
In die laaste weke het ek en Christo van der Rheede van die FW de Klerk-stigting heftige dog nuttige openbare debat begin voer.
Die debat het vlamgevat toe ek Van der Rheede in ’n Rapport-stuk oor die mite van ’n wit volksmoord gekritiseer het omdat hy die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) se Raswet-indeks as “kwasi-navorsing” afgemaak het. Uit sy reaksie ’n week later, het die gesprek egter vinnig uitgekring na ’n veel groter beginselsaak: of regstellende beleid, en die wetlike onderskraging daarvan, rasgegrond mag wees, of selfs rasgegrond móét wees.
Op 24 Mei het Van der Rheede in Rapport lofwaardig geskryf oor die belangrikheid van nie-rassige, behoeftegegronde opheffing. Hy skryf dat Suid-Afrika nie onbepaald ’n staatsmodel kan volhou wat om “permanente rasseadministrasie” gebou is nie. Hy skryf dat voortdurende rasseklassifikasie toenemend stomp, skadelik en patronaatsgevoelig geword het. Hy argumenteer dat die sterkste grondwetlike pad nou lê in behoeftegegronde opheffing, met beleid wat werklike sosio-ekonomiese kwesbaarheid identifiseer eerder as om onbepaald op rasseklassifikasie te steun.
Hy gee selfs toe die IRV se Raswet-indeks het “beskrywende nut”.
Die vernuf van sy pen was só dat ek begin wonder het waar op aarde ons dan verby mekaar gepraat het. As ons saamstem dat Suid-Afrika nie permanente rasseadministrasie kan volhou nie, as ons saamstem dat voortdurende rasseklassifikasie skadelik geword het, en as ons saamstem dat behoeftegegronde opheffing die beter pad is, waar lê die werklike geskil?
Die antwoord lê in Van der Rheede se eie gevaarlik rassige formulering van die saak.
In sy stuk van 10 Mei, waarin hy Suid-Afrikaners vra om die idee van “145 raswette” as ’n drogredenasie deur die IRV te verwerp, argumenteer Van der Rheede nie bloot vir die behoeftegedrewe regstelling soos hy twee weke later sou nie. Op 10 Mei tref hy uitdruklik ’n morele onderskeid tussen twee soorte rasgegronde wetgewing. Apartheidsera-raswette beskryf hy as “gif”, ’n beskrywing waarmee ek heelhartig saamstem, maar regstellende raswette post-1994 beskryf hy om een of ander rede as die “teenmiddel” om die skade van die verlede reg te stel.
Volgens hom lê die fout van die IRV se “145 raswette”-narratief daarin dat ons weier om “tussen die gif en die teenmiddel” te onderskei. Volgens die Van der Rheede van 10 Mei (met wie ek minder gemeen het as die Van der Rheede van 24 Mei), is daar wette wat ras regsrelevant maak wat “gif” is, en ander wette wat ras regsrelevant maak wat die “teenmiddel” is. Die IRV moet, volgens hom, nie die “gif”-raswette en die “teenmiddel”-raswette saam groepeer nie.
Die IRV se Raswet-indeks is ’n kategoriseringsinstrument. Dit vra of ’n wet ras regsrelevant maak. Dit sê nie dat elke wet op die indeks moreel identies aan apartheid is nie, en dit sê nie dat ’n post-1994-regstellingswet noodwendig dieselfde ten doel gehad het as iets so sinisters soos die Wet op Bevolkingsregistrasie nie. Die IRV se Raswet-indeks steek ’n meer nederige kleim af: As ’n wetlike instrument ras regsrelevant maak in werklike gevolge van diskriminasie, maak dit nie saak wat die bedoeling of gees agter die wet is nie – daardie wet is ’n raswet.
Van der Rheede kritiseer die IRV dus omdat ons pre- en post-1994-raswette in dieselfde indeks sonder onderskeid plaas.
En tog bevestig sy eie “gif en teenmiddel”-raamwerk juis waarom die indeks nodig is. Van der Rheede se kritiek van die indeks erken by implikasie dat daar ná 1994 wette is wat op rasgrond werk. Maar hy wil net hê hierdie post-apartheid-raswette moet moreel anders beoordeel word omdat hulle volgens hom op regstelling gemik is en daarom edel is.
In ons debat die afgelope Maandagaand op kykNET se In Gesprek met Lourensa Eckard het hy sy toleransie vir ten minste die beginsel van raswette en -beleid in soveel woorde bevestig toe hy weer die onderskeid probeer tref tussen sogenaamde “gif” en “teenmiddel”. “Voor ’94 het (wetgewing) mense uitgesluit op grond van ras,” het hy gesê. “Ná ’94 is dit veronderstel om mense in te sluit op grond van ras.”
Op grond van ras. Dit is hier waar dinge gevaarlik raak en waar Van der Rheede die FW de Klerk-stigting, en die edele hervormingsnalatenskap van sy stigter, in die steek laat.
Die grondwetlike deurbraak van 1990 tot 1996 was nie bloot dat geïnstitusionaliseerde wit oorheersing tot ’n val gebring is nie, maar dat die fundamentele konsep van ras as staatlike raamwerk in die finale teks van die Grondwet ontangel is. Deel van die buitengewone deug van ons Grondwet is juis dat dit, minstens tekstueel, die grootste statutêre sukses van die De Klerk-presidensie, die herroeping van die Wet op Bevolkingsregistrasie, vaslê in die fondament van ons konstitusionele orde.
Hierdie vaslegging in artikel 1(b), wat veronderstel was om ’n rasblinde staatsgesag te skep, se teregwysing van apartheid is nie dat dit slegs die bose ingesteldheid van ’n rasdiskriminerende bedeling veroordeel nie, maar ook vanuit eerste beginsels die statutêre meganismes belet wat so ’n bedeling in die eerste plek moontlik sou maak.
Om Van der Rheede se idee van ’n gifteenmiddel aan te pas tot ’n sinvolle, nie-rassige uitkoms: Die pre-1994-gif was nie net dat die staat wit bo swart en bruin verhef het nie, maar dat die staat homself die vermoë toegeëien het om enigsins op grond van ras te kan verhef.
Die teenmiddel vir hierdie gif is juis ’n einde aan die staat se vermoë om ras enigsins te kan aanwend. Dit is, anders as wat Van der Rheede argumenteer, nie “teengif”-raswette nie. Soos John Roberts, hoofregter van die Amerikaanse hoogste hof, in ’n 2007-uitspraak gesê het: “Die manier om diskriminasie op grond van ras te stop, is om op te hou diskrimineer op grond van ras.”
Die hartseer van die saak is dat Van der Rheede hierdie redelike en gematigde standpunt teen klassifikasie as absolutisties en ekstreem afmaak.
Indien dít die geval is, is artikel 1(b) van die Grondwet absolutisties en ekstreem, was die herroep van die Wet op Bevolkingsregistrasie absolutisties en ekstreem, en was pres. De Klerk self ’n ekstreme absolutis toe hy direk ná die herroepingstemming in sy parlementêre toespraak van 17 Junie 1991 gesê het: “Die stemmings wat pas plaasgevind het, en dié van die afgelope weke, het uiteindelik ’n era tot ’n einde gebring waarin die lewe van elke Suid-Afrikaner tot in die fynste besonderhede deur rasgebaseerde wetgewing geraak is. Nou is almal daarvan bevry. Nou is almal verlos van die beperkings wat uit daardie rasgegronde wetgewing voortgevloei het. Almal is ook bevry van die verkleinering en ontkenning wat so dikwels die gevolge was van die wetgewing wat ons nou herroep. En almal is bevry van die morele dilemma wat veroorsaak is deur hierdie wetgewing, wat onder ander omstandighede en in ’n vergange era gebore en gekoester is.”
Dit is hier waar Van der Rheede se skrywe van 24 Mei, ondanks die aantreklike taal van behoeftegegronde opheffing, nie die probleem oplos wat hy met sy gifteenmiddeldenke oor raswette van 10 Mei skep nie.
Grondwetlik gesproke, as artikel 1(b) se nie-rassigheid werklik die grondslag van die nuwe Suid-Afrika is, kan dit nie behandel word as gevaarlike “veto” oor regstelling waarteen Van der Rheede waarsku, nie. Sy waarskuwing maak net sin as hy redeneer vanuit die standpunt dat ’n sogenaamde ekstreme absolutistiese anti-klassifikasie-standpunt van volle nie-rassigheid op een of ander manier regstelling kan verhoed. Ál hoe dít so deur Van der Rheede as ’n risiko gesien kan word, is as hy, in lyn met sy onderskeid tussen “gif”-raswette en “teenmiddel”-raswette, ’n beletsel op raswette sien as ’n hindernis vir regstellende beleid. Sy standpunt van 10 Mei ondermyn sy behoeftegegronde standpunt van 24 Mei juis omdat hy aanvoer dat daar iets soos “teenmiddel”-raswette is.
Artikel 1(b) laat dit nie toe nie deurdat dié sê nie-rassigheid is juis die raamwerk waarbinne alle beleid, insluitend regstellende beleid, moet plaasvind. Struktureel, as ons die grondwetlike teks gaan eerbiedig, kan artikel 9(2) dus nie vereis dat die staat burgers weer volgens ras moet ken, tel en behandel nie. Artikel 9(2) verwys na persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is. As ons as land ernstig oor ons grondwetlike waardes wil wees, behoort daardie kategorieë as sosio-ekonomies eerder as histories rassig verstaan te word: arm huishoudings, kinders in swak skole, mense sonder werk, mense sonder bates, inwoners van vervalle munisipaliteite, landelike gemeenskappe, en almal wat deur swak openbare dienste en beperkte geleenthede vasgekeer word.
In ons TV-debat het Van der Rheede afgesluit met ’n waardige beroep tot eerlikheid. Ek beaam dit graag. Kom ons wees eerlik oor die ware gif en die werklike teenmiddel.
Eerlikheid vereis ook dat ons nie die regstellingsdebat versag deur die woord “ras” te vermy wanneer rasbeleid deur raswette van toepassing bly nie. Kom ons wees eerlik en erken dit sonder skroom en sonder enige vrees vir etikette soos “ekstreem” of “absolutisties”: Wanneer ’n wet mense op grond van ras behandel, of dit nou gaan oor insluit of uitsluit, of dit nou voor of ná 1994 bekragtig is, is dit ’n raswet. En druis so ’n wet in teen die tragies gebreekte maar steeds herstelbare belofte van nie-rassigheid in ons Grondwet.
Daar is nie iets soos ’n “teenmiddel”-raswet nie. Alle raswette is giftig.
Hermann Pretorius, Instituut van Rasseverhoudinge
