
Anthea Jeffery
Die harde syfers strook nie met pres. Cyril Ramaphosa se rooskleurige praatjies oor swart ekonomiese bemagtiging nie, skryf Anthea Jeffery.
Kritici van swart ekonomiese bemagtiging behoort “hul koppe in skaamte te laat sak”, het pres. Cyril Ramaphosa vroeër vandeesmaand in die parlement laat hoor. Hoewel al hoe meer stemme opklink dat die beleid ’n remskoen vir ekonomiese groei is, reken Ramaphosa die mynbedryf het klinkklaar bewys dat swart ekonomiese bemagtiging wérk.
Ná die nasionalisering van mynregte is die weg gebaan vir swart mense om die mynwese as eienaars te betree, nie net as werknemers nie, sê die president. Daarbenewens word die mynbedryf nie meer deur “ses mega-maatskappye” beheer nie en is tientalle maatskappye in swart besit in die sektor bedrywig.
Hoewel daar inderdaad ’n mate van vordering was, is die ware prentjie veel minder rooskleurig as wat die president te kenne gee. Ramaphosa se weergawe ignoreer die skade wat aan die mynbedryf aangerig is sedert die regering voogdyskap van alle minerale hulpbronne oorgeneem het kragtens die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne van 2002 – en begin het om al hoe meer onrealistiese bemagtigingsvereistes af te dwing ingevolge die gepaardgaande mynbouhandves.
Die aantal mynmaatskappye wat op die JSE genoteer is, het afgeneem van sowat 120 in 1994 tot sowat 30 aktiewe operasionele maatskappye in 2025. Myn-indiensneming het in dieselfde tydperk afgeneem van sowat 600 000 tot sowat 470 000. Die mynbedryf se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) het gedaal van 21% in 1980 tot 7% in 2025.
Sommige van die denoterings en ander ontwikkelinge is aangevuur deur samesmeltings, verskuiwings in globale kapitaalmarkte (soos die groeiende gewildheid van private ekwiteit) en die veranderende struktuur van Suid-Afrika se ekonomie.
Maar twee ontstellende syfers hou regstreeks verband met die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne en die groot – en steeds toenemende – swartbemagtigingslaste wat hy op ondernemings plaas.
Hoewel Suid-Afrika uitsonderlik ryk aan minerale is, het ons aantreklikheid vir mynboubeleggers sedert 2004, toe die wet in werking getree het, stelselmatig getaan. Verlede jaar het ons die 57ste plek (uit 68 lande) op die gesaghebbende Fraser-indeks beklee.
Wat persepsies oor mynboubeleid betref, het Suid-Afrika nog vrotter in die indeks gevaar. Weens die mineralewet en sy gepaardgaande bemagtigingsvereistes kon ons hier net 64ste uit 68 lande eindig. Een mynbaas wat in die 2025-verslag aangehaal word, sê die “gru-verhale” wat in die plaaslike en internasionale media berig word, skrik beleggers al hoe meer af.
Suid-Afrika het vroeër 5% van internasionale eksplorasiebesteding gelok: ’n Syfer wat laas in 2003 bereik is (die jaar voordat die mineralewet in werking getree het). Dit trek nou minder as 1%. In 2024 het reële kapitaalvorming in mineraaleksplorasie slegs R779,5 miljoen bedra – “die laagste in die datastel wat teruggaan tot 1993”, soos die beleggingsbankier Paul Miller daarop wys. Dis net ’n fraksie van die geraamde R6 miljard tot R8 miljard per jaar wat nodig is om die bedryf te onderhou.
Ander vergelykende syfers is ewe veelseggend. Ramaphosa praat van die tientalle maatskappye in swart besit wat nou in die mynbedryf aktief is. Maar in 2022 was slegs 12 junior myners op die JSE genoteer, terwyl die Toronto-effektebeurs daardie jaar 1 600 klein mynmaatskappye of “juniors” gehad het en 600 op die Sydney-effektebeurs genoteer was.
En hoewel aan Suid-Afrika se junior myners sowat 80% van mynregte toegestaan is, beskou bykans 64% van hulle die rompslomp om ’n mynlisensie te bekom as die enkele grootste struikelblok in die bedryf, het die Mineraleraad vroeër bevind.
Ramaphosa gee te kenne benewens magtige entrepreneurs, het swart mynwerkers en myngemeenskappe ook voordeel getrek uit swart ekonomiese bemagtiging.
Hy laat egter na om die groot kloof te noem tussen die miljarde wat na ’n handjievol entrepreneurs gevloei het – en die betreklik karige bedrae wat deur gemeenskappe en werknemers gekry is.
’n Konsepverslag wat in 2015 vir die Kamer van Mynwese (nou die Mineraleraad) saamgestel is, vertel die verhaal. Die Kamer het die verslag aangevra om te bepaal of die mynbedryf aan die 2004-mynhandves voldoen het deur 26% swart eienaarskap teen Desember 2014 te bereik.
Die verslag het bevind dat swart eienaarskap teen dié tyd tot minstens 28% gestyg het. Trouens, indien alle bemagtigingstransaksies – insluitend dié waaruit swart mense later teen ’n wins onttrek het – in aanmerking geneem word (soos die 2004-handves vereis), het swart eienaarskap op 38% gestaan. Die verslag het die netto welvaart wat deur bemagtigingstransaksies herverdeel is, op tussen R155 miljard en R282 miljard geraam.
’n Kernpunt is dat 60% van dié netto waarde aan “ ’n minimum van 46” bemagtigingsentrepreneurs versprei is. Daarteenoor het 29% na “ ’n minimum van 6,9 miljoen” gemeenskapslede gegaan en 11% is onder “ ’n minimum van 200 000 werknemers” versprei. Dié syfers is duidelik nie presies nie. Die oorkoepelende prentjie wat hulle skets, is egter onmiskenbaar – en skokkend.
Nadat hy die syfers in die verslag noukeurig ontleed het, kom die veteraanjoernalis William Saunderson-Meyer tot die gevolgtrekking: “Op grond van die verslag se raming van R155 miljard tot R282 miljard verteenwoordig die 60% wat aan die 46 ‘entrepreneurs’ versprei is, ’n gemiddelde, op papier, van R2,02 miljard tot R3,68 miljard elk. Die 29% wat aan gemeenskapstrukture toegeskryf word, beloop – indien eweredig gedeel – R6 514 tot R11 852 per persoon. Die 11% wat aan werknemers toegeskryf word, beloop tussen R81 190 en R147 714 elk. Anders gestel, die gemiddelde entrepreneurstoekenning was sowat 310 000 keer groter as die gemiddelde gemeenskapstoekenning en sowat 25 000 keer groter as die gemiddelde werknemertoekenning.”
Dit bevestig wat kritici van swart bemagtiging lankal sê: Bykans al die voordele van rasgegronde wette gaan na ’n klein en polities gekonnekteerde swart elite. Die meeste ander swart mense trek geen beduidende voordeel daaruit nie. Daarbenewens word die groot meerderheid swart Suid-Afrikaners deur bemagtiging in die mynwese (en elders) benadeel omdat dit beleggers afskrik, groei beperk, die skep van nuwe werkgeleenthede inperk – en miljoene swart mense werkloos en verarm laat.
Deur ’n handjievol mense te verryk en Jan Publiek te verarm, vererger swart ekonomiese bemagtiging ook ongelykheid. Dis nie verbasend nie dat dit nou dikwels groter binne die swart bevolking is as tussen wit en swart mense. Dit verduidelik grootliks waarom die land se Gini-koëffisiënt gestyg het van 57 in 1994 tot 67 in 2025.
In 2017 het die SAKP daarop gewys dat die “intra-Afrikaanse ongelykheid” wat swart bemagtiging bevorder het, “die hoofbydraer tot Suid-Afrika se buitengewoon hoë Gini-koëffisiënt” van inkomste-ongelykheid was.
Dis nie die kritici van swart ekonomiese bemagtiging wat hul koppe in skaamte moet laat sak nie, pres. Ramaphosa. Dis eerder die klein groepie miljardêrs – onder wie die president – wie se strewe na selfverryking hulle verhinder om te erken dat swart ekonomiese bemagtiging altyd ’n vals vorm van transformasie sal wees wat die elite bevoordeel en die massa benadeel.
Anthea Jeffery is beleidshoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge.
This article was first published on the Daily Friend.
