Gabriel Crouse
Die Noordwes Hoër Hof het nog ’n verregaande beslissing gelewer. Verlede jaar het regter Ronnie Hendricks vir Pieter Doorewaard en Philip Schutte skuldig bevind aan die dood van Matlhomola Moshoeu deur hom van ’n bakkie af te gooi vir die steel van sonneblomme. Nou is hul appèl teen die uitspraak geweier.
Daar is drie redes wat elkeen op sigself sterk genoeg is om regter Hendricks se uitspraak in Doorewaard en Schutte se guns te hersien. Gesamentlik is die redes oorweldigend, en die weiering om verlof tot appèl toe te staan gaan dus die verstand te bowe.
Die saak teen Doorewaard en Schutte is gebou op die bewerings van ’n enigste getuie, deeltydse Coligny-slagter, Bendel Pakisi. Pakisi het later gesê hy het die hele storie opgemaak, en het toe gesê dat hy omgekoop is om te ‘erken’ dat hy ’n leuenaar was, en het volgehou dat sy oorspronklike bewerings inderdaad waar was. Dit is nie in die eerste plek relevant tot die hof nie omdat dit eers na die verhoor ter sprake gekom het en hoogs aanvegbaar is.
Wat wel ter sake is, is dat Pakisi aanvanklik vir senior polisiemanne vertel het dat hy gesien het hoe twee wit mans moord pleeg, maar dat hy later sy storie verander het om te sê dat daar drie was. Dit was onverklaarbaar, want Pakisi beweer dat hy ure saam met Doorewaard en Schutte deurgebring het, wat hom na bewering na die insident ontvoer en in die sonneblomveld gemartel het. Regter Hendricks het nie eens die moeite gedoen om hierdie teenstrydigheid te noem nie, wat nog te sê van ’n verduideliking daarvoor in sy finale uitspraak.
Die tweede rede om Pakisi se bewerings te betwyfel is op forensiese bewyse gegrond. Die staat se patoloog, dr Ruweida Moorad, het bevind dat die merkwaardigste omtrent Moshoeu se beserings was dat daar geen beserings aan sy handpalms, hande of polse was nie. Sy beserings het gestrook met ’n invou-en-rol-tipe val, maar nie met ’n handpalms-uit duikbeweging nie.
En tog het Pakisi in die hof beskryf hoe hy Moshoeu in die duikposisie van ’n swemmer van die bakkie sien ‘vlieg’ het, horisontaal uitgestrek met die kop laer as die voete, en die arms en hande vorentoe uitgestrek om sy val te breek – presies die posisie wat uitgeskakel is deur die gebrek aan hand/pols-beserings wat dr Moorad so veelseggend gevind het. Ondanks hierdie teenstrydigheid het Hendricks bevind dat dr Moorad Pakisi se storie ‘bevestig’ het.
Die derde rede om die aantygings te betwyfel is, indien moontlik, selfs duideliker afgebaken. Pakisi beskryf hoe hy deur die aanvallers op ’n hellevaart geneem is wat van Coligny tot byna by Lichtenburg gestrek het. Selfs indien hulle teen ’n waansinnige 120km/h gery en die verskillende martelings uitgevoer het – om hom tot in ’n dam te neem voordat hulle hom byna geskiet het, hom gedwing het om alkohol te drink en lang afstande te hardloop totdat hy opgegooi het en toe gedwing is om sy eie vomeersel te eet, hom gedwing het om te hardloop terwyl hulle koeëls rondom sy enkels geskiet het – sou dit ’n uur geduur het.
Doorewaard en Schutte se fone vertel egter ’n ander verhaal. Hulle het die oggend van Moshoeu se dood drie fone by hulle gehad. Tussen hulle het hierdie toestelle tydens die kritieke tydperk 23 ‘transaksies’ geregistreer. Elke transaksie – oproep of SMS – word deur ’n spesifieke toring geroeteer en geregistreer. Die hoëfrekwensiegebruik van hierdie fone dui daarop dat hulle nie daardie oggend die nabyheid van Coligny en sy onmiddellike omgewing vir langer as ’n paar minute op ’n slag kon verlaat het nie, ’n faktor wat heeltemal strydig met Pakisi se storie is en in Hendricks se uitspraak grootliks geïgnoreer is.
Die Coligny-moord is polities hoog gelaai. Skynbaar aangehits deur die EFF en ander politieke hoopvolles, is geboue op die dorp geplunder en afgebrand deur ’n kwaadwillige groep wat ’n vorm van geregtigheid vir die gestorwe Moshoeu gesoek het. Dit blyk dat baie van die slagoffers bruingekleurde vreemdelinge was.
’n Deurslaggewende aspek van hierdie politieke element is die getuienis van adjudant-offisier Popo Seponkane wat Pakisi geken het en van die begin af sy storie betwyfel het. Regter Hendricks het in sy finale uitspraak vir Seponkane aan hewige kritiek onderwerp. Hy het versuim om te noem dat Seponkane nie in die hof verskyn het om te getuig nie uit vrees vir sy lewe en die veiligheid van sy gesin. Regter Hendricks het ook in gebreke gebly om enige druk op die polisie of die staatsaanklaer toe te pas om ondersoek in te stel waarom ’n amptenaar van die Suid-Afrikaanse Polisie die vooruitsig van getuienislewering onder eed, in die hof, as ’n lewensbedreigende gebeurtenis beskou het.
Intussen verkwyn Doorewaard en Schutte in die tronk as klaarblyklike slagoffers op die altaar van vooroordeel om ’n massa wat honger is vir, soos Rian Malan dit stel, ‘wit vlees’ tevrede te stel. Die appèlproses is nog nie uitgeput nie; ’n nuwe appèl na ’n hoër hof kan binnekort verwag word.
Gabriel Crouse is die George F D Palmer Finansiële Joernalis Trust-genoot by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), a liberale dinktenk wat poilitieke en ekonomiese vryheid bevorder.
https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/te-veel-los-drade-om-nie-appel-te-gee-20190602