Hermann Pretorius
As Jacob Zuma se teenstanders maar ag geslaan het op die betekenis van sy naam, sou die geskiedenis van Suid-Afrika moontlik baie anders gelyk het, skryf Hermann Pretorius in sy nuwe boek, 'Rule Breakers: How the 2024 election campaign changed South Africa forever'.
Die gemoedere rondom Zuma is selfs verder opgejaag na iets wat nie ongewoon sou wees in ’n politieke riller nie. Omstreeks 19:40 op die aand van 28 Maart – op die R66 tussen Gingindlovu en Eshowe in KwaZulu-Natal – het ’n motor teen Zuma se konvooi gebots en die voertuig getref waarin die voormalige president gery het.
Die nuus het binne die MK-party versprei deur ’n WhatsApp-boodskap omstreeks 20:00:
“Kamerade, JZ was nou net in ’n motorongeluk naby Eshowe. ’n Sekere motor het reguit in sy motor in die konvooi vasgery. Gelukkig het hy oorleef en is in ’n ander motor geplaas, en hulle het gery. Onthou, iemand het gesê JZ sal in die hospitaal wees teen die tyd wat die verkiesing kom.”
Teen 09:04 die volgende oggend is die boodskap laat uitlek, en die nuus van die ongeluk het algemeen bekend geword.
Na aanleiding van die ongegronde insinuasie van vuilspel in die uitgelekte boodskap het die MKP op 29 Maart om 10:00 sy bewering van ’n onheilspellende oogmerk agter die ongeluk openbaar gemaak.
In ’n onderhoud met die SAUK het Musa Mkhize, wat aan die hoof van die party se veldtog in Zuma se tuisprovinsie staan, gesê die MKP het “gewag dat dit gaan gebeur, en dit het gebeur, want die president is gewaarsku dat hy in die hospitaal gaan beland. Ons weet nie wat nog voorlê nie”.
Mkhize het Bheki Cele en sy departement van polisie uitgesonder as betrokke by die voorval en beweer dat Zuma se veiligheid “ernstig in die gedrang gekom het weens politieke inmenging”, wat tot verminderde veiligheid rondom die voormalige president gelei het. En dit het, volgens die MKP, tot die “sogenaamde ongeluk” gelei.
News24 het ’n bron aangehaal wat gesê het die ongeluk was mense – klaarblyklik teenstanders van Zuma – wat besig was met hul “ou streke”.
’n Ander bron het gesê die ongeluk was die gevolg van ’n dronkbestuurder wat beheer oor sy voertuig op die kronkelpaaie buite Eshowe verloor het. Die bestuurder, wat ná die ongeluk in hegtenis geneem is, was volgens hierdie bron “geskok om die presidentskonvooi te sien en het reguit daarin vasgery. Hy was so dronk dat hy nie eens regop kon staan nie. Ek dink nie dit was opsetlik nie. Ubaba is in ’n ander voertuig geplaas en party mense het agtergebly.”
Foto’s van die voertuig waarin Zuma gery het, wys skade aan die deure en wiele aan die bestuurderskant – hoofsaaklik skrape langs die lengte van die voertuig. Hierdie merke dui op ’n ligte, herleide botsing eerder as ’n geteikende trefslag. Die skade aan die motor was beduidend, maar waarskynlik nie van so ’n aard dat die voertuig buite beheer sou raak of die insittendes ernstig beseer word nie.
Die feit dat die bestuurder slegs aangekla is van dronk-, roekelose en nalatige bestuur, wys verder dat, selfs in die onmiddellike nasleep van die skokvoorval waarin ’n top- politieke figuur betrokke was, die feite eenvoudig nie die MKP se paranoïese assegaai-en-sluier-bewerings ondersteun het nie.
En dit is op hierdie punt dat die narratief wat die MKP toegelaat het om Maart 2024 te oorheers, ten volle sigbaar word. In sy onderhoud met SABC News het Musa Mkhize ’n beroep gedoen “op alle Suid-Afrikaners om alles moontlik te doen om pres. Zuma te beskerm en seker te maak hy is veilig, want hy is die enigste persoon wat sterk gestaan het, wat baie gely het vir hierdie land. En hy is die enigste persoon, die enigste president wat sal sorg dat mense ná die verkiesing vry sal wees en kry wat hulle wil hê”.
Dit is natuurlik ’n bisarre stelling, maar bevat die kernboodskap van slagoffer-wees wat Zuma oor ’n dekade heen vervolmaak en nou in die veldtog benut het: Hy is uit sy amp gestoot en word steeds geteiken deur “verraaiers en apartheidsmedewerkers” wat gekant is teen sy edele en eensame missie om die verdrukte swart slagoffers van witmonopoliekapitaal te bevry.
Na aanleiding van die gedeeltelike bevriesing van Zuma se rekening op 19 Maart het Nhlamulo Ndhlela FNB daarvan beskuldig dat sy optrede polities gemotiveer is: “Hulle probeer pres. Zuma straf soos hulle altyd maak, maar die oorweldigende reaksie wat ons van die mense kry, sal ons nie stilmaak nie, en ook nie die mense nie. Die bankrekening wat gesluit is, is juis die een waarin hy sy salaris en pensioen ontvang het. Dit is duidelik opsetlik. Daar was baie ander rekeninge – hoekom juis daardie een?”
Of dit nou polities gemotiveerd was of nie, die bevriesing van Zuma se rekeninge het sy party in staat gestel om hul sleutelboodskap te herhaal: Van Mbeki se onsuksesvolle aanvalle op sy opvolger, tot die ANC se regsaksies om die MKP se deelname aan die 2024-verkiesing te voorkom, tot die bevriesing van sy bates, tot die OVK se verbod dat hy self in die verkiesing staan, tot die motorongeluk op die kronkelpaaie buite Eshowe – Zuma is geteiken en vervolg oor sy durf om ekonomiese bevryding vir swart Suid-Afrikaners na te jaag.
Hy was terselfdertyd die kragtige vegter en die kwesbare slagoffer. Dit was sterkman-populisme in sy suiwerste vorm – iets wat selfs politici soos Maduro en Trump sou laat bloos. En dit het ’n party wat reëls omseil, gedryf tot ’n verbysterende verkiesingsuitslag.
Maart 2024 het in helder detail ’n kernkenmerk van die MKP geopenbaar wat dit onderskei het van bykans enige ander party of beweging in die post-1994- demokratiese era: Dit is nie ’n party van politieke ideologie nie, maar van persoonlike mitologie.
Teenoor die mitologiese beeld van Jacob Zuma as die gewone mense se gejagte en gewonde vegter uit Nkandla – oorspronklik deur die ANC self geskep toe hulle ’n dekade gelede sy presidentskap wou beskerm – kon Ramaphosa se party eenvoudig nie ’n doeltreffende teenantwoord vind nie.
Mense het positief op die MKP se opstand gereageer. Zuma se slagofferstatus, as teiken van beskuldigings van “verraaiers” soos pres. Ramaphosa, het die teenoorgestelde van die ANC se doel bereik: Zuma is nie verswak deur hierdie aanvalle nie, maar versterk. Die MKP het die maand begin op 9% en dit afgesluit op 16%. Die ANC het intussen gesien hoe hul steun afneem van 42% na 39%.
Die EFF, vasgevang tussen sy twee “familiepartye”, het gesukkel om selfs dubbelsyfer-steun te bereik en die maand op 8% afgesluit. Die gesamentlike steun van die ANC-MKP-EFF-blok het op 65–68% gebly, maar die stryd om die 10%-swaaistem binne daardie blok het onherroeplik begin wegbeweeg van Ramaphosa en Malema.
Zuma, die passievolle skaakspeler, was besig om sy vyande se pionne een vir een te vat. As die MKP op 29 Mei dieselfde vlak van steun kon behou, sou dit die suksesvolste debuut deur ’n nuwe party in die geskiedenis van ons jong demokrasie wees. In die laaste drie maande van die 2024-veldtog het die MKP nog ’n rat hoër ingesit en die druk verder opgeskuif, terwyl sy teenstanders gespartel het.
Die ANC se haastige poging aan die einde van hierdie merkwaardige maand om uMkhonto weSizwe-veterane van sy eie struggle-era na KwaZulu-Natal te stuur, was ’n paniekgedrewe skuif teen ’n opponent wat elke fout van Ramaphosa se ANC tot sy voordeel gebruik het.
Zuma het die rol van revolusionêr en martelaar volmaak vertolk en bemagtig, soms lomp en per ongeluk, deur ’n ANC wat nie kans gesien het om die MKP se opmars doeltreffend te stuit nie.
Ramaphosa se eens formidabele verkiesingsbates – sy gewildheid, vriendelikheid en staatsmanagtige teenwoordigheid; die vertroue wat die publiek hom gegun het bloot omdat hy nie Jacob Gedleyihlekisa Zuma was nie – dit alles was eenvoudig nie opgewasse teen die MKP se momentum nie.
“Gedleyihlekisa” is ’n afkorting van die isiZulu-uitdrukking “ngeke ngithule umuntu engigedla engihlekisa”. In Afrikaans beteken dit: “Ek sal nie stilbly as iemand met ’n bedrieglike glimlag my skade aandoen nie.”
As meer van sy teenstanders, van Thabo Mbeki tot Cyril Ramaphosa, ag geslaan het op dié naam, sou die geskiedenis van Suid-Afrika moontlik baie anders gelyk het.
In Maart 2024, met Suid-Afrika se mees mededingende verkiesing sedert 1994 net drie maande weg, het Jacob Gedleyihlekisa Zuma beslis nie stilgebly nie.
Trouens, hy het die volume oopgedraai en daarmee ’n menigte van chaotiese gebeure en strategiese politieke besluite begin wat uiteindelik sou beteken dat sy party 29 Mei met ongeëwenaarde momentum sou ingaan.
Dit is ’n vertaalde uittreksel hierdie uit 'Rule Breakers: How the 2024 election campaign changed South Africa forever' deur Hermann Pretorius, uitgegee deur Protea Book House, en kos R420.