Frans Cronje
Ons het in 2010 begin belang stel in mediaverslae op grond van dat ‘mense in polisie-uniforms’ of ‘in voertuie met polisie-aanduidings’ ernstige en geweldsmisdade gepleeg het. Daar was ’n groot aantal van hierdie verslae, maar die polisie sou roetinegewys ontken dat hulle lede daarby betrokke was en het eerder gesuggereer dat sulke misdade deur ‘foppolisie’ gepleeg is. Ek was nie hierdeur oortuig nie en het opdrag gegee dat een van ons ontleders moes ondersoek wat aan die gang was.
Nie lank daarna nie het hy my kantoor binnegestap met ’n dik leer vol dokumente. Toe ek hom vra wat dit was, het hy gesê dat dit voorbeelde van gevallestudies was waar polisielede betrokke was by die pleeg van ernstige en geweldsmisdade soos verkragting, roof, kaping en moord. Namate ons deur die bewyse gewerk het, was ons verstom oor wat ons ontdek het. Hier en daar het ons afgekom op ’n voorbeeld waar iemand waarskynlik ’n polisie-uniform gesteel en gebruik het om ’n misdaad te pleeg, maar oor die algemeen kon ons vasstel dat hope polisiemanne besig was om party van die mees gewelddadige misdade in die land te pleeg.
Ek het my kollega gelas om net die eerste 100 gevalle wat hy teëgekom het te neem, ’n ontleding daarvan te doen en dit in die vorm van ’n verslag te publiseer. Ons het gevalle van korrupsie, die soek van omkoopgeld en ligte aanrandings geïgnoreer en slegs op die mees ernstige misdade gefokus. Dié verslag is in Februarie 2011 gepubliseer as die Broken Blue Line – the Involvement of the South African Police Service in Serious and Violent Crime en het die volgende aangetoon:
§ Dat polisiebeamptes roetinegewys ernstigste misdade pleeg.
§ Dat hierdie misdade in die hoofkategorieë gewapende roof, verkragting (veral van vroue wat saans alleen op pad is) en moord (dikwels met staatsuitgereikte vuurwapens gepleeg) ingedeel kon word.
§ Hierdie misdade is gereeld gepleeg deur polisiebeamptes terwyl hulle aan diens, in uniform, in polisievoertuie, en met hulle polisie-uitgereikte vuurwapens bewapen was.
§ Dat vlakke van skuldigbevinding vir polisiebeamptes wat van sulke misdade verdink is baie laag was.
§ Daar was geen doelgerigte poging aan die kant van die polisie om hierdie probleem te hanteer nie.
’n Tipiese geval sou wees waar polisiebeamptes wat snags op patrollie was ’n vrou wat alleen op pad was sou voorkeer. Hulle sou haar intimideer en haar agterin hul polisievoertuig verkrag. Indien sy die insident sou probeer rapporteer, sou ander beamptes baie min belangstelling toon en indien sy sou volhou sou hulle haar met arrestasie dreig. Of polisiemanne sou hul kennis van die kriminele onderwêreld gebruik om vragmotors te kaap, besighede te beroof, of gesinne in hul huise aan te val. Ons het selfs gevalle geïdentifiseer waar polisiebeamptes OTM-masjiene opgeblaas het.
Ons het toe versekerings van die polisie en die Ministerie van Veiligheid en Sekuriteit ontvang dat hulle geskok was oor wat ons vasgestel het en dat hulle daarteen sou optree.
Vier jaar later, in Januarie 2015, het ons ’n soortgelyke ondersoek onderneem wat as ’n verslag met die titel Broken Blue Line 2 gepubliseer is. Die verslag het relatief min verandering teenoor wat in 2011 bevind is getoon. Wat erger was was dat ons dié keer kon bepaal dat byna een uit elke 100 dienende polisiebeamptes skuldig bevind is van misdade wat gewissel het van moord en verkragting tot roof en aanranding. Net voor die publikasie van die verslag het ek die kommissaris van polisie en senior amptenare in Pretoria ontmoet. Die kommissaris was egter baie vyandiggesind en het gedreig om die verslag te verbied.
Eerskomende Maandag sal ons die derde verslag in die reeks publiseer en dit spyt my om te berig dat ons nie gesukkel het om weer eens beduidende bewys te vind van polisiebetrokkenheid by misdade wat wissel van kontanttransito- gewapende roof tot huisinbrake, kapings, verkragtings en moorde nie. Die implikasies is ernstiger omdat misdaad- en geweldsvlakke weer eens styg terwyl die staat dreig om burgerlike toegang tot vuurwapens en die individu se reg tot selfverdediging verder te verminder. Teen ’n koers van 34 moorde vir elke 100 000 mense in die land sal Suid-Afrikaners nou tien maal meer waarskynlik vermoor word as Amerikaners en dertig maal meer waarskynlik as Australiërs.
Ons weet dat die regering nie genoeg omgee om hierdie krisis ernstig op te neem nie. Indien daar iets aan die saak gedoen moet word, moet dit dus, om hierdie rede, deur gemeenskappe self hanteer word. Daar is drie dinge wat moet gebeur om dit moontlik te maak. Die eerste twee is langtermyn-doelstellings wat ons reeds begin dryf het onder politieke leiers, terwyl die derde ’n onmiddellike korttermyn-oplossing is wat enige gemeenskap binne enkele dae in gebruik kan stel.
Die eerste is om gemeenskappe toe te laat om hul stasiebevelvoerders te verkies of om minstens die magte aan Gemeenskapspolisieforums drasties uit te brei om stasiebevelvoerders aan te stel. Op dié manier sal die hoofde van plaaslike polisiestasies regstreeks teenoor hul gemeenskappe aanspreeklik wees. Indien die plaaslike polisie swak presteer, korrup is of – nog erger – ernstige en geweldsmisdade pleeg, sal dit vir die gemeenskap ’n eenvoudige saak wees om die stasiebevelvoerder te herroep en iemand anders aan te stel. Stasiebevelvoerders hoef ook nie noodwendig dienende polisiebeamptes te wees nie. Enige toereikend ervare persoon, met die kwalifikasies om ’n organisasie te bestuur, kan verkies word, wat aan die gemeenskap ’n breë kombinasie van kandidate sal laat om van te kies.
Die tweede is om die private sekuriteitsuitgawes van huishoudings belastingaftrekbaar te maak. ’n Mens betaal reeds belasting, waarvoor jy dienste, waaronder ’n veilige en geborge samelewing, van die regering verwag. Geen persoon bestee geld aan private sekuriteit omdat hy of sy dit wil doen nie. Hulle word gedwing om dit te doen uit vrees en omdat die diens wat deur die staat voorsien word so swak is dat hulle geen keuse het as om private maatreëls te tref om hul lewens, besittings en gesinne te beskerm nie. Dit is niks minder as reg dat hulle vir hul uitgawe vergoed word, veral aangesien sodanige belegging daartoe bydra om ’n veiliger Suid-Afrika vir al sy mense te skep.
Tensy die bogenoemde twee doelstellings bereik word sal u steeds in groot gevaar van gewelddadige aanvalle verkeer, onder ander van die mense wat u behoort te beskerm. Die beste tussentydse oplossing, ons derde voorstel, is om baie goed georganiseerde Buurtwagskemas met behoorlike hulpbronne te ontwikkel wat by private sekuriteitsverskaffers geïntegreer is, wat u gemeenskap in staat sal stel om prakties beheer van hul eie sekuriteit oor te neem. Sodanige strukture kan later by die polisie geïntegreer word. Sulke strukture bied egter voorlopig die beste oplossing om u teen die plaag van ernstige en geweldsmisdaad te beskerm.
Frans Cronje is die uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR). Die IRR veg om u regte tot beheer oor u polisiestasie uit te brei, sterk gemeenskapspolisiëringstrukture gevestig te kry, en uself teen gewelddadige aanvalle te beskerm. Om meer omtrent hierdie pogings te wete te kom of dit te ondersteun kan u www.irr.org.za besoek of MISDAAD aan 32823 sms.
https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/sorg-so-vir-jou-eie-veiligheid-20181026