‘Wit volksmoord is ’n mite, maar dié 3 faktore gee dit suurstof’ - Rapport

Hermann Pretorius | May 03, 2026
Om die wanpersepsie van ’n “wit volksmoord” die nek in te slaan gaan meer verg as snedige en beterweterige praatjies, skryf Hermann Pretorius.
‘Wit volksmoord is ’n mite, maar dié 3 faktore gee dit suurstof’ - Rapport

Om die wanpersepsie van ’n “wit volksmoord” die nek in te slaan gaan meer verg as snedige en beterweterige praatjies, skryf Hermann Pretorius.

72% van Suid-Afrikaners verwerp die bestaan van ’n “wit volksmoord” in Suid-Afrika, terwyl 19% glo so ’n uitwissing is wel aan die gebeur. Onder wit Suid-Afrikaners daal die persentasie van verwerpers na 50% en styg dié wat in ’n “wit volksmoord” glo, tot 37%. Dié syfers van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) se jongste meningspeiling verskaf rede tot sowel hoop as kommer.

Die hoop leef in die meerderheid wat nie in ’n ekstreme en onware vrees-standpunt inkoop nie, maar die kommer leef in die byna vier uit elke 10 wit Suid-Afrikaners wat dit juis doen.

In veral die afgelope jaar het die kwessie van Suid-Afrika se hantering van sy wit bevolking wêreldwyd opslae gemaak. Die intense en bykans buitensporige aard van die wit volksmoord-mite het egter min ruimte gelaat vir nugter oorweging.

So ’n verantwoordelike oorweging van die volksmoord-mite moet begin by definisie-sekerheid.

Volksmoord is nie ’n los, emosionele begrip nie. Dit het ’n spesifieke betekenis in die internasionale reg. Dit verwys na bepaalde gruweldade wat gepleeg word met die samehangende doel om ’n groep mense, geheel of gedeeltelik, as sodanig te vernietig.

Die kern van die begrip lê in die bestaan van geweld of lyding, asook die doelgerigte aard daarvan: ’n Projek om ’n groep juis vanweë sy identiteit uit te wis. Die idee dat die ervaring van wit Suid-Afrikaners vandag op enige wesenlike manier vergelykbaar is met die bloedige lyding van die Tutsi’s of Armeniërs is eenvoudig verregaande.

Hoe is dit dan moontlik dat so baie wit Suid-Afrikaners deel in die wanpersepsie van ’n volksmoord? En waar laat dit die res van ons wat nie in die wrede en tragiese swaarkry van Suid-Afrika die uitwissing van ’n volk sien nie?

Die mees oortuigende en hardnekkige mites is altyd gegrond in ’n basis van waarheid. Geen mite is suiwer versinsel nie. Wanneer dit kom by die mite van “wit volksmoord”, is daar drie basiswaarhede.

Eerste: Ras-retoriek
Wit Suid-Afrikaners word reeds jare lank in sekere politieke diskoerse nie as medeburgers behandel nie, maar as ’n simboliese draer van skuld of ’n gerieflike teiken vir breër sosio-ekonomiese ontevredenheid.

Begrippe soos “witmonopoliekapitaal”, die behandeling van “witheid” as ’n probleem wat keelaf gesny moet word en die herhaalde singery van strydliedjies soos “Kill the Boer” versterk die persepsie dat vyandigheid teenoor wit mense aanvaarbaarder is as teenoor ander groepe.

Die data wys dat 70% van Suid-Afrikaners rasretoriek sien as pogings deur politici om hul eie mislukkings weg te steek. Maar tog is die retoriek oor jare heen reeds toksies genoeg om selfs dié waarheid vir baie aan die ontvangkant te verdoesel.

Anti-wit-retoriek is geen nuwe verskynsel nie. So vroeg in die nuwe demokrasie as 1999 se verkiesingsveldtog gebruik die ANC en kie al die raskaart om politieke verdeling te saai.

Die doelbewuste swartsmeer van veral Bantu Holomisa in die Oos-Kaap as ’n marionet van “wit belange” staan vandag nog as skokkende voorbeeld dat selfs die gematigdes in die ANC se nierassige vernis maar dun kan lê.

Tweede: Rasgebaseerde beleid
Drie dekades ná apartheid speel ras steeds ’n prominente rol in hoe die staat ekonomiese geleenthede en regstelling benader. Beleide wat op rasklassifikasie steun, maak ras sigbaar en deurslaggewend in die alledaagse werk- en sakewêreld.

Ons sien in die data dat juis daar waar rasbeleid, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en perverse “gelyke indiensneming”, op sy prominentste is, meld gewone Suid-Afrikaners juis meer ervarings van rassisme aan.

Die IRR se Raswet-indeks het wêreldwyd opslae gemaak deur 145 raswette op die statuutboek te identifiseer.

Dié wette is nie, soos gereeld verkeerd aangehaal, simplisties “anti-wit” nie. Hulle is ook nie almal oorblyfsels uit die pre-1994-era nie.

Daar is dié soos Christo van der Rheede wat onkundig die IRR se Raswet-indeks afmaak as “kwasi-navorsing”. Ongelukkig wys dit daar word maar karig met die substansie van die indeks omgegaan.

Die metodologie van die indeks, in die beste praktyke van die IRR se amper eeu lange stryd om nierassigheid, is geloofwaardig, deursigtig en eenvoudig: Regsterminologie wat ras in wetgewing effek gee, maak enige wet ’n raswet. Nie ’n anti-dit- of anti-dat-wet nie, maar eenvoudig ’n raswet. En tans is daar minstens 145 van hulle op die Suid-Afrikaanse statuutboek.

Al wys die data dat 70% van Suid-Afrikaners glo dat apartheidsera-raskategorieë afgeskaf moet word, is die beleidswerklikheid van Suid-Afrika ’n slagoffer van politieke hardkoppigheid en toondoofheid.

Vir baie wit Suid-Afrikaners skep beleid juis die gevoel dat hulle nie deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap vorm nie, maar ’n afsku-kategorie is wat voortdurend geteiken en geblameer kan word.

Derde: SA se skokkende geweldsmisdaad
Elke kwartaal vertel amptelike misdaadsyfers die verhaal van duisende moorde, slagoffers en die swaarkry van selfs nóg meer gesinne en families. Die geweld raak alle gemeenskappe, maar ons leef in ’n era van buitengewone laertrek-algoritmes wat vooropgestelde idees en vrese aanvuur.

Wrede plaasaanvalle speel veral in dié konteks ’n besondere rol in hoe baie wit Suid-Afrikaners die land se geweld beleef en beskou. Die aanvalle is kriminologies buitengewoon wreed, persoonlik en diep ontstellend.

Hulle vind ’n plaas op ’n afgeleë plek en onderwerp slagoffers wat besonder weerloos is, aan onmenslike wreedheid.

En omdat baie boere wit is, veral kommersiële boere, word aanvalle maklik deur ’n raslens geïnterpreteer.

Data van organisasies soos TLU SA en Solidariteit-verwante strukture beklemtoon die volgehoue aard en erns van die aanvalle. Die presiese syfers en metodologieë van berekening verskil, maar die onderliggende werklikheid is duidelik: Plaasgeweld is werklik, uitsonderlik en diep traumaties. Maar, en dit móét beklemtoon word, dit bewys nie volksmoord nie.

Dit dui wel op ’n ernstig nasionale veiligheidskrisis. Dit dui op ’n staat wat daarin misluk om sy burgers te beskerm.

Die onvermydelik sielkundige versoeking vir alle identiteite om emosioneel meer gewig te gee aan lyding wat naby voel, verseker dat die moord in Bishop Lavis of Ulundi nie deur baie wit Suid-Afrikaners die gelyke gewig gegee word as die plaasmoord by Muldersdrift nie.

Ondanks die feit dat die meeste geweldsmisdaad in Suid-Afrika plaasvind in township- en landelike gebiede, is die emosionele trefkrag van misdade soos plaasaanvalle disproporsioneel invloedryk op die psige van wit Suid-Afrikaners wat reeds geteiken voel deur retoriek en beleid.

Dis in die samekoms van dié drie werklikhede dat die “wit volksmoord”-mite ontstaan.

Wanneer vyandige retoriek, rasgebaseerde beleid en skokkende geweld saamgelees word, en dan deur vrees en selektiewe blootstelling versterk word, raak die versoeking groot om ’n samehangende patroon van haat te sien.

Met dié drie werklikhede as gedagte-fondamente, is dit verstaanbaar dat baie mense tot die foutiewe gevolgtrekking kom dat dit lyk of dit een samehangende en tragiese storie vertel.

Die menslike neiging is om uit verskeie bronne van inligting patrone te soek en te vind, om verskillende feite aan mekaar te koppel en om ’n enkele verklaring vir komplekse werklikhede te vind.

Die “wit volksmoord”-mite is so ’n verklaring. Dis ’n foutiewe gevolgtrekking, maar nie ’n totaal onverstaanbare een nie.

Dis ook waarom snedigheid of verwerping nie werk as meganismes van maatskaplike samehang as dit kom by die mite van “wit volksmoord” nie. Wanneer mense hul vrese grond op werklike ervarings, hoe onvolledig of selektief ook al, sal minagting van dié ervarings en vrese nooit denke of gesindhede verander nie.

Die enigste volhoubare manier om die mite van “wit volksmoord” finaal te ontman en te verslaan, is om die werklikhede wat dit voed, ernstig op te neem en te takel.

Dit beteken eerstens dat rasretoriek, ongeag teen wie dit gemik is, konsekwent en ondubbelsinnig veroordeel moet word.

Tweedens beteken dit dat die staat se obsessie met mislukte en ongeregtigde rasbeleid moet eindig en dat die nierassige staat in art. 1 van die Grondwet ná 30 jaar uiteindelik gerealiseer word.

Derdens beteken dit dat die geweldsmisdaadkrisis met die erns en dringendheid gehanteer moet word wat dit vereis, nie net vir een groep nie, maar vir alle Suid-Afrikaners.

Die bewering van ’n “wit volksmoord” is vals. Maar dis ’n valsheid wat op werklikhede rus. Om dit doeltreffend en finaal te weerlê, verg meer as net verwerping of ontkenning. Dit verg die moeiliker werk om die werklikheid reg te diagnoseer en dit dan reg te stel.

Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie by die IRR.

https://www.netwerk24.com/stemme/menings/waarom-mense-dink-daars-n-wit-volksmoord-as-dit-nie-bestaan-nie-20260501-1199

‘Wit volksmoord is ’n mite, maar dié 3 faktore gee dit suurstof’ - Rapport

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2025 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi