ontwrigtende stakings. Om dit te bewerkstellig moet die parlement nodige veranderinge aan Suid-Afrika se arbeidswette maak, óf ’n spesiale arbeidswet vir die kragsektor aanvaar.
Eskom en die kragsektor moet ook vrygestel word van oorwegings wat nie bydra tot grootskaalse kragopwekking nie, soos swart ekonomiese bemagtiging en vereistes vir plaaslike inhoud in die verkrygingsketting asook lastige en vertragende omgewingsimpakstudies.
Waarheen is jy op pad?
Die president het in Julie 2021 aangekondig dat huishoudings en ondernemings wat oorskot-sonkrag opwek dit aan die netwerk kan terugverkoop. Hierdie beleid is nog nie in werking nie.
Volgens die Solidariteit-navorsingsinstituut het Viëtnam tussen 2017 en 2020 16 660 MW se sonkrag tot hul netwerk gevoeg met ’n soortgelyke beleid.
Die Kaapstad-metro meen hulle sal sélf dié beleid implementeer, maar dit sal ’n wesenlike verskil maak indien Eskom oor die land heen die president se opdrag volg.
Hierdie voorstelle is alles onmiddellike korttermynoplossings.
Daar is ook langtermynoplossings wat oorweeg moet word. Dit sluit in dat Eskom heeltemal of gedeeltelik geprivatiseer moet word. Verkoop kragstasies aan ondernemings wat die infrastruktuur in stand sal hou en sal uitbrei. Eskom moet ook sy monopolie verloor, veral op steenkool en kernkrag. Laat die private sektor toe om gebruik te maak van hierdie kragbronne, en onthou om hulle ook vry te stel van oorwegings wat in dié stadium irrelevant is, soos omgewingsimpakstudies wat te veel tyd en detail verg.
Suid-Afrika het slegs vandag beurtkrag omdat die ANC-regering nie sy eie kragbeleid van 1998 nagekom het nie wat bepaal het dat grootskaalse deelname van die private sektor in die bedryf aangemoedig sou word.
Hierna het die regering óók nagelaat om bykomende steenkool- en kernkragstasies te bou. Daarby het die ANC-regering ook sy tyd en belastingbetalers se geld op “transformasie”- oorwegings gemors, wat die deure vir korrupsie in die aankoopproses wawyd oopgemaak het. Die kersie op die koek is dat onvoldoende instandhouding op bestaande infrastruktuur gedoen is.
Die stappe wat sekere munisipaliteite en provinsies gedoen het om onafhanklik van Eskom te word kan dalk tersyde gestel word.
’n Ramptoestand, wat oënskynlik vir die regering aansienlike addisionele magte verleen, moet nooit gebruik word om ’n krisis op te los wat dieselfde regering veroorsaak het nie.
Wat kan ons verwag indien ’n ramptoestand vir die kragkrisis ingestel word? Met terugskouing op die Covid-19-inperkings kan ’n mens bespiegel:
’n Nasionale kragbevelsraad. Die goeie en noodsaaklike stappe wat sekere munisipaliteite en provinsies onder opposisie-regering gedoen het om onafhanklik van Eskom te word kan dalk tersyde gestel word deur dié sentrale raad.
Strenger beurtkrag in die algemeen en vir areas met “nienoodsaaklike” ondernemings en huishoudings in besonder.
’n “Tydelike” verbod op die verkoop van kragintensiewe toestelle en gereedskap, soos elektriese geisers, ketels en swembadpompe.
Indien dit onredelik klink, onthou maar net die verbod op warm hoender en plakkies. Onthou dat die polisieminister Bheki Cele mense van strande af gejaag het. Daar blyk geen perke te wees aan die absurditeite waaraan hierdie regering homself kan skuldig maak nie.
Die DA en ander burgerlike-samelewingsinstellings wat ’n ramptoestand vir die kragkrisis onderskryf, moet verstaan dat dit in die finale instansie die ANC-regering gaan wees wat dit in werking stel, ongeag bykomende “beperkings” wat die opposisie daarby ondersteun.
Die risiko wat Suid-Afrikaners se burgerlike vryhede en ekonomiese belange in gevaar stel, sou daar nog ’n ramptoestand wees, is te groot.
Martin van Staden is adjunkhoof van beleidsnavorsing by die Instituut vir Rasseverhoudinge.