Waar is die morele maatstaf by die Universiteit van Kaapstad? - Maroela Media

Nov 20, 2018
20 November 2018 - Vermoor al die blankes. Dit is waar ons ons mag bevind indien die morele maatstaf wat by die Universiteit van Kaapstad (UK) gestel is oor ons samelewing heen aanvaar word.

Frans Cronje

Vermoor al die blankes.  Dit is waar ons ons mag bevind indien die morele maatstaf wat by die Universiteit van Kaapstad (UK) gestel is oor ons samelewing heen aanvaar word.  ’n Ingeskrewe student aan die UK het verlede week die erkenning-afdeling van sy proefskrif afgesluit met die frase ‘one settler one bullet’.

Nuusberigte het aangedui dat die visekanselier van die Universiteit, prof Mamokgethi Phakeng, die student lof toegeswaai het en gesê het hoe trots sy op hom was.  Ek het by die Universiteit navraag gedoen oor of die bogenoemde waar was en het verneem dat die visekanselier haar  van die dreigenent van geweld in die student se proefskrif gedistansieer het.  Maar dit is ’n halwe waarheid omdat sy haar net gedistansieer het nadat die storie aandag getrek het.  Haar aanvanklike kommentaar was onbevange lof sonder enige voorbehoud.

Toe het ek die Universiteit gevra waarvoor die visekanselier se lofuiting was indien sy nie saamgestem het met die student se proefskrif nie, maar is meegedeel dat die Universiteit nie verder met my kon kommunikeer nie.

Die Universiteit het in sy aanvanklike reaksie teenoor my die student se opmerkings as ‘tweedrag saaiend en nie konstruktief nie’ gekritiseer.  Dit is egter ook ’n halwe waarheid omdat die opmerkings baie ernstiger as dit was.  Toe Penny Sparrow gesuggereer het dat swart mense ape was, was dít tweedrag saaiend en rassisties (en is sy beboet).  Toe Vicky Momberg ’n swart polisieman, wat haar probeer help het, herhaaldelik die K-woord toegesnou het, was dit tweedrag saaiend en rassisties en is sy daarvoor tronk toe gestuur.  Maar die UK-insident is op ’n ander vlak – ’n naakte rassistiese aanhitsing tot moord.

Die Universiteit het my ook daarop gewys dat ‘spraakvryheid in die Grondwet verskans word’ en dat ‘individue persoonlike verantwoordelikheid moet aanvaar om dié reg uit te oefen (nadat ek gevra het of die Universiteit enigsins teenoor die skuldiges sou optree).  Maar dit is weer eens ’n halwe waarheid.  Dit was nie individue wat in hul persoonlike hoedanigheid opgetree het nie.  Die visekanselier het ’n student van die Universiteit gelukgewens met sy proefskrif, wat onder die toesig van universiteitspersoneel geskryf is, om ’n kwalifikasie wat deur die Universiteit toegeken sou word te verwerf. 

Ons het hier dus drie halwe waarhede:  dat die visekanselier haar van die opmerkings gedistansieer het, dat die opmerkings net tweedrag saaiend was, en dat diegene wat die kommentaar gelewer het persoonlike verantwoordelikheid moes aanvaar, wat impliseer dat dit nie ’n universiteitsaangeleentheid was nie.  Wanneer dit saamgevoeg word het ons ’n verbloeming en die poging om die erns van hierdie uiters ernstige kriminele oortreding –  die opsweping om elke wit man, vrou en kind in hierdie land dood te maak – as onbelangrik af te maak.

Indien die UK ’n agtenswaardige instelling was sou hy die visekanselier geskors het, en saam met haar die student, en enige personeel wat betrokke was by die produksie, aanprysing, verdediging en verspreiding van die inhoud van dié proefskrif, of enige poging om wat later rugbaar geword het af te water of te verdoesel.  Hy sou ’n onafhanklike ondersoek ingestel het oor wat die gewenste optrede moes wees, waaronder die instel van kriminele aanklagte teen diegene wat die proefskrif geskryf of geredigeer het.

Maar met die indien van hierdie artikel het dit nog nie gebeur nie.

Wees dus dankbaar dat die standaard wat by die UK geld nog nie die morele waterskeiding is waarvolgens Suid-Afrikaners die streep tussen reg en verkeerd trek nie.  Ons meningspeilings toon dat 7 tot 8 uit elke tien mense, swart en wit, ryk en arm, wil saamwerk om van ons land ’n sukses te maak.  Hulle gewone ordentlikheid, in die lig van die armoede wat so baie mense ervaar, ontbloot  beter as enigiets anders in watter dieptes die Suid-Afrikaanse akademiese omgewing versink het.

Frans Cronje is die uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR), ’n liberale dinktenk wat ekonomiese en politieke vryheid bevorder. Indien u saamstem met wat u so pas gelees het, kan u hier klik of u naam na 32823 SMS (SMSe kos R1, bepalings en voorwaardes is van toepassing).

 

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/waar-is-die-morele-maatstaf-by-die-universiteit-van-kaapstad/

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi