
Al is die aanname dikwels dat Afrikaners polities of ideologies eenvormig is, vertel die geskiedenis ’n ander storie, skryf Hermann Pretorius.
Min aannames oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en hede is so hardkoppig soos die oortuiging dat Afrikaners ’n enkele, samehangende politiek-ideologiese gemeenskap vorm. In buitelandse en plaaslike kommentaar word “die Afrikaner” dikwels beskou as ’n eenvormige, homogene akteur met ’n klinkklare, gedeelde visie vir Suid-Afrika en ’n gemeenskaplike begrip van sy verlede en toekoms.
Tog vertel die geskiedenis ’n ander storie. Afrikaners was nog nooit polities of ideologies eenvormig nie. En ek praat nie hier van ’n WP-Bulle-tipe-verdeling nie.
Die definiërende meningsverskille in Afrikanergeskiedenis was nie geringe rusies in ’n breë, gedeelde wêreldbeskouing nie, maar dikwels diepgaande geskille oor watter soort land Afrikaners wou bewoon, watter lojaliteite hulle moes hê en watter toekoms Afrikaners in Suid-Afrika behoort na te streef.
Die hele ding begin as ’t ware met ideologiese skeuring eerder as konsensus. Die Groot Trek was, ten spyte van die meesleurende prag van die Voortrekkermonument se muurkuns, nie ’n verenigde nasie-projek nie.
Tussen ongeveer 1835 en 1845 het sowat 25 000 hoofsaaklik Nederlandssprekende setlaars die Kaapkolonie verlaat om Britse heerskappy af te skud. Uit die manhaftigheid van hierdie era spruit die skeppingsnarratief van die Afrikaner as begrensde, samehangende konsep.
Maar tog het die meerderheid Kaaps-Hollandse setlaars, sowat 40 000, nie getrek nie. Baie het in die Kaapkolonie gebly en by Britse gesag aangepas, in koloniale administrasies gedien, onder Britse reg geboer en geleef, en deelgeneem aan die politieke instellings wat ontwikkel het ná die begin van verteenwoordigende regering in 1853.
Selfs onder hulle wat getrek het, was daar geen politiek-ideologiese eenheid nie.
Die Voortrekkers wat die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek gevorm en gestig het, het nie in een staat of politiek-ideologiese identiteit saamgesmelt nie. Die republieke is afsonderlik gebou met hul eie leierskapstradisies, grondwetlike reëlings en politieke kulture. Pogings tot samesmelting is selfs beveg.
Daarbenewens het kleiner Afrikanerrepublieke oor die binneland heen verskyn en verdwyn, onder meer die Republiek Natalia (1839-’43), Stellaland (1882-’85), Goosen (1882-’83) en die Nieuwe Republiek (1884-’88).
Hierdie staatseksperimente het ’n politiek-ideologiese Afrikanerrealiteit weerspieël wat gefragmenteerd eerder as homogeen was.
Selfs onder die Voortrekkers wat taal, geloof en grensbestaan gedeel het, was daar geen enkele antwoord op die vraag oor watter soort staat hierdie pasgebore etniese groep moes bou of nastreef nie.
Die Oranje-Vrystaat het ’n betreklik stabiele republikeinse bestel ontwikkel wat gesentreer was rondom Bloemfontein en ’n Volksraad wat noue diplomatieke betrekkinge met Brittanje gehandhaaf het.
Die Transvaal het, daarenteen, in sy vroeë dekades herhaaldelik interne konflik en grondwetlike struweling beleef. Die lang politieke stryd tussen Piet Joubert se progressiewe aanhangers en Paul Kruger se konserwatiewes was veral fel. In ’n verdeelde Transvaalkieserskorps het Kruger die 1893-presidentsverkiesing met 7 881 stemme teenoor Joubert se 7 009 gewen.
’n Mens kan dalk sê dat die Anglo-Boereoorlog die Afrikaner in ’n enkele politiek-ideologiese postuur verenig het. Maar dit het, inteendeel, verder blootgelê hoe uiteenlopend Afrikanerpolitieke instinkte werklik was.
Die geromantiseerde beeld van ’n volk verenig in verset teen ’n imperiale Goliat verberg die werklikheid van bitter en langdurige meningsverskille, selfs in die twee Boererepublieke tydens en ná die oorlog.
Gedurende die oorlog het sowat 20 000 Boere hul wapens neergelê en Britse gesag as hensoppers aanvaar uit die oortuiging dat voortgesette weerstand nutteloos of vernietigend sou wees.
’n Verdere 5 000 tot 6 000 het hulle by Britse hulpeenhede aangesluit as veragte joiners en aktief die Britse oorlogspoging ondersteun. Daarteenoor het nagenoeg 20 000 tot 25 000 bittereinders die guerrilla-verset volgehou tot die sluiting van die ironies benaamde “Vrede van Vereeniging”. Weer eens sien ons ’n fundamentele verskil onder die Afrikaner ten opsigte van sy politiek-ideologiese uitkyk.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het ’n verdere verdelingsgrens tussen Afrikaners na vore gekom oor die Unieregering se besluit om Brittanje in die oorlog te steun, en rakende die veldtog van Louis Botha, premier en generaal, om Duits-Suidwes-Afrika binne te val.
In 1914 het prominente Boeregeneraals, onder andere Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Manie Maritz, met ’n rebellie teen die Botha-regering in opstand gekom. Sowat 12 000 gewapende rebelle het deelgeneem aan wat later as die Maritz-rebellie bekend sou staan, terwyl duisende Afrikaners lojaal in die Unieverdedigingsmag onder Louis Botha en Jan Smuts gedien en teen 1915 gehelp het om Duits-Suidwes-Afrika te verower.
Die skeiding tussen rebelle, soos die tereggestelde Jopie Fourie, en lojaliste het nie bloot oor ’n militêre veldtog gegaan nie. Dit het botsende visies van die Afrikaner se plek in die wêreld weerspieël: een gevestig in ’n Brits beïnvloede Suid-Afrikaanse staat en in die gemenebes van die Ryk, die ander verbind tot republikeinse onafhanklikheid en vasbeslote nasionalisme.
Hierdie teenoorgestelde denkstrome ten opsigte van Afrikaners se plek in die wêreld het deur die 20ste eeu Afrikanerpolitiek bly vorm. Die mededinging tussen die Sappe, ondersteuners van die Suid-Afrikaanse Party, en die Natte, ondersteuners van die Nasionale Party (NP), was nie ’n oppervlakkige partystryd nie, maar ’n botsing van opponerende politiek-ideologiese standpunte.
Die Sappe van Botha en Smuts het ’n akkommoderende ingesteldheid aangehang en was bereid om binne imperiale en later Statebondraamwerke saam te werk, en om versoening tussen Boer en Brit voorop te stel.
Die idee van rasseversoening was uiteraard karig deel van die debatte in wit politiek, maar met die Fagan-kommissie het die Smuts-regering in 1946 selfs mikro-treë in die rigting van nie-rassigheid begin gee. Die NP, in 1914 deur J.B.M. Hertzog gestig, het ’n doelgerigte Afrikanernasionalisme gemobiliseer wat gegrond was op kulturele beskerming, die ekonomiese bevordering van Afrikanerbelange en uiteindelik die formalisering van rasseskeiding ná D.F. Malan se verkiesingsoorwinning in 1948.
Die verdeeldhede wat mettertyd selfs in die NP ontstaan het, het weer eens gewys dat Afrikanerpolitiek nie bloot as homogeen gesien kan word nie.
Die debat tussen die ietwat kleinlik genoemde “verkramptes” en “verligtes” het deur die loop van die tweede helfte van die eeu Afrikanerpolitiek verdeel. Hierdie spanning het gelei tot politieke herskikkings soos die stigting van die Konserwatiewe Party in 1982, wat teen die laat 1980’s vinnig die amptelike opposisie onder wit kiesers geword het, terwyl hervormingsgesinde Nasionale Party-leiers na onderhandelinge beweeg het wat uiteindelik apartheid beëindig het.
’n Fraksie van Afrikaners het selfs oor hierdie veranderingstydperk vir die Progressiewe Federale Party gestem. Teen die vroeg 1990’s sien ons die skeuring in die Afrikanerpolitiek oor die vraag van dominante selfbeskikking teenoor demokratiese aanpassing. In 1992 stem ongeveer ses uit elke 10 Afrikanerkiesers vir ’n onderhandelde einde aan die apartheidsbestel. 4 uit elke 10 stem natuurlik in die ander rigting.
Die meer onlangse historiese era ná 1994 het op sy eie manier ’n voortsetting van skeuring tussen Afrikaners gebring, een wat vandag steeds deur families en geslagte sny. Sedert die demokratiese oorgang het baie Afrikaners geëmigreer, veral na Australië, Brittanje, Kanada en Nieu-Seeland. Presiese syfers is moeilik om vas te stel, maar geloofwaardige beramings dui daarop dat honderdduisende wit Suid-Afrikaners, baie van hulle Afrikaanssprekend, oor die afgelope 30 jaar landuit is, met Suid-Afrikaans gebore bevolkings in lande soos Australië alleen wat teen die 2020’s reeds meer as 200 000 was. Die huidige Afrikanerverdeling van vlugtelinge, vegters, vassitters en vasbyters eggo merkbaar die vroeëre skeurings in Afrikanergeskiedenis.
Die narratief van Afrikanerhomogeniteit ten opsigte van politiek, ideologie, ervaring, uitkyk en toekomsvisie stort ooglopend in duie wanneer die geskiedenis kans gegee word om sy sê te sê.
Dieselfde verdelingsvrae duik keer op keer, eeu ná eeu op. Moet Afrikaners hulle by ’n groter politieke orde aanpas of dit weerstaan? Moet hulle isolasie of integrasie nastreef? Moet hul toekoms lê in kulturele outonomie, politieke oorheersing, pragmatiese vennootskap of inskakeling by breër samelewings- en ideologiese strome? Op verskillende oomblikke in die geskiedenis het Afrikaners uiteenlopende antwoorde op hierdie vrae gegee. Vandag nog.
Dit is natuurlik so dat daar kulturele bande is wat Afrikaners steeds bind. Hierdie bande bly betekenisvol en kragtig. Maar kulturele verwantskap moenie met ’n eenvormige wêreldbeskouing verwar word nie. ’n Gedeelde erfenis skep nie ’n enkele politieke uitkyk nie, en wis ook nie meningsverskille oor strategie, identiteit of ’n land se toekoms uit nie.
Die mite van Afrikanereenheid kan dalk polities nuttig wees. Die mobilisering van ’n “ons” teen ’n “hulle” het nog altyd ’n sterk trek op die menslike psige. Maar die geskiedenis van Afrikaners is nie die verhaal van ’n volk wat met een gedagte, een doel en eendrag deur tyd beweeg nie. Dit is die verhaal van ’n dikwels ad hoc-gemeenskap wat deur kultuur en taal verbind is, maar herhaaldelik deur botsende visies van die land waarin hulle leef, verdeel word.
Ondanks die romantiek van ’n idee wat strek van Bloedrivier in die 19de eeu tot by die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe in die 21ste eeu, was Afrikaners nog nooit ’n verenigde Israel op soek na ’n enkele en herkenbare Kanaän nie. Om hierdie narratief as feit te beskou, of dit nou in Washington of Pretoria gedoen word, is om ’n gevaarlike wanbegrip van Afrikaneridentiteit voort te sit.
“Eendracht” mag dalk trots pronk as leuse, maar skiet ver tekort as analise.
Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie vir die Instituut vir Rasseverhoudinge en skrywer van die boek Rule Breakers: How the 2024 Election Campaign Changed South Africa Forever (Protea).
