Hermann Pretorius
In die era van sosiale media is dit belangriker as ooit dat ’n politikus as mens “leesbaar” en eg oorkom, skryf Hermann Pretorius.
Noudat John Steenhuisen bevestig het dat hy nie vir nog ’n termyn as leier van die Demokratiese Alliansie gaan staan nie, betree ons ’n tydperk waarin sy DA-leierskap met groter helderheid en minder hitte beoordeel kan word. Steenhuisen laat die DA volgens betroubare peilings sterker en ideologies meer stabiel agter as wat hy dit gevind het. Tog is een faktor, wat deurgaans onder die oppervlak van publieke mening bly prut, die feit dat Steenhuisen as leier gesukkel het om ’n herkenbare politieke persoonlikheid te projekteer.
Tony Leon was vir die DA die gepoleerde en professionele leier wat ’n protesparty omgeskakel het in ’n dinamiese opposisieparty. Helen Zille was die beginselvaste, hardkoppige krygsvrou wat van ’n opposisieparty ’n volhoubare party van plaaslike en provinsiale regering gemaak het.
Mmusi Maimane was die Obama van Soweto en, om Leon se woord te gebruik, die party se “eksperiment” met die identiteitspolitiek van veelrassigheid eerder as nierassigheid, met ’n hoopvolle oog op ’n deurbraak onder swart kiesers. Of dié leiers uiteindelik suksesvol was of nie, is sekondêr tot die feit dat elkeen ’n identifiseerbare politieke karakter gehad het wat gedien het as voertuig vir hul pogings om openbare mening te beïnvloed.
Met die einde van die Steenhuisen-era in April, wonder ’n mens wat was die Steenhuisen-isme? Watter beeld laat hy agter as leier?
Wat Leon, Zille en Maimane in gemeen gehad het, was ’n politieke kenbaarheid. Hul leierskap is nie net deur ’n wêreldbeskouing nie, maar deur ’n selfbeskouing gedryf. Dié selfbegrip het gemanifesteer in hul daaglikse politieke optrede: hoe hulle praat, reageer, konflik hanteer en hulself in die openbare ruimte geposisioneer het.
Maar met Steenhuisen, suksesse en mislukkings tersyde, is dit moeilik om die gevolgtrekking te vermy dat sy leierskapstyl nooit ten volle belyn gevoel het met die dominante politieke mode van die afgelope dekade nie. En hierin duik die vraag van sy kenbaarheid op.
Kenbaarheid dra vandag meer gewig as ooit tevore. In die politiek, veral in die era van sosiale media, beoordeel kiesers leiers nie bloot op bevoegdheid of beginselvastheid nie.
Oor die afgelope dekade het die vraag toenemend geword of ’n politikus as mens “leesbaar” en eg oorkom. Is die politikus herkenbaar oor verskillende kontekste en media heen? Voel hul reaksies instinktief eerder as bewimpel? Kan kiesers hulself indink hoe hierdie leier optree wanneer die mikrofoon en kameras af is?
Wat meetbare uitkomste betref, is Steenhuisen se rekord heel skaflik. Hy het die leisels oorgeneem van ’n party wat om en by 16% steun geniet het en deur interne konflik en strategiese verwarring geknou was. Teen 2026 is die DA nader aan 30%, en het hy hom gevestig as ’n anker van die politieke era ná dominansie. Selfs Steenhuisen se eie netto gunstigheid in peilings het in dié tydperk verbeter: van -7 in April 2025 tot -1 teen 2026.
Maar tog het Steenhuisen deur die loop van sy leierstermyn selde die postuur van ’n kenbare politikus met substansiële persoonlike politieke kapitaal ingeneem. Die gaping tussen die DA se organisatoriese herstel en Steenhuisen se persoonlike aanklank sal waarskynlik in historiese terugskouing een van die lostorring-punte van sy politieke loopbaan wees.
Om te verstaan waarom Steenhuisen gestoei het met die probleem van kenbaarheid, help dit om hom stilisties te plaas. Sy politieke styl behoort tot ’n ouer grammatika: die era van gepoleerde boodskapdissipline en beheerste mediabestuur.
Dit is die styl van die middel-1990’s tot middel-2000’s van Tony Blair en Bill Clinton, toe gesag gemanifesteer het as politieke professionaliteit en imperfeksies as laste beskou is wat bestuur moes word.
Maar vir die periode 2016 tot 2026 was hierdie styl net nie in pas met die oorheersende politieke smaak nie.
Die era van sosiale media het ’n verandering in kiesers se stylbehoeftes gebring. Waar die politiek van die 2000’s gefokus het op beeldbeheer en foutlose voorlegging, beloon hedendaagse sosiale media en die frenetiese nuussiklus onmiddellikheid, blootstelling en oomblikke wat outentiek eerder as vernis voel.
Leiers word nie meer hoofsaaklik deur formele onderhoude of toesprake ervaar nie, maar deur knipsels, regstreekse aanlyn uitsendings en gefragmenteerde brokkies in die media. In hierdie ekostelsel het egtheid, werklik of oortuigend uitgespeel, ’n vorm van politieke kapitaal geword.
Dit is in hierdie konteks dat figure soos Boris Johnson, Donald Trump en Nigel Farage insigte bied. Al drie het ’n sterk gevoel van kenbaarheid gekweek wat onlosmaaklik aan hul openbare persona verbind is.
Trump se aantrekking rus minder op beleidsamehang as op die indruk dat hy altyd herkenbaar homself is: impulsief, sonder filter en slaggereed. Ondersteuners voel hulle weet hoe hy in bykans enige situasie sal reageer. Johnson se doelbewus slordige voorkoms, liefde vir Latinismes, ondeunde humorsin en skynbare ongeorganiseerdheid het die indruk gewek van iemand wat hardop dink eerder as iemand wat besig is om veilige, getoetsde boodskapbrokkies uit te saai.
Farage het ’n informele, kroegpolitieke styl vervolmaak waarin gebreke nie verskuil word nie, maar as deel van ’n politieke handelsmerk funksioneer.
In elke geval het eg of onegte egtheid en onvolmaaktheid die kenbaarheidsdrempel vir kiesers verlaag. Foute, flaters en ongemaklike oomblikke het dikwels hul aantrekking versterk eerder as ondermyn.
Steenhuisen het as beroepspolitikus bitter selde so opgetree. Sy geloofwaardigheid as politikus en leier het uit ’n Blair-Clinton-agtige beheersing van beeld gespruit, nie uit blootstelling van moontlik riskante eg nie.
Sy mediaoptredes was versigtig, gestruktureerd en verdedigend teen waninterpretasie. Dié aanslag was bitterlik sinvol vir ’n DA-leier in ’n Suid-Afrikaanse konteks waar “gerassifiseerde” karikature en kwaadwillige interpretasies deur ’n vyandige media ’n konstante faktor is, veral vir die DA. Maar dit het ook Steenhuisen se vermoë beperk om egtheid, spontaneïteit of kwesbaarheid te toon, juis die eienskappe wat oor die afgelope 10 jaar hoog aangeskryf word deur kiesers.
Die een keer dat Steenhuisen wel liggies aan dié aanslag geraak het, was die gevolge uit ’n politieke-kommunikasie-perspektief fassinerend. Ouer garde soos RW Johnson het Steenhuisen se verskyning op Podcast and Chill with MacG fel gekritiseer, veral omdat die DA-leier in die informele, Farage-agtige ruimte van ’n podsending ’n snedige grappie oor sy eksvrou gemaak het. En tog, as ’n mens deeglik na die kommentare gaan kyk, het die ongepoleerde Steenhuisen ’n egtheid getoon wat hom in werklikheid vermenslik het.
Maar verder as een podsending, het die egtheidspogings van Steenhuisen as ’n moontlik kenbare lekker ou nie eintlik iewers heen gegaan nie. En tog is die idee van kenbaarheid sentraal. Kenbaarheid vereis nie oordadige selfblootstelling of teatraal-populistiese vertonings nie. Dit vereis kontinuïteit tussen die openbare figuur en die verbeelde private persoon. Kiesers moet glo dat die leier wat hulle in ’n krisis sien, in breë trekke dieselfde mens is wat hulle in ’n onbeplande en ontspanne oomblik sou teëkom.
Steenhuisen, ’n produk van die Blair-Clinton-stylskool, het vir die duur van sy DA-leierskap gesukkel om daardie kontinuïteit van karakter en egtheid in die openbare mening te vestig. Sy openbare persona het min ruimte gelaat vir sigbare onvolmaaktheid sonder koste.
’n Struikeling, ’n geharwar of ’n oomblik van onsekerheid, soos die drama om die podsending gewys het, sou nie as vermenslikend gelees word nie, maar eerder as ’n botsing met die verwagting van poleerwerk wat hy vir homself en die publiek in sy politieke styl gekweek het.
Niks hiervan ontken Steenhuisen se prestasies of mislukkings as DA-leier nie. Dit is heeltemal moontlik dat sy stilistiese terughoudendheid, minstens in ’n openbare sin, ’n noodsaaklike korrektief ná jare van interne drama was.
En tog kan ’n mens sien die uittredende DA-leier se worstelinge met die ongunstige aspekte van sy publieke reputasie en politieke karakter dien vooruitskouend as ’n nuttige waarskuwing, veral vir sy waarskynlike opvolger, Geordin Hill-Lewis.
Die openbare gemoed is wispelturig, en stylvoorkeure kom en gaan. Maar een verwagting bly oor die eeue heen opvallend konstant: Kiesers wil leiers hê wat kenbaar voel, wat op ’n oortuigende manier egtheid en spontaneïteit kan projekteer.
Dit beteken geensins dat politici figure soos Trump, Johnson of Farage behoort na te boots nie. Suid-Afrika se konteks maak so iets besonder riskant, asook onnodig. Maar, dit beteken wel leiers wat in die openbare oog politieke kapitaal wil verdien, moet erken dat leierskap, veral in hierdie era van sosiale media en sy afstammelinge, ’n sorgvuldige openheid vereis; ’n vermoë om spontaan en natuurlik te lyk sonder om roekeloos te wees, menslik oor te kom sonder om triviaal te word.
Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie vir die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) en outeur van die boek Rule Breakers: How the 2024 Election Campaign Changed South Africa Forever (Protea).