Taksbetalers staan pa vir dié groteske buit van pensioene - Netwerk24

Feb 09, 2020
9 February 2020 - Die vakbondfederasie Cosatu se “oerknal”-reddingsplan vir Eskom het diefstal oral daaroor geskryf.

Frans Cronje en Michael Morris 

Die vakbondfederasie Cosatu se “oerknal”-reddingsplan vir Eskom het diefstal oral daaroor geskryf.

Suid-Afrikaners het rede om uiters bekommerd te wees oor die entoesiasme van vakbonde, die regering en groot sakeondernemings om nuwe geldbronne te vind om mislukte staatsondernemings soos Eskom aan die lewe te hou terwyl hulle geen geesdrif toon om die werklike oorsaak van die probleme, wat die groeiende skuld en tekort aan kontant veroorsaak het, te konfronteer nie.

Die risiko is dat al hierdie geld ingesamel word sonder dat ’n enkele senior persoon in die regering of in ’n staatsonderneming vervolg word en tronk toe gestuur word. Baie van hierdie individue is steeds in hul poste en daar is baie min wat daarop dui dat hulle hul gedrag fundamenteel verander het.

Nou hoor ons dat Cosatu se voorstelle vir ingryping – nie net by Eskom nie – in breë beginsel aanvaar is in gesprekke met die regering en die sakewêreld.

Volgens Reuters is Cosatu se voorstel, waarop pres. Cyril Ramaphosa “gunstig” gereageer het, om Eskom se skuld tot R200 miljard te verminder vanaf die huidige vlak van ongeveer R454 miljard deur geld van staatsontwikkelingsinstellings en die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) te gebruik. Die OBK is die waghond oor R2 130 miljard van hoofsaaklik staatspensioene en die grootste batebestuurder in Afrika.

Namate die behoefte toeneem, sal hulle net nóg en nóg vat.

Die plan word as ’n oplossing aangebied, maar gaan net die kwesbaarheid van gewone Suid-Afrikaners verhoog.

Cosatu is so opgewonde oor die idee dat hy hoop dat Rama­phosa dit volgende week in sy staatsrede sal onthul.

Wat gaan regtig hier aan?

Dit is duidelik dat staatskaping die afgelope dekade die tradisionele bronne uitgeput het van openbare finansiering wat die patronaatnetwerke ondersteun wat die ANC verenig hou. ’n Mens kan dit sien aan die styging van die begrotingstekort en die vlakke van staatskuld wat in ’n dekade meer as verdubbel het.

Die tekort aan kontant dwing die regering in ’n hoek in waar hulle nou duisende werkers moet afdank, moeilike besuinigingsmaatreëls moet instel en die duur aankoopkontrakte van staatsondernemings moet hersien.

Ons peilings toon dat steun vir die ANC steeds daal en om nou staatsamptenare en tenderpreneurs se kontantkraantjie toe te draai, gaan daardie verlies aan steun net versnel.

Daarom moet die regering nou alternatiewe kontantbronne ontgin, beginnende met die laaste reserwes wat weggesteek is op die solders van openbare instellings.

So het die Suid-Afrikaanse Lugdiens, byvoorbeeld, die afgelope week bevestig dat hy sy oë het op die R100 miljard surplus in die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) as deel van hul proses om “oplossings te vind om hul finansiële uitdagings te verlig”. Dit nadat hulle net ’n week gelede ’n reddingsboei van R3,5 miljard van die staatsbeheerde Ontwikkelingsbank gekry het.

En nou stem die vakbonde en die groot sakeondernemings by Nedlac saam dat dit miskien tyd is om die finansiële Pandora-kis van staatsamptenare se pensioene oop te maak.

Die OBK is ’n skatkis van kontant en die versoeking is te groot om te weerstaan. En nadat hulle daardie kissie oopgesluit het, sal hulle sê hulle sal net ’n bietjie neem – en sal dit baie verantwoordelik gebruik.

Aangesien hierdie geld egter aan pensioentrekkers behoort, is die vraag: Is die eienaars geraadpleeg? Ons weet indien daar aan enige gewone pensioentrekker gevra word: “Kan ek u spaargeld kry om Eskom te finansier?” sou die antwoord waarskynlik ’n ondubbelsinnige “nee” wees.

Wat is dan hier aan die gang? Ons stel ons voor dat wat hier gebeur, is dat vakbonde ’n ooreenkoms met die regering gesluit het in ruil vir ’n belofte van die regering om nie werkers af te dank of voordele te besnoei nie. Die ooreenkoms sal werkers toelaat om die risiko te aanvaar om bankrot staatsondernemings aan die gang te hou.

In werklikheid is dit niks anders nie as dat ’n werknemer sy spaargeld gebruik om sy eie salaris te betaal.

Maar die impak hiervan strek veel verder as net staatsamptenare en hul pensioene. Die probleem is dat ’n groot deel van staatsamptenare ’n vastevoordeel-pensioen kry – wat beteken dat hul pensioen gewaarborg word, ongeag of die fonds geld het of nie. Die las word bloot aan die belastingbetaler oorgedra.

Die OBK kan dit dus bekostig om geld af te staan ??in die verwagting dat die regering dit later van die belastingbetalers kan verhaal.

Dit is duidelik vir enige waarnemer van Suid-Afrika die afgelope dekade dat ’n tekort aan kontant nie die rede is waarom staatsbeheerde maatskappye misluk nie. Die ware redes is korrupsie, die bemagtiging van kaders, ondoeltreffendheid en te veel personeel.

Daar is iets grotesks aan groot ondernemings, groot arbeidsorganisasies en ’n groot regering wat sê: Kom ons buit werkers se pensioene om die hele vrot saak aan die gang te hou sonder enige hervormings. Want om kontant na hulle te gooi, verleng jy bloot die lewensduur van die ANC.

Aanvanklik kan die regering sê hulle sal net ’n bietjie neem. Maar wat dan? Namate die behoefte toeneem, sal hulle net nóg en nóg vat. En dit is duidelik waar dit alles gaan eindig.

Klein oligargieë van kaders sal voortgaan om hul tenders en kaderontplooiingsnetwerke te finansier deur geld uit ’n pensioenfonds te vat waarvoor belastingbetalers uiteindelik sal moet pa staan – sonder om enige maat­reëls in te stel om die dinge wat die probleme in die eerste plek veroorsaak het, reg te stel.

Sodra die pensioene in die openbare sektor op is, sal hulle op die volgende bron, private geld, toeslaan. Die argument sal wees dat staatsamptenare geweldige opofferings gemaak het, terwyl die rykes, die private sektor, die banke, ensovoorts niks gedoen het nie. Die mantra sal wees: Die armes het Eskom probeer red, terwyl die rykes niks gedoen het nie.

Verbind die kolletjies en die volgende stap sal wees om banke en private pensioenfondse te dwing om ’n persentasie van hul bates in staatsbeheerde “ontwikkelingsprogramme” deur voorgeskrewe bates te belê, ’n openlik verklaarde beleidsdoelwit van die regerende ANC en een waarteen ons al baie jare waarsku.

Die beplande aanval op pensioenfondse toon dat die era van staatskaping nog nie verby is nie. Die afgelope week is die roof van pensioentrekkers en belastingbetalers voor ons oë in helder daglig beplan deur vakbonde, die regering en sakeleiers.

* Frans Cronje is uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV). Michael Morris is hoof van media by die IRV.

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/taksbetalers-staan-pa-vir-die-groteske-buit-van-pensioene-20200208

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi