Swart leerders ly weens die swak onderwysstelsel - Maroela Media

7 June 2018 - Suid-Afrikaanse onderwys beleef ’n krisis. Ons kinders bly agter ten opsigte van lees-en-skryf-vaardighede en gesyferdheid in vergelyking met ander vergelykbare lande en dit is ’n ope vraag hoe goed ons skole jong mense vir die terrein van universiteitstudie of werk voorberei.

Marius Roodt

Suid-Afrikaanse onderwys beleef ’n krisis.  Ons kinders bly agter ten opsigte van lees-en-skryf-vaardighede en gesyferdheid  in vergelyking met ander vergelykbare lande en dit is ’n ope vraag hoe goed ons skole jong mense vir die terrein van universiteitstudie of werk voorberei.

Statistiek toon, byvoorbeeld, dat ’n minderheid van studente ’n driejaar-graad in die toegewese tyd voltooi – slegs 29% van studente wat in 2011 met hul eerste jaar begin het, het binne drie jaar gegradueer.  Die hoë werkloosheidskoers onder jong mense toon ook dat baie nie vir die lewe na skool voorberei is nie.  Die jongste syfers wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, is skrikwekkend.  Meer as die helfte van mense tussen 15 en 24 jaar oud is werkloos, en dit styg tot twee derdes binne die uitgebreide definisie van werkloosheid (wat mismoedige werksoekers insluit).  Die laaste keer dat minder as die helfte van mense tussen 15 en 24 jaar oud werk gehad het was so lank gelede as die derde kwartaal van 2015.

Die statistiek is verdoemend en die vooruitsigte vir Suid-Afrika is skraal.  Ons skolestelsel misluk jammerlik om mense voor te berei om suksesvolle en produktiewe burgers te wees.

Waaroor ons werklik bekommerd moet wees is dat dit swart kinders is wat buite verhouding meer  onder die swak onderwysuitkomste ly.  Kwintiel 1-skole, die land se armstes, word deur omtrent 40% van swart kinders bygewoon en toon die swakste resultate.  In 2016 was die slaagsyfer in kwintiel 1-skole 62,5% (teenoor die algehele slaagsyfer van 72,5%).  Die proporsie leerders in kwintiel 1-skole wat goed genoeg geslaag het vir universiteitstoelating was 17% (teenoor ’n algehele universiteitstoelatingskoers van omtrent ’n kwart).  Resultate in die rykste – kwintiel 5 – skole was baie beter.  Die proporsie kinders in kwintiel 5-skole wat matriek geslaag het was meer as 90%, en meer as die helfte van hulle het goed genoeg geslaag om universiteit toe te gaan.

Swart kinders het ook slegter uitslae in sleutelvakke in vergelykjing met bruin, Indiër- en wit kinders.  In die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamens het, byvoorbeeld, slegs 28% van swart leerders dit  reggekry om meer as 40% in wiskunde te behaal, met slegs nege present hoër as 60%.  Hierteenoor het 86% van wit leerders ’n punt van hoër as 40% behaal, en meer as die helfte het met 60% of hoër geslaag.  Die patroon was soortgelyk met betrekking tot lewenswetenskappe.  Vir dié vak kon net 35% van swart leerders hoër as 40% en net 11% ’n punt van bo 60% behaal. Die persentasie wit leerders wat met 40% of meer geslaag het was 80%, terwyl net meer as die helfte 60% of meer behaal het.

Die verskille in deurvloeikoers op universiteitsvlak toon ook dat swart leerders slegter vaar.  Dit is die geval weens ’n verskeidenheid faktore, maar kan deels daaraan toegeskryf word dat hul voorbereiding op skool swak was.  Van die swart studente wat in 2011 vir ’n driejaar-universiteitsgraad ingeskryf het (behalwe aan die Universiteit van Suid-Afrika) het minder as ’n kwart in die toegewese drie jaar geslaag.  Vir wit leerders was die proporsie 43%.  Hierdie lae proporsies vir wit sowel as swart studente dui daarop dat die meeste studente swak voorbereid is vir die  uitdagings van universiteitstudie en dit kan, minstens gedeeltelik, toegeskryf word aan die swak voorbereiding wat baie studente op skool ontvang.  

Die bewyse is duidelik – swart leerders ly buite verhouding meer weens die swak skolestelsel.

Dit het daartoe gelei dat baie ouers afgesien het van die staatskoolstelsel namate dit duidelik word dat dit hulle kinders in die steek laat.  Tussen 2000 en 2016 het die aantal kinders wat in staatskole in Suid-Afrika ingeskryf het van 11,6 miljoen tot 12,3 miljoen gestyg – ’n toename van 6%.  Suid-Afrika se bevolking het oor dieselfde tydperk met byna 30% toegeneem.  Die aantal kinders wat by privaat skole ingeskryf het, het egter groter groei getoon.  Hoewel vanuit ’n baie kleiner basis, het die aantal kinders in onafhanklike skole in die sestienjaar-tydperk met 130% – van 256 283 tot 590 352 – gestyg. ’n Soortgelyke patroon word in die aantal skole weerspieël.  Die aantal staatskole het tussen 2000 en 2016 met 12% afgeneem, terwyl die aantal onafhanklike skole byna verdubbel en met 91%, van 971 tot 1 855, gegroei het.

Kritiek teen Suid-Afrikaanse privaat skole is dat hulle eenvoudig ‘Etons-on-the-Veld’ is en net vir die elite beskikbaar is.  Niks kan verder van die waarheid wees nie.  Hoewel daar baie privaat skole is waarvan die skoolgeld ’n mens, sagkens gestel, tot trane kan dryf, hef die meerderheid nie-staatskole redelik lae skoolgeld, wat vir baie ouers bekostigbaar is.  Daar is ook heelwat privaat skole in lae-inkomstegebiede wat baie lae heffings het en by ouers gewild is.  Dit is duidelik dat mense, ongeag hul inkomste,  ’n keuse wil hê oor waar hul kinders skoolgaan.

In ’n vrye en oop samelewing behoort mense keuses te hê en dit sluit die keuse in oor na watter skool ouers hul kinders wil stuur.  Wat is egter die oplossing in ’n samelewing waar baie mense sou sukkel om die skoolgeld te bekostig om hul kinders na skole te stuur wat beter presteer?

Die Instituut vir Rasseverhoudinge stel die ingebruikneming van ’n koeponstelsel voor, waarvolgens ouers ’n koepon vir elk van hul kinders ontvang.  Dit sal uit die onderwysbegroting begroot word ter  waarde van ongeveer R12 000.  Ouers sal dan ’n groter keuse hê oor waarheen hulle hul kinders wil stuur en sal die koepon by privaat sowel as staatskole (Model C of andersins) kan gebruik.  Staatskole wat nie daarin slaag om gehalte-onderwys aan kinders te voorsien nie sal gou vind dat hulle leerders verloor en sal gedwing word om te sluit, tensy hulle kan verbeter.

Om aan ouers ’n groter skolekeuse te gee sal daartoe bydra om die Suid-Afrikaanse onderwyskrisis te verbeter.  Dit is die stukrag van ’n veldtog wat die IRV hierdie week bekendgestel het.  Dit is duidelik dat, tensy iets gedoen word, ons skolestelsel steeds ons jong mense (veral jong swart mense) swak toegerus sal laat vir die terrein van universiteitstudie en werk, met jammerlike gevolge vir die toekoms van Suid-Afrika.

Marius Roodt is ’n Veldtogbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).  Meer besonderhede oor die IRV se veldtog is beskikbaar by irr.org.za/campaigns/giving-power-back-to-parents.

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/swart-leerders-ly-weens-die-swak-onderwysstelsel/

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Copyright | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors