Hermann Pretorius.
Uit verskeie databronne kan ’n mens vandag die nasionale steun vir die ANC, tot onlangs Suid-Afrika se politieke kolos, skat op sowat 30%. Hierdie daling in steun van net kort van 70% in 2004 tot minder as die helfte vandag is op sigself merkwaardig, maar amper méér verstommend is die ontluikende werklikheid dat die ANC waarskynlik binne die volgende dekade nóg verder gaan tuimel. Die kernvraag is dus waarheen ANC-kiesers hul steun neem wanneer hulle die eens dominante party verlaat.
Om hierdie vraag met enige werklike sekerheid te beantwoord is onmoontlik, maar huidige data bied tog nuttige insig in die politieke dinamiek wat hom waarskynlik gaan uitspeel. Die Social Research Foundation (SRF) het sedert 2022 ’n belangrike en geloofwaardige bron van peilings oor Suid-Afrika se politieke ekonomie geword.
Die SRF se rou data is vir doeleindes van ’n ANC-oorlopermodel besonder nuttig omdat dit nie net partyvoorkeur peil nie, maar ook hoe gunstig kiesers teenoor elke party voel, hul sienings van die regering van nasionale eenheid (RNE), hul mening rakende die rigting van die land se huidige trajek, en hul opinies oor ekonomiese beleid.
In ooreenstemming met standaardpraktyk is die steekproef verteenwoordigend van die nasionale bevolking en laat dus ontleding aan die hand van verskeie merkers toe. Hierdie merkers sluit in ras, taal, inkomste, opleiding, ouderdom en residensiële omstandighede. Uit die sofistikasie van hierdie datastel word dit moontlik om, met versigtige aannames, te modelleer hoe ANC-onttrekkings moontlik gaan lyk.
Uit die SRF-data het ek ’n “lojaliteitsindeks” saamgestel wat meet hoe vas verskillende ANC-ondersteunersgroepe aan die party kleef. Ses peilingsmaatstawwe word gekombineer en geweeg volgens belangrikheid. Gesindheid jeens die ANC weeg die swaarste, gevolg deur gesindhede teenoor die RNE, die land se positiewe of negatiewe trajek en die rol van die staat ten opsigte van sosio-ekonomiese beleidskwessies. In hierdie verband word ANC-kiesers se standpunte rakende kwessies soos onteiening en staatsbeheer ook oorweeg, hoewel in ’n mindere mate.
Deur hierdie komponente van die indeks saam te voeg, word ’n groeperingspektrum van ANC-kiesers se lojaliteit aan hul party geskep en die onderskeie groepe bepunt.
Lae tellings dui op kiesers wat reeds in gesindheid koeler of minder gunstig teenoor die ANC, ten gunste van die RNE, pessimisties rakende die land se oorhoofse trajek, en ideologies meer markgeoriënteerd is. Daarenteen wys hoë tellings op ’n warmer, meer goedgesinde gesindheid teenoor die ANC, ’n staatsgesinde ingesteldheid en ’n afkeer van die RNE.
Waarheen kiesers oorloop
’n Redelike, funderende aanname word gemaak: Oorlopers van die ANC na ander partye gebeur in ’n volgorde van laer na hoër tellings op die lojaliteitsindeks.
Waarheen hierdie oorlopers dan gaan, kan redelikerwys op twee maniere gemodelleer word. Die “beleidsankermodel” stuur kiesers na partye wat hulle reeds hoog aanslaan of ideologies mee saamstem. Die “identiteitsankermodel” plaas kiesers volgens demografiese lyne wat reeds sigbaar is in die moontlike bestemmingspartye – daar is byvoorbeeld ’n hoë waarskynlikheid dat Zoeloesprekende kiesers hul steun na die MKP of die IVP sal skuif, en bruin kiesers dieselfde ten opsigte van ’n oorloop na die PA of die DA.
Só word elke identiteitsanker van huidige ANC-kiesers oorweeg in die konteks van ander partye met soortgelyke kiesers. Omdat kiesers hul besluite by die stembus neem gegrond op ’n kombinasie van sowel beleids- as identiteitsoorwegings, word in hierdie oorlopermodel ’n gemengde model gebruik wat idees sowel as identiteit oorweeg.
Namate die ANC se steun wegsypel, gebeur oorlopery as’t ware in vlae.
Dit baat die DA, maar . . .
Soos wat die ANC se steun daal van 30% tot 25%, val veral jonger, Engelssprekende middelklaskiesers in stede weg. Uit hierdie vlaag skuif nagenoeg die helfte van ANC-oorlopers na die DA, met kleiner strome wat na die PA, MKP, EFF en IVP vloei. Die slegte nuus vir die DA is dat hierdie vlaag van ANC-oorlopery eintlik die enigste een is waar die party die grootste groep kiesers trek.
Met ’n verdere daling in ANC-steun van 25% tot 20% skeur meer staatsgesinde en oorwegend Zoeloesprekende stemgeregtigdes van die party los. Aan die hand hiervan groei die MKP sterk in hierdie vlaag. Die EFF trek voormalige ANC-kiesers van ’n meer ideologiese aard buite die Zoeloe-identiteitskraal, en die IVP groei effens te danke aan ouer, meer tradisionalistiese Zoeloes. Die DA absorbeer sy laaste oorblyfsels van ANC-kiesers met lae lojaliteit, maar sien hierna ’n amper totale afplatting van voordeel uit verdere ANC-steundaling.
As selfs die landelike kiesers loop
Met ’n ANC-steunverlies van 20% tot 15% begin selfs die ANC se landelike kiesersbasis verbrokkel. Die MKP en die IVP groei as gevolg hiervan, aangesien albei landelike groeipotensiaal as gevolg van ’n identiteitsgedrewe skuif het, en die EFF vind baat uit ANC-oorlopers wat meer deur ideologiese, Marxistiese oorwegings gedryf word. Die PA hou aan om ANC-verlaters onder bruin kiesers lok, maar net soos die DA is sy grootste groeikans in die eerste vlaag van oorlopers uit ’n ineenstortende ANC te vinde. Anders as die DA sien die PA wel ’n meer stabiele vloei van kiesers wat die ANC verlaat.
Namate die ANC se steun van 15% tot 10% daal, kraak selfs die party se geharde lojalistebasis. Ideologies staatgesinde pro-onteieningskiesers skuif hoofsaaklik na die MKP en die EFF, met die IVP wat steeds ouer tradisionaliste toevoeg uit die ANC se krimpende landelike steun.
Die bittereinders
Teen die tyd dat die ANC die enkelsyfers bereik en van 10% tot 5% daal, is die gehardste van die gehardes die party se bittereinders. In hierdie oorloopvlaag behou die MKP en die EFF hul voordeel in momentum, met die IVP wat die ANC in sy laaste landelike buiteposte in KwaZulu-Natal vervang.
Hierdie model, met die nodige caveat van datagegronde bespiegelende ekstrapolasie gemaak, wys dat die ANC se agteruitgang nie een nuwe oorheerser oplewer nie, maar steun oor verskeie partye heen versprei. In die mate wat die ANC se steun aanhou daal, beweeg Suid-Afrika toenemend in die rigting van ’n gefragmenteerde, multipolêre politieke landskap van intense mededinging.
Die krisis waarin die ANC tans is, kan nie oorbeklemtoon word nie. Die moontlikheid van ’n 5%-ANC binne die volgende dekade gaan toenemend ’n realistiese oorweging in politieke ontleding word. Die besef van die haglike toestand van sy steun lê waarskynlik agter die ANC se onlangse erkennings van swakheid, wat hierdie week uitgeloop het op Ramaphosa se ongunstige vergelyking van sy party se prestasiegeskiedenis met dié van die DA.
Die doodspiraal
Na my mening is die ANC institusioneel nie daartoe in staat om uit sy doodspiraal te ontsnap nie. Daar is nie net onsekerheid oor wie die vliegtuig vlieg nie, maar selfs oor waar die kajuit geleë is: die Uniegebou, Luthuli-huis, of waar Paul Mashatile hom toevallig bevind?
Op elke vlak van partyfunksie is die ANC meer gefragmenteerd, uitgehol en faksioneel as ooit tevore.
Onsamehangende partye kan nie samehangend op krisisse reageer nie. As die ANC byvoorbeeld probeer om die swart middelklas te behou om die DA te stuit, verloor hy ander aan die MKP, die IVP of die EFF. As dit aan laasgenoemdes vasklou, verloor hy die middelklas aan die DA en waarskynlik kleiner partye soos Rise Mzansi. Die mate waarin sy eertydse oorheersing die ANC se veelvuldige skeure toegepleister het, word nou in die afwesigheid van daardie dominansie dramaties ontbloot.
So bespiegelend as wat hierdie ontleding dalk kan wees, al is dit na die beste van my vermoë op redelike aannames en geloofwaardige data gegrond, is een ding onteenseglik duidelik: Dit is tyd vir alle Suid-Afrikaners om proaktief te begin dink aan hoe ’n Suid-Afrika post-ANC die uitdagings van hierdie eens magtige party se skokkende nalatenskap gaan moet trotseer.
Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie by die Instituut vir Rasseverhoudinge