
Kunsmatige rassediversiteit lê die gebrek aan ware kreatiwiteit in die internasionale vermaaklikheidsbedryf bloot, skryf Hermann Pretorius.
Toe die lusmakervideo vir HBO se nuwe Harry Potter-reeks verlede week verskyn het, het ek skielik 25 jaar jonger gevoel.
Vir ’n oomblik was daar die bekende trekkrag van ’n wêreld wat vir my en miljoene ander kinders gewys het hoe stories misterie, morele gewig en emosionele diepte kan dra. J.K. Rowling se Potter-reeks het ’n groot rol gespeel in die kweek van my leesliefde.
Deesdae is my boekrakke meer biografie, geskiedenis en ekonomie as fantasie. Westminster-paleis eerder as Hogwarts-kasteel.
Maar tog, toe dié video op my YouTube-skerm verskyn, kon ek nie anders nie as om te kyk of ek saam met my 11-jarige self weer Hogwarts toe kon gaan. En ek sou jok as ek sê dat daar nie ’n flikker van die betowering van avontuur in die eerste deel van die video was nie.
Maar toe, eensklaps, is die toorkrag weg. Verwondering en nostalgie maak plek vir teleurstelling. Die ontnugtering kom met die kort verskyning van Paapa Essiedu in die sleutelrol van prof. Severus Snape.
Essiedu is ’n goeie akteur. Dis nie sy skuld dat sy verskyning my koud laat en eensklaps van die verhaal vervreem nie. Jy sien, anders as die bleek, vaal, melkkleurige Snape van die boekreeks, is Essiedu swart.
Dis nie sy ras op sigself wat my afsit nie. Dis nie dat ek ’n kras beswaar wil maak teen die teenwoordigheid van swart akteurs in geliefde hoofrolle nie.
Ek het min tyd vir die wilde samesweringsidee dat mense of karakters met wie ek toevallig ’n velkleur deel, kranig uitgewis word. Ek het nie slapelose nagte as iemand aan een van die gunstelinge uit my kinderdae torring nie.
My beswaar teen die rolkeuse het min te make met identiteit of besitlikheid, en veel eerder met die gebrek aan kreatiwiteit wat daardeur blootgelê word.
Dis eintlik deel van ’n groter tendens dat stories deesdae ideologies benader word. En hoe deugpronkery bo die eise van kreatiwiteit en goeie ou storievertelling verhef word.
Oor die afgelope dekade of so het rasseverteenwoordiging ’n gonswoord in die vermaaklikheidsbedryf geword. Karakters is nie meer bloot deel van ’n verhaalnarratief nie, maar daar word aangedring dat hul bepaalde ideologiese standpunte oor maatskaplike en politieke kwessies moet verteenwoordig, veral ten opsigte van identiteitskonflikte en kritiese teorieë oor ras en geslag.
Ek is nie mal daaroor as vermaaklikheid só vervorm word nie. Maar as hierdie ideologie van verteenwoordiging dan nou as belangrik beskou móét word, bring dit sekerlik ’n verpligting mee om steeds die bestaande stories darem kreatief te herskep.
Tog wil dit voorkom of ’n aanslag van storie eerste te veel van die ideoloë in die Hollywood-masjien vra.
Die kreatiwiteit om stories steeds meesleurend te vertel, verg werk. Dit verg verbeelding. Dit verg die skep van karakters wat samehangend binne hul fiksiewêrelde bestaan en op hul eie terme oortuigend bly om die kyker of leser saam te neem na ’n buitengewone bestemming.
Maar pleks daarvan word die vrag van blatante ideologie bloot aangehaak aan die lokomotief van die storie. Van ware integrasie is daar nie sprake nie.
Om ’n swart akteur soos Essiedu, talentvol soos hy is, in die rol van ’n karakter soos Snape te plaas, is nie net sommer ’n blote verruiling van kleur wat die res van die storie onaangetas laat nie. Dis asof die vervaardigers totaal en al miskyk dat ’n karakter se identiteit nie sekondêr tot hul narratiewe rol of die kyker of leser se ervaring is nie.
Dis asof hulle miskyk dat die kwessie van ras reeds allegories in die Potter-verhaal ingewerk is deur middel van Voldemort se obsessie met “suiwer bloed”. Om dan só lui te wees om nie eens tematies raak te sien dat rassisme en ras versigtig hanteer moet word nie, is eintlik nogal skokkend.
Dit verander die hele geliefde dêm storie. Snape se fisieke voorkoms, sy maatskaplike stand en agtergrond, sy innerlike geheime en eienaardighede, die manier waarop ander karakters hom lees – dit alles voed die lang, noukeurig volgehoue dubbelsinnigheid en intrige oor sy lojaliteite in die verhaal.
Rowling skryf Snape as ’n spesifieke soort buitestander, gevorm deur ’n spesifieke stel ervarings binne die wêreld van haar verhaal.
Net só word belangrike tematiese karakters noemenswaardig geraak deur ’n skielike rasseruiling. Harry se pa word nou die welaf wit boelie wat ’n ongewilde swart seun uit ’n arm huishouding geteister het. Harry se ma word die wit meisie wat ’n arm swart seun se liefde weens rassisme verwerp het. Die skade kring amper komieklik en onnosel wyer uit. Die enigste onderwyser by Hogwarts met ’n misdaadgeskiedenis is nou die swart man uit ’n gebroke huishouding!
Genade tog, watter anti-swart stereotipes wil die vervaardigers nog bybring? Sulke storie-ongemaklikhede is tematies rampspoedig vir die samehang van dié gewilde verhaal. Maar die vervaardigers is tevrede. Hulle het immers die ideologiese boksie van rasseverteenwoordiging afgetik.
Dis duidelik dat dieselfde bedryf wat volhou dat identiteitsverteenwoordiging noodsaaklik is, uit oënskynlike luiheid die mees voor die hand liggende manier om dit volhoubaar en oortuigend en kreatief te bereik, vermy: deur nuwe stories te vertel, te belê in narratiewe uit verskillende geskiedenisse, kulture en ervarings, en swart karakters, Asiatiese karakters, of enige ander, van nuuts af oortuigend te skep. Of, in die geval van hervertellings, soos HBO se Potter-produksie, minstens al die kreatiewe moontlikhede behoorlik te ontgin ter wille van die verhaal se samehang.
As ’n praktiese voorbeeld: In die Harry Potter-storie is daar bestaande, kanonieke storielyne wat veel ryker resultate sou oplewer as groter rassediversiteit jou doel is. Karakters soos Kingsley Shacklebolt, wat van die begin af swart is in Rowling se boeke, kon uitgebrei, verdiep en groter narratiewe impak gekry het. Om so ’n karakter slim te ontwikkel sou ’n eerlike daad van kreatiwiteit wees. Dit sou uitwaarts bou op ’n wêreld waarop miljoene verlief geraak het.
Maar die vervaardigers kies eerder die maklike en vinnige roete.
Om ’n gevestigde karakter, of dit nou Snape of Anne Boleyn is, se ras bloot te verander is nie ’n kreatiewe of selfs brawe deugdaad nie.
Dit neem bloot iets wat reeds bekend of gelief of finansieel veilig is, en pas ’n minimale verandering toe wat dan sinies as ’n ideologiese oorwinning verkoop kan word. Dit trek aandag en verkondig die ideologiese vroomheid van die vervaardigers, maar vermy die veel moeiliker taak van werklike skepping.
Hierdie rasruilstreke bied ten beste ’n kosmetiese weergawe van insluiting en verteenwoordiging. Die ironie is natuurlik dat dit wat trots as progressief voorgehou word, in praktyk diep konserwatief is. Dieselfde stories word maar net oor en oor vertel. Wit karakters in blackface verander niks aan die verhale wat op skerm vertel word nie. Dit is die BEE van die silwerdoek: simboliek eerder as werklike vooruitgang.
En vir dié van ons wat omgee vir stories, nie as siniese voertuie vir ideologie nie, maar as avonture of ervarings wat meesleur, is die effek ontnugterend.
Die towerspreuk word elke keer gebreek.
Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie vir die Instituut vir Rasseverhoudinge en skrywer van die boek Rule Breakers: How the 2024 Election Campaign Changed South Africa Forever (Protea).
