Michael Morris
Dit het hoog tyd geword dat die Suid-Afrikaanse publiek een ding goed verstaan: Julius Malema is ’n haatpropageerder en -aanhitser van formaat. Sy uitlatings mik hy op minderheidsgroepe. Dit is ’n gevaarlike speletjie wat veroordeel en met wortel en tak uitgeroei moet word.
Om so iets te pak, is natuurlik om ’n hewige debat te ontlok oor die soort haat wat hy links en regs verkondig asook die tegniese en regsaspek daarvan.
Maar tot dusver was en is dit haat in die volle sin van die woord en uiters bekommerenswaardig.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) identifiseer haatspraak as ’n motief wat onmiddellike en dreigende gevaar inhou voordat dit as haatspraak beskou kan word. Volgens die IRV val Malema se opmerkings nog nie heeltemal in hierdie kategorie nie, daarom kan dit na regte nie as suiwer haatspraak beskou word nie. Tog, sy opmerkings en uitlatings is sonder twyfel haatlik en iets wat onomwonde onder die publiek se aandag gebring moet word.
Per blote toeval stem die IRV saam met die Menseregtekommissie (MRK) se bevinding dat dit nog nie haatspraak is nie. Maar die logika ten opsigte van die regsaspek daarvan, asook in beginsel, is kategories so dwarskoppig dat dit (met reg) betwisbaar is.
Eerstens is dit gebaseer op ’n beweegrede wat in wese met die Grondwet bots. Volgens die Grondwet is ons almal gelyk en het dus gelyke reg om deur die wet beskerm te word. Om te kenne te gee dat sommige mense meer gelyk is as ander, is ’n minagting van die allerjuisste beginsel van die regsorde.
Tweedens, hoewel die IRV ’n ander siening hieroor het, lyk dit asof die MRK (vanuit ’n streng regsperspektief gesien) die wet, soos bepaal in die onlangse Velaphi Khumalo-uitspraak, verkeerd vertolk het. Hierdie uitspraak dui op meer as slegs ’n naderende gevaar.
Terwyl daar ’n bekgeveg in sekere regskwartiere aan die gang is om ’n duidelike stel oorbruggende beginsels ten opsigte van vryspraak daar te stel, het die Suid-Afrikaanse publiek, ná jare van verwarring en teenstrydigheid, nog steeds geen duidelike begrip van wat vryspraak beteken nie, hetsy in beginsel, of ten opsigte van die wet of politiek.
Kompeterende uitsprake van, onder meer, die IRV, de gelykheidshof en ander howe, wat opgeblaas is deur ’n politieke- en meerderheidsdrang om enige aanstoot te straf en motiewe en partydigheid te vervolg, het in ’n morele moeras ontaard.
Natuurlik sukkel hierdie idee van haat, as sodanig, om nie te taan nie. Om die waarheid te sê, daar is reeds pogings om dit sistematies uit te roei en die MRK se redekaweling daaroor rig net meer skade aan.
Hoe dit ook al sy, die feit bly staan dat Malema se beledigende aanmerkings haatdraend is. Om hierdie feit uit die gesig te verloor en nie na behore daarop te reageer nie, of om morele uitsprake prys te gee vir ’n sogenaamde regspunt, is om Julius Malema en die bedreiging wat sy haatsprake inhou, van alle skuld te onthef.
Die vryheid van spraak, wat elke vry gemeenskap ’n voet gee om op te staan, is die fundamentele verskansing teen gevaarlike motiewe en negatiewe idees. Dit vra egter openbare aandag, nie slegs regsadvies nie. Sulke idees, oftewel motiewe, is meestal riskant – om dit te verban, is waarskynlik nóg gevaarliker.
Daarom het die opstaan en walgooi teen die werklike bedreiging – die haat wat in ons gemeenskappe aangehits word – ’n verantwoordelikheid geword wat hoofsaaklik op die skouers van die Suid-Afrikaanse publiek rus. ’n Verantwoordelikheid wat nie langer geïgnoreer kan word nie.
Hierdie meningstuk is ‘n verwerking van ‘n verklaring wat die posisie van die Instituut vir Rasseverhoudings weerspieël. Morris is hoof van media by the IRV
https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/staan-saam-teen-malema-se-haatpropaganda-se-irv/