Vuurwapenbeleid belangrik vir álmal - Maroela Media

May 14, 2019
14 May 2019 - Wat ’n mens se standpunt oor vuurwapeneienaarskap ook al mag wees, behoort die wyse waarop die staatsowerhede die saak in die verlede benader het ’n rede tot kommer te wees vir almal wat burgerlike vryheid en regverdige administrasie van waarde ag.

Terence Corrigan

Konsepwetgewing sou selfverdediging as ’n beweegrede vir die besit van ’n vuurwapen verwyder.  Indien slegs die polisie en die leër die reg het om vuurwapens te besit, sou die samelewing nie veiliger nie, maar meer kwesbaar wees.

Met sy teenwoordigheid by die vernietiging van verskeie duisende vuurwapens het die minister van polisie Bheki Cele gesuggereer dat die land in die rigting van die uitskakeling van private vuurwapenbesit moet beweeg.  ‘Dit sou beter wees as ons eendag private burgers sonder enige vuurwapens kan hê.  Dit sal geen kleinigheid wees op die pad vorentoe nie, maar dit sal beter wees indien slegs die weermag, naamlik die polisie en soldate, eendag [toegang tot] vuurwapens het,’ het hy gesê.

Hy het omstredenheid uitgelok – soos ’n stortvloed kritiek op sosiale media aangedui het.  Suid-Afrika se vuurwapenpolitiek spreek die dringende besorgdheid oor misdaad en persoonlike veiligheid aan.  Dit geld egter ook as ewe dringende maatstaf vir debatte oor burgerskap, vryheid, en die doelmatige rol en verantwoordelikheid van die staat.  Dit is ’n onderwerp wat baie driftige gevoelens gaande maak onder diegene wat daarby betrokke is.  Wat minder goed verstaan word, is dat dit alles uiters belangrik vir die land as ’n geheel is – en ook vir mense wat geen besondere belang by vuurwapens het nie.

In beginsel handel die hele wesenlike debat oor een oorkoepelende vraagstuk:  Onder watter omstandighede behoort vuurwapenbesit toegelaat te word?  Konsepwetgewing wat verlede jaar opgeduik het en wat selfverdediging as ’n beweegrede vir die besit van ’n vuurwapen sou verwyder, was waarskynlik die duidelikste onlangse illustrasie hiervan.  Maar miskien is ’n ander smeulende kwessie selfs belangriker.

Die vraagstuk van die status van lisensies wat verval het is, oppervlakkig beskou, hier ter sprake.  Ingevolge die Vuurwapenbeheerwet (FCA) van 2000 is lisensies vir bepaalde tydperke uitgereik en moes dit hernu word sodra dit verval het.  Terwyl die wet bekendgestel is, het ’n toenemende aantal vuurwapeneienaars nagelaat om lisensies te hernu, wat hulle aan die verkeerde kant van die wet geplaas het.

Vroeg in 2016 het die toenmalige polisiekommissaris Khomotso Phahlane ’n riglyn met die volgende verklaring uitgereik: ‘In die geval waar ’n persoon om ’n lisensie wil aansoek doen of dit hernu, maar waar die geldigheid van die lisensie reeds verval het, moet die persoon ingelig word dat hy of sy nie langer in die wettige besit van die vuurwapen is nie en dat die vuurwapen by die naaste polisiestasie ingedien moet word.’

In wese het hierdie riglyn beteken dat enigeen wat versuim het om voor die verval van die vorige lisensie van ’n vuurwapen ’n aansoek om herlisensiëring daarvan in te dien, besit daarvan moes prysgee.  So ’n persoon was nou in die onwettige besit van wapens en ammunisie (’n ernstige oortreding op sigself, met die moontlikheid van ’n 15 jaar-vonnis), met geen ander uitweg as om dit aan die polisie te oorhandig nie.

Vreemd genoeg het hierdie riglyn egter nie voorsiening vir enige ander gedragswyse, geen appèl of laat aansoek gemaak nie.  Dit was ondanks die feit dat daar stellig  in die Wet vir sodanige bepalings voorsorg getref is, en selfs op die voorgeskrewe aansoekvorms (SAPS 518 a) voorsiening gemaak is.

Vuurwapeneienaarsgroepe het hulle aanvanklik onthou van ’n regstreekse uitdaging hiervan, in afwagting van duidelikheid van die howe oor die grondwetlikheid van die FCA se lisensiëringsprosedures, deur ’n protes wat deur die South African Hunters and Game Conservation Association (SAHGCA) aangedryf is.  Dit was uiteindelik onsuksesvol, deurdat die Konstutusionele Hof bepaal het dat die lisensiëringstelsel grondwetlik was.  Ewe belangrik – en in die gees van onderhandeling ’n vriendskaplike oplossing – het hulle probeer om oor hierdie saak met die polisie te skakel.  Die moontlikheid van ’n amnestie, of om die geldigheid van bestaande lisensies uit te brei, is ondersoek.

Daar was geen reaksie nie, en toe die media kommentaar van die polisie gedra het dat nie ’n amnestie of verlenging van geldigheid in die vooruitsig was nie, het die drukgroep Gun Owners of South Africa (GOSA) hom na die hof gewend.

GOSA het daarin geslaag om tussentydse verligting te verkry, met voorsittende regter Bill Prinsloo wat die implementering van die riglyn verbied het.

Om te verstaan waarom dit verder as mense met vervalle lisensies en diegene wat betrokke is by beleidsdebatte rondom vuurwapenbesit sou weerklank vind, sal dit insiggewend wees om te kyk na ’n deel van wat regter Prinsloo in Julie 2018 in sy uitspraak gesê het.

In breë trekke het hy bevind dat daar skynbaar geen rede was waarom laat aansoeke nie oorweeg kon word nie, aangesien selfs die polisiedokumentasie aanvaar het dat dit ’n geldige deel van die lisensiëringstelsel was.  Daar is ook gelet op die ‘vlaag van aktiwiteit’ wat voorgekom het na die uitspraak in die saak wat deur SAHGCA gebring is.  Dit het, volgens regter Prinsloo, meegebring dat ‘verskeie polisie-amptenare in verskeie hoedanighede en van verskeie range druk begin uitoefen het op vuurwapeneienaars wie se lisensies volgens die bepalings en die Wet verval het … om onmiddellik hul wapens vir vernietiging te oorhandig, by gebrek waaraan hulle vervolg, gearresteer en met hulle afgereken sal word’.

Regter Prinsloo het ook verwys na die beperkings op wat die polisie realisties kon regkry.  Met ’n geraamde 450 000 lisensies wat ter sprake was, sowel as tot 60 miljoen ladings ammunisie, sou ’n poging tot afdwinging van die riglyn die polisie se logistiese vermoë tot breekpunt strek.  Daar was niks wat daarop gedui het dat hulle die taak van ontvangs, katalogisering, toetsing, berging, vervoer en vernietiging van wapens van so ’n omvang sou kon hanteer nie.

Soos GOSA in sy geskrifte aangedui het, was die gebrek aan kapasiteit van so ’n aard dat dit nie ongewoon was dat vuurwapenlisensie-aansoekers maande of selfs jare lank moes wag voordat hul lisensies bereg kon word.  Die bestuur van vuurwapenherwinning op massaskaal sou dus ’n heelwat meer veeleisende onderneming wees.

Daarbenewens is hele elemente wesenlik tot die werking van die FCA afwesig of wanfunksioneel.  Vernaamlik die elektroniese stelsel om tussen handelaars en die Sentrale Vuurwapenregistrasie-eenheid te kommunikeer, en om die lisensiëringstelsel te bestuur, is nog nie aanlyn beskikbaar nie.

Dit word vererger deur eenvoudige, omkoopbare korrupsie, die manipulasie van die stelsel en die deurgee van vuurwapens aan misdadigers.  Regter Prinsloo het in sy uitspraak hieroor uitgewei met die opmerking: ‘Ek is tevrede dat dit op grond van die getuienis duidelik is dat oneerlike en onbetaamlike gedrag in sekere range van die polisie op sekere plekke wanneer die bewaking en hantering van vuurwapens ter sprake is aan die orde van die dag is en algemene kennis is.’

Dit is inderdaad so.  In 2014 het ’n geheime wapenvoorraad wat in Norwood, Johannesburg, gevind is baie wapens bevat wat by die polisie ingegee is en behoorlik afgeteken is vir vernietiging.  In 2016 is kol Chris Prinsloo skuldig bevind daaraan dat hy vuurwapens wat vir vernietiging bestem was aan rampokkers gegee het.  Duisende van hulle.  (En dit is, terloops, ’n ernstige teregwysing teen die gedragswyse waarna minister Cele verwys het.)

Gun Free South Africa het dit, miskien met ’n mate van ironie, die beste opgesom – en ook ’n slag die sentimente van vuurwapeneienaars raakgevat.  Met verwysing na die Norwood-geval het ’n woordvoerder vir die organisasie die volgende kommentaar gelewer: ‘Toe vuurwapeneienaars tydens die 2009- nasionale vuurwapenamnestie hul vuurwapens aan die polisie oorhandig het, het hulle vertrou dat die polisie hierdie vuurwapens sou vernietig.  Die publiek het hulle deel gedoen.  Hulle het hul vuurwapens vir vernietiging by die polisie ingegee.  Dat ’n deel van hierdie vuurwapens in ’n onwettige versteekte vuurwapenvoorraad gevind is, maak ’n bespotting van Suid-Afrika se openbare verbintenis tot veiligheid en sekuriteit deur voorraadstapels van wapens te vernietig.’

Dit verskoon nie vuurwapeneienaars van hulle plig om aan die wet te voldoen nie – maar om te weier om aan diegene wat geldige redes vir nienakoming het die speling wat die wet toelaat te gee, kan nie as enigiets anders as beledigend en onregmatig beskou word nie.

In Desember verlede jaar het die hof ’n appèl deur die polisie teen regter Prinsloo se bevel aangehoor.  Die hof het in werklikheid die vorige uitspraak gehandhaaf.  Diegene met wapens waarvan die lisensies verval het kon nie gepenaliseer word nie, en vuurwapens kon nie gekonfiskeer word nie.  Teen die gegewe agtergrond is dit positief.

Wat dit alles aandui is kolossale oorreaksie.  Dit is die arbitrêre uitbreiding van staatsmag, en beleidsbepaling deur geheime handelswyse.  Dit verruim, sonder wetlike regverdiging, die grense van wat bestaande wetgewing toelaat, toevertrou aan ’n stelsel waarvan die kapasiteit en integriteit om dit te dra twyfelagtig is, om die minste te sê.

Dit gaan oor die gehalte van die verhouding wat Suid-Afrika se mense met hul staat geniet, en of dit ’n verhouding is wat uit vryheid of dwang spruit.  Wat ’n mens se standpunt oor vuurwapeneienaarskap ook al mag wees, behoort die wyse waarop die staatsowerhede die saak in die verlede benader het ’n rede tot kommer te wees vir almal wat burgerlike vryheid en regverdige administrasie van waarde ag.

Terence Corrigan is ’n projekbestuurder van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).  Lesers word genooi om by die IRV aan te sluit deur ’n SMS na 32823 te stuur (SMSe kos R1; bepalings en voorwaardes geld).

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/vuurwapenbeleid-belangrik-vir-almal/

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi