
Hermann Pretorius
Suid-Afrikaanse kiesers het nie nóg onnodige staatsregulering nodig nie, maar juis eerder die vryheid van inligting, skryf Hermann Pretorius.
ActionSA se onlangse wetsvoorstel om die publikasie van meningspeilings in Suid-Afrika te reguleer is onnodig en boonop fundamenteel onnosel en duister.
Dit lê ’n gevaarlike wanpersepsie bloot van hoe inligting, aanspreeklikheid en mededinging in ’n vrye samelewing in balans moet wees.
Peilings, net soos joernalistiek of politieke kommentaar, is immers ’n vorm van spraak. Om dit te probeer reguleer is om uitdrukking te beperk. Erger nog, dit impliseer dat burgers nie vertrou kan word om inligting vir hulself te interpreteer nie.
Só ’n benadering staan lynreg teen die gees van ’n demokrasie wat uiting vind in vrye burgerlike deelname, ope debat, meningsverskille en die uitruil van idees.
Die geloofwaardigheid van instellings soos die Instituut vir Rasseverhoudings (IRR) se peilingsverslae is hul brood en botter. Ek werk vir die IRR en skryf sedert 2024 hul peilingsverslae.
Die IRR funksioneer in ’n oop en mededingende mark waar akkuraatheid en metodologiese integriteit die enigste ware maatstawwe is.
Enige instellings wat herhaaldelik misleidende of foutiewe peilingsdata publiseer, sal vinnig aansien verloor en daarmee ook hul inkomste – kliënte wil immers nie hul marknavorsing deur amateurs laat doen nie.
In die geval van niewinsgewende organisasies soos dinksentrums stel finansiers waardevolle, akkurate navorsing hoog op prys.
In werklikheid sal geen wet peilingsentiteite meer kan aanspoor om akkuraat en betroubaar te werk as voorafgenoemde drukfaktore nie.
Om staatsregulering oor peilings af te dwing sal ironies genoeg juis die verdraaiings skep wat ActionSA sê hul voorgestelde wet moet voorkom.
ActionSA wil hê die staat (’n entiteit deurspek met politieke belange) moet die almagreg hê om te besluit watter peilings aan staatstandaarde voldoen, watter metodologieë aanvaarbaar is, en selfs watter interpretasies van data “toelaatbaar” is.
’n Ruimte van mededinging vir akkuraatheid en besigheid word só ’n bottelnek van staatsgoedkeuring en hekwagte.
Sou ActionSA se waansinnige plan werk, sal navorsers sinies gedwing word om hul werk so te ontwerp om politieke belange tevrede te stel, eerder as om die belange van die publiek op die hart te dra.
Om selfs die studie van openbare mening so onder die mag van die staat te plaas is ooglopend en voorspelbaar die dood van vrye ondersoek en intellektuele eerlikheid.
ActionSA voer aan dat peilings verkiesings kan manipuleer. Dit is seker teoreties moontlik, maar in die Suid-Afrikaanse konteks is die idee belaglik.
Die realiteit is dat die meeste kiesers skaars politieke nuus en politieke gebeure volg en maar vaagweg, indien enigsins, bewus is van peilingsuitslae.
Peilingsinligting van instellings soos die Social Research Foundation (SRF), Afrobarometer of die IRR beland soms in die media, maar hul werklike reikwydte in die breër kieserskorps is eenvoudig beperk.
Kiesers se gedrag op stemdag word veel meer wesenlik beïnvloed deur hul materiële omstandighede, identiteit, lojaliteit en plaaslike omstandighede en ervarings as deur enige peiling.
Die idee dat meningspeilings verkiesingsuitslae in Suid-Afrika manipuleer, gee mense soos ek enorme mag wat ons eenvoudig nie het nie. Glo my, die vermoë om ’n verkiesingsuitslag te kan swaai is iets wat ek met graagte op my CV sou wou sit…
Selfs al sou peilings ’n geringe invloed op die realiteit hê, regverdig dit nie die drakoniese sensuur waarvoor ActionSA hom beywer nie.
In elke demokrasie beïnvloed allerlei inligting meningsvorming. Dit is eenvoudig hoe dinge werk. Om die publikasie van peilings te beperk, sal nie lei tot meer eerlike pogings en bronne van invloed nie, maar net tot meer invloed wat deur politici en amptenare bestuur word.
Deursigtigheid versprei mag. Regulering konsentreer dit.
Die bestaan van verskeie onafhanklike peilingsmaatskappye is op sigself die beste beskerming teen die soort manipulasie wat ActionSA aanvoer.
Wanneer verskeie entiteite op dieselfde tyd meningspeilings uitvoer, dien hul resultate as ’n vorm van portuurkontrole. Afwykings staan duidelik uit.
As een peiling skielik wys ’n party se steun verdubbel, terwyl ander stagnasie aandui, wek dit juis ondersoek en debat.
Joernaliste, ontleders en mededingende peilingsentiteite vergelyk metodologieë en vra vrae. Só ontstaan waarheid in oop samelewings: deur mededinging, nie beheer nie. Wat politieke peilings juis objektief meetbaar maak, is die verkiesingsuitslag waarteen dit opgeweeg kan word.
Suid-Afrika het die laaste paar jaar voordeel getrek uit die pluralisme van peilings. Die SRF, MarkData, Ipsos, die Brenthurst-stigting en die IRR publiseer elk hul eie peilings, dikwels met uiteenlopende resultate.
Politieke partye soos ActionSA het al self sulke peilings gepubliseer – in minstens een geval binne die sewe dae voor ’n verkiesing wat ingevolge hul eie wetsontwerp tronkstraf sou kon meebring!
Dié peiling, wat op 26 Oktober 2021 (ses dae voor die plaaslike regeringsverkiesing) op hul webtuiste geplaas is, het gewys dat ActionSA, die ANC en die DA binne enkele punte van mekaar was in Tshwane. Skaars ’n week later wys die verkiesingsuitslag dat ActionSA se peiling hul steun met nagenoeg 150% oorskat het.
En tog moet ActionSA die reg hê om sulke peilings te publiseer. Juis met ’n verskeidenheid peilings in die openbare domein word politieke debat en gesprek in Suid-Afrika verryk.
Hoekom was hierdie peiling reg en daardie een verkeerd? Watter metodologie is gebruik?
Ek het gevind dat sulke gesprekke juis ’n geleentheid bied om die algemene begrip van peilings, steekproefontwerp en weging te bevorder. Geen demokrasie word versterk deur kiesers van hierdie tipe insig te ontneem nie.
ActionSA se voorstel verraai ook ’n diep wanbegrip oor hoe vryheid van spraak en data juis demokrasie verskans.
Toe onafhanklike peilings in 2024 herhaaldelik gewys het die ANC se steun daal onder 50%, het regeringsgesinde kommentators dit as kwaadwillige fiksie afgemaak. En toe kom stemdag en die peilingswaarskuwings van ’n ANC met minder as 50%-steun word bevestig.
Sonder die waarskuwings van ’n hele rits peilings oor maande heen tot net voor stemdag, sou die publiek minder voorbereid gewees het op die politieke omwenteling.
Peilings bedreig nie die demokrasie nie, dit bied juis sekuriteit.
Volgens Mandy Wiener se boek The Deal het pres. Cyril Ramaphosa in 2024 verwag dat die ANC 54% van stemme sou kry.
Dit is nie moeilik om jou in te dink dat ’n paniekerige regerende party sensuurmag sal wil gebruik om alle data-tekens van sy wankelrige mag voor ’n verkiesing te verdoesel nie, en dalk selfs die kans sal vat om die uitslag te bekook.
In 2024 was dit juis die vloei van onafhanklike data wat gehelp het om die omvang van verkiesingsbedrog in Venezuela se presidensiële verkiesing bloot te lê.
Terwyl die Maduro-regering amptelike syfers uitgereik het wat duidelik onversoenbaar was met die verwagte uitslae, het verskeie nieregeringsinstellings se peilings en parallelle stemtellings die waarheid van ’n opposisie-oorwinnig ontbloot.
Die staat kon nie alle data beheer nie en dit het aan plaaslike waarnemers, die internasionale media en burgerlike organisasies die basis gegee om onreëlmatighede te identifiseer en te dokumenteer.
Suid-Afrika gaan reeds gebuk onder politieke inmenging en die laaste ding wat ons nou nodig het is ’n verdere beperking op vryheid van inligting en denke.
’n Selfversekerde demokrasie vrees nie insig of data nie. Dit debatteer dit. As ActionSA meen sekere peilings is onakkuraat, is die antwoord eenvoudig: publiseer beter peilings, wys beter metodes, en leer kiesers hoe om die data self te beoordeel. Dít is demokratiese volwassenheid. Regulering, daarteenoor, is ’n vorm van benoude kinderagtigheid.
Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie vir die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) en outeur van Rule Breakers: How the 2024 Election Campaign Changed South Africa Forever.
