Vyf dinge wat u oor die anc se pensioenwegraping moet weet - Maroela Media

Mar 08, 2019
8 March 2019 - Met die voortdurend stygende waarde daarvan, is dit geen wonder dat die ANC Suid-Afrika se meer as 5 000 aktiewe pensioenfondse in die oog het nie.

Marius Roodt

Met die voortdurend stygende waarde daarvan, is dit geen wonder dat die ANC Suid-Afrika se meer as 5 000 aktiewe pensioenfondse in die oog het nie.

Voorgeskrewe bates is nie ’n nuwe idee nie – die Nasionalistiese regering het dit ook gebruik, om fondse na ekonomiese sektore van hul keuse te kanaliseer – maar dit is stewig terug op die agenda met die insluiting daarvan in die ANC se onlangs vrygestelde verkiesingsmanifes.

Die regerende party sê dat hy die gebruik van voorgeskrewe bates sal oorweeg om ‘fondse te mobiliseer binne ’n regulatoriese raamwerk vir maatskaplik produktiewe beleggings (waaronder behuising, infrastruktuur vir maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling en township- en dorp-ekonomie) en werkskepping terwyl die risikoprofiele van die geraakte entiteite oorweeg word’.  Dit beteken basies dat die ANC-regering daaraan dink om pensioenfondsbestuurders te dwing om in staatsmandaat-sektore of -maatskappye te belê.  Dit kan, byvoorbeeld, Eskom beteken.

Hier is vyf dinge wat u oor pensioene en aftreefondse in Suid-Afrika moet weet en waarom die regering moontlik op u s’n ingestel mag wees.

1.         Die aftreefondsbedryf in Suid-Afrika is groot.

Omtrent 16 miljoen Suid-Afrikaners is lede van die land se meer as 5 000 aktiewe pensioenfondse.  Ongeveer tien miljoen van hulle dra nog tot hul pensioene by, terwyl die oorblywende deel afgetree het en op die fonds staatmaak vir inkomste.  Die totale gesamentlike bedrag van hierdie spaargeld is baie groot, teen meer as R4 triljoen.  Dit is byna gelyk aan Suid-Afrika se totale BBP; dus is dit ’n aansienlike spaarvarkie.

2.      Suid-Afrika se aftreefondse is – anders as die ekonomie –besig om te groei.

Terwyl Suid-Afrika se ekonomie in ’n bedenklike toestand bly, is die waarde van die land se aftreefondse (ten opsigte van bydraes sowel as totale bates) besig om te styg.  Hou in gedagte dat die ekonomie tussen 2014 en 2016 met 1,5% gegroei het (dit is die totale ekonomiese groei tussen dié twee jare, nie ’n gemiddeld nie).  In teenstelling hiermee het aftreefondsbydraes met byna 13% gestyg, en bates met 16%, terwyl die totale lidmaatskap van fondse met net minder as vyf present gestyg het.  Suid-Afrikaners word dikwels beskuldig dat hulle nie genoeg spaar nie (wat waar is), maar diegene wat wel spaar is toegewyd om ’n neseier vir aftrede op te bou.

3.        Die idee van voorgeskrewe bates is nie nuut nie.

Dit is nie ’n nuwe voorstel wat die ANC in sy manifes maak nie.  Dit is ook by twee partykonferensies  wat in 2017 gehou is geopper en is nou weer eens op die agenda.  Voorgeskrewe bates is nie ’n nuwe konsep in Suid-Afrika nie.  Die apartheid-regering het ook voorgeskrewe bates gebruik om sekere sektore en maatskappye te help befonds.  Toe fondse in die laat 1970’s op ’n hoogtepunt was, moes hulle meer as ’n driekwart van hulle bates in ’n kombinasie van maatskappye in staatsbesit en staatseffekte belê.  Teen die 1990’s is voorgeskrewe bates bevries, maar dit lyk asof die ANC baie gretig is om die beleid te laat herleef.

4.        Voorgeskrewe bates sal u armer maak.

Dit is onwaarskynlik dat bates soos ondernemings in staatsbesit u dieselfde  opbrengs sal gee as ’n maatskappy wat aan die voorskrifte van die vrye mark onderhewig is.  En u sal nie die keuse hê om u geld van ’n  swak presterende staatsmaatskappy te verskuif na een wat u ’n beter opbrengs sal bied nie.  Soos Albert Botha van Ashburton Investments aandui, sal voorgeskrewe bates waarskynlik ’n laer opbrengs op u aftreebelegging beteken.  Indien u ’n opbrengs van drie present, eerder as vier present, bo inflasie kry weens die laer opbrengs wat u waarskynlik van voorgeskrewe bates kan verwag, sal u minder geld hê wanneer u besluit om af te tree, of u sal langer moet werk.  Oor dertig jaar sal hierdie laer opbrengs beteken dat u pensioen op ouderdom 65 16% kleiner sal wees as wat dit normaalweg sou wees, of u sal byna drie jaar langer moet werk om die tekort goed te maak.

5.        Waarom het die ANC u pensioen in die oog?

Die ANC kyk na nuwe maniere om ondernemings in staatsbesit te befonds omdat die regering se geld op raak.  Hy gaan voort om geld in verliesmakende maatskappye soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in te stoot, met min wilskrag om te herstel wat verkeerd is.  Hierbenewens is die regering se lonerekening baie groot en neem dit steeds toe.  Die regering bestee steeds meer as wat hy uit inkomste ontvang – die nasionale begroting het vir meer as ’n dekade geen surplus getoon nie en die regering toon nog altyd baie groot tekorte.  Regeringskuld as ’n proporsie van BBP is byna 60%, die hoogste wat dit nog ooit in demokratiese Suid-Afrika was...En daar word geraam dat die regering in 2018/19 omtrent R587 miljard nodig sal hê om sy werknemers te betaal, wat gereeld verhogings van bo inflasie ontvang, wat hoër is as wat diegene in die privaat sektor verdien.  Die regering is vining besig om die fiskale pad byster te raak – dus moet die feit dat hy hom nou tot die bates van private burgers wend om homself te befonds niemand verbaas nie.

Marius Roodt is hoof van reklame by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ’n liberale dinktenk wat ekonomiese en politieke vryheid bevorder.  Ondersteun die IRV deur hier te klik of SMS u naam na 32823 (SMSe kos R1, bepalings en voorwaardes geld).  

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/vyf-dinge-wat-u-oor-die-anc-se-pensioenwegraping-moet-weet/

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi