Dankie tog – Geordin Hill-Lewis glo aan die p-woord - Rapport

Hermann Pretorius | Jun 21, 2026
Prestasie, eerder as senioriteit of nabyheid aan die leier, gaan klaarblyklik swaar weeg in Geordin Hill-Lewis se DA, skryf Hermann Pretorius.
Dankie tog – Geordin Hill-Lewis glo aan die p-woord  - Rapport

Prestasie, eerder as senioriteit of nabyheid aan die leier, gaan klaarblyklik swaar weeg in Geordin Hill-Lewis se DA, skryf Hermann Pretorius.

Geordin Hill-Lewis se veranderinge aan die DA-verteenwoordigers in die regering van nasionale eenheid (RNE) wys dat hy ’n ongemaklike waarheid oor partyleierskap verstaan: Aanstellings in die regering is waardevolle instrumente van partybestuur.

Die mees indringende verandering is natuurlik John Steenhuisen wat van die landbouportefeulje na adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging geskuif word.

Steenhuisen het in Julie 2024 die minister van landbou geword met drie kerntake om te verrig: om wêreldwye handel in Suid-Afrika se landbouprodukte ’n hupstoot te gee; om die vertroue van die landbousektor te wen en te behou; en om die uitbreking van bek-en-klouseer met groter sukses as sy voorgangers te bestuur.

Aan die handelsfront het hy skaflik gevaar, maar wat vertrouensverhoudinge en bek-en-klouseer betref, het sy termyn veel te wense gelaat. Steenhuisen het meer van ’n politieke las as ’n bate geword.

Hill-Lewis sou geloofwaardigheid ingeboet het as hy Steenhuisen sywaarts na ’n ander portefeulje soos bosbou, visserye en die omgewing geskuif het. As hy Willie Aucamp en Steenhuisen omgeruil het, sou kiesers dit kon sien as die DA se weergawe van die skadelike ANC-gewoonte om bloot mense te herontplooi wanneer hulle in ’n pos misluk het.

Hill-Lewis kon Steenhuisen ook nie heeltemal verwyder nie omdat dit sy ministeriële suksesse, soos groter marktoegang vir landbou-uitvoere, sou misken. Boonop het Hill-Lewis ook ’n mate van lojaliteit jeens sy voorganger.

Hill-Lewis se besluit om ’n middeweg te volg deur Steenhuisen af te gradeer na ’n pos wat juis op handel fokus, is veelseggend. Steenhuisen is te lig bevind, maar nie op die ashoop gegooi nie. Sy mislukkings én suksesse word erken.

In die nuanse van die skuif wys Hill-Lewis hy is in beheer en bereid om die man wat hy as partyleier opgevolg het aanspreeklik te hou. Hy vermy ook die onnodige vernedering van iemand wat ’n sentrale rol gespeel het in die DA se herstel by die stembus in 2019.

Ook sinvol is Aucamp se sywaartse skuif om minister van landbou te word. Hy is self ’n boer en dit gee hom ’n onmiddellike voordeel in ’n portefeulje waar geloofwaardigheid en ’n vertroue nie net vir versiering is nie.

Hy erf ook, danksy die suksesse én welbekende mislukkings van sy voorganger, ’n duideliker pad vorentoe wat betref bek-en-klouseer as wat Steenhuisen in 2024 gehad het.

Dit lyk asof die entstofveldtog om die nasionale kudde te beveilig op dreef kom, al is dit oorskadu deur gebrekkige politieke oordeel, swak personeelkeuses en ’n kantoor wat te dikwels onbevoeg, hardkoppig, en platvoet voorgekom het.

Aucamp kan voortbou op wat Steenhuisen vermag het, en kan ook sy voorganger se foute vermy.

Steenhuisen se hantering van die uitbreking van bek-en-klouseer het die DA se aansien onder Afrikaners in veral die noorde van die land geskaad. Vir baie van dié kiesers is “die plaas” nie ’n abstrakte ekonomiese eenheid nie. Dit is verweef met familie, herinneringe, identiteit, erfenis en ’n soort identiteitskwesbaarheid.

Selfs voorstedelike Afrikanerkiesers (sonder direkte blootstelling aan veesiektes) het toenemend gefrustreerd geraak met wat hulle as swak hantering van die krisis beskou het. DA-raadslede in onder meer Pretoria het gereeld vertel hoe dié kwessie in kieserinteraksie gelug is.

Aucamp se aanstelling in dié pos wat vir baie Afrikanerkiesers emosiebelaai is, sal welkom wees onder diegene in die party wat toenemend onder druk geplaas is weens kiesers wat kultureel en polities verwyderd gevoel het van Steenhuisen.

Afrikaner-pedigree
Aucamp se Afrikaner-pedigree is ook nie te versmaai nie.

As seun van Cassie Aucamp, die Dopper-teoloog en voormalige LP vir die Afrikaner Eenheidsbeweging, is hy een van die DA se mees prominente Afrikanerfigure, saam met Cilliers Brink en Ian Cameron.

Hill-Lewis sou dit waarskynlik in sy besluit oorweeg het.

Die DA kan nie groei tot die grootste party in die land teen 2029 as hy die kiesers as vanselfsprekend aanvaar wat van die 1992-“ja-referendum” tot die 1999-“slaan terug-verkiesing” lede van die DA se breër verkiesingskoalisie geword het nie.

Dié kiesers is vir die DA-leierskorps ’n sensitiewe saak omdat hulle in 2019 op noemenswaardige skaal van die party vervreem is toe Mmusi Maimane hom met rasgegronde identiteitspolitiek bemoei het.

Aucamp gee Hill-Lewis se DA kans om sommige van daardie bande te herstel sonder dat dit blatant identiteitsgedrewe voorkom.

Die skommeling wys ook dat Hill-Lewis iets begryp wat Steenhuisen eintlik maar verwaarloos het. Kabinetsaanstellings is nie bloot administratiewe keuses nie.

Dit vorm deel van ’n party se innerlike samehang ten opsigte van moreel, ambisie, lojaliteit, faksiebalans, streekmatige inkoop en die bereidheid van senior figure om ’n leier te verdedig wanneer hy onder druk kom.

Steenhuisen se oorspronklike RNE-aanstellings is binne die party as eng en faksiegedrewe beskou. Dit het hom eindelik duur te staan gekom, want toe sy eie posisie kwesbaar raak, toe sy ondersteuners hom moes help in wat eindelik ’n eensydige openbare debat oor die bek-en-klouseer-krisis geword het, was sy mees prominente lojaliste self besig om ministeries te bestuur.

Sy kampvegters was te min, te besig, of te polities blootgestel om hom te beskerm. As Steenhuisen versigtiger was in sy keuse van aanvanklike ministeriële kollegas, kon hy dalk breër party-eienaarskap van die DA se politieke sending in die RNE verseker het, sowel as surrogate wat in die openbaar vir sy saak kon stry.

Hill-Lewis lyk vasbeslote om nie daardie fout te herhaal nie. Sy herskikte RNE-span blyk geen ooglopende wenfaksie op te lewer nie, veral nie wat nuwe toevoegings tot die DA in die nasionale regering betref nie.

In terme van streekverspreiding (die grondslag waarop politieke partye moet kan saamhang) kom David Maynier (voorgestelde nuwe minister van omgewingsake) uit die Wes-Kaap. Jack Bloom, die nuwe keuse as adjunkminister van water en sanitasie, kom uit Gauteng en Yusuf Cassim, voorgestelde adjunkminister van hoër onderwys en opleiding, kom uit die Oos-Kaap. Dit is nie toevallig nie.

Al drie dié politici is vernuftig, maar kom ook van die provinsies waar die DA voor die volgende verkiesing steun moet konsolideer.

Ideologies is die balans van die nuwe DA-aanstellings ook knap. Aucamp kom uit die konserwatiewe (met ’n kleinletter-k) deel van die DA. Maynier is nader aan die party se meer tegnokratiese en sosiaal-demokratiese vleuel. Bloom verteenwoordig die DA se ou Prog-tradisie van klassieke liberalisme.

Sowel geografies as in terme van politieke oortuigings, het Hill-Lewis met sy nuwe aanstellings hom nie tot ’n enkele ideologiese kamp beperk nie.

Ongewone risiko
Dít is belangrik omdat Hill-Lewis se eie leiersposisie van meet af aan ’n ongewone risiko bevat. Sy oorweldigende mandaat van DA-afgevaardigdes in April het hom aansienlike gesag gegee, maar hy het leier geword sonder ’n spesifieke nasionale faksie vierkant in sy kraal.

Sy sterk punt is dat hy as leier aan die hele party behoort. Sy swak punt is dat hy dalk, wanneer hy onder druk kom, kan besef om aan almal te behoort beteken dat niemand jou vir hulself toeëien nie, en niemand jou dan verdedig wanneer jy polities kwesbaar is nie.

Hill-Lewis se skuiwe wys hy verstaan dié gevaar.

Buiten die uitsonderlike geval van Steenhuisen, stuur dié aanstellings die boodskap uit dat nabyheid aan Hill-Lewis nie die pad na bevordering is nie.

Bloom se aanstelling is ’n goeie voorbeeld. Daar is geen ooglopende persoonlike band tussen Hill-Lewis en Bloom nie. Hulle kom uit verskillende generasies, verskillende streke en verskillende politieke ervarings. Die boodskap aan die party is dat erkenning vir prestasie nie tot die binnekring beperk word nie.

Dít is hoe ’n niefaksionele leier gesag bou. Hy kan nie slegs op ou lojaliste staatmaak nie, want van hulle het hy te min.

Hy kan ook nie deur ’n kliek regeer nie, want dit sou sy mandaat in gevaar stel. Hy moet ’n breër gevoel van inkoop skep sodat die party se interne trapleer van bevordering toeganklik is vir uitblinkers.

Die skommeling is meer as ’n personeelverskuiwing. Dit is Hill-Lewis se eerste wesenlike daad van nasionale partybestuur.

Dit lig ’n prominente voorganger uit sy amp sonder om hom te vernietig. Dit plaas ’n meer geloofwaardige figuur op ’n sensitiewe oomblik in ’n sensitiewe rol. Dit versprei erkenning oor streke, tradisies en ideologiese neigings binne die party heen.

En dit waarsku die party dat prestasie, eerder as senioriteit of nabyheid aan die leier, swaar sal weeg in Hill-Lewis se DA.

Niks hiervan waarborg egter sukses nie.

Aucamp moet wys hy kan slaag waar Steenhuisen misluk het. Steenhuisen moet wys dat hy in ’n kleiner rol kan presteer.

Maynier, Bloom, Cassim en ander moet steeds wys dat hulle Hill-Lewis se vertroue waardig is. Die veranderinge sal eindelik beoordeel word aan die hand van of dit die regering se prestasie verbeter en die DA se politieke posisie versterk – of nie.

Maar as openingskuif van die nuwe leierskorps is dit skerper as wat baie verwag het. Hill-Lewis is bereid om ongemaklike maar beslissende besluite te neem.

Hermann Pretorius is die Instituut van Rasseverhoudinge (IRR) se hoof van strategiese kommunikasie en die outeur van die boek Rule Breakers: How the 2024 Election Campaign Changed South Africa Forever (Protea, 2025)

http://netwerk24.com/stemme/menings/dankie-tog-geordin-hill-lewis-glo-aan-die-p-woord-20260620-0951

Dankie tog – Geordin Hill-Lewis glo aan die p-woord  - Rapport

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2025 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi