Só sal ons staan – of val - Rapport

May 10, 2020
10 May 2020 - Die Covid-19-krisis is nie die oorsaak van Suid-Afrika se probleme nie, dit het net die einde verhaas.

Die Covid-19-krisis is nie die oorsaak van Suid-Afrika se probleme nie, dit het net die einde verhaas, skryf Frans Cronje.

Is jy, soos die meeste ander mense in die land, bekommerd oor die toekoms van die land?

Wonder jy of daar ’n toekoms vir jou, jou kinders en kleinkinders in die land is?

Ek het oor die afgelope paar jaar – met die hulp van die puik navorsing wat ons by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) doen, herhaaldelik na die tema teruggekeer.

Die afgelope week het my derde boek oor die onderwerp verskyn. The Rise or Fall of South Africa sal miskien my laaste poging (in boekvorm) wees waarin ek poog om die land te beskryf wat Suid-Afrika oor die volgende 20 jaar sal word.

Ek het genoeg vertroue in die data wat in die boek genoem word en die gevolgtrekkings waartoe dit lei om te sê dat ek nie dink dat dié gevolgtrekkings sal verander nie.

Met groot steun op die vakkundigheid, advies en insigte van byna 30 van my bedrewe kollegas by die IRV is die hipotese van die boek, en die uiteindelike slotsom daarvan, dat die ANC nooit sal hervorm nie en voor hierdie dekade eindig, en miskien selfs so vroeg as 2024, verslaan sal word – ’n voorspelling wat ons aanvanklik in 2012 gemaak het. Mettertyd sal hierdie nederlaag lei tot die verskyning van ’n nuwe middelregse politieke party wat die land deur die 2030’s sal lei en Suid-Afrika sal uiteindelik baie suksesvol word.

Die basiese tooisels van demokrasie in SA sal oorleef.

Die boek handel nie net oor Suid-Afrika se toekoms nie. ’n Groot aantal Suid-Afrikaners het self, of met hul kinders, of hul geld, oorsee vertrek namate die toekoms van die land verduister het en die boek het hulle gevolg om toe te lig hoe die wêreld oor die volgende twee dekades sal verander en wat dit vir Suid-Afrika se uitbreidende diaspora beteken.

Vanaf die verkiesing in Amerika later vanjaar tot Brittanje en Europa ná Brexit, Iran en Israel, Indië, China en die vooruitsigte vir sy politieke stabiliteit, en die waarskynlike ontwikkelingsgang van die internasionale magsewewig, kon die boek ’n goed gedokumenteerde wêreldkonteks skets waarin sy ontleding van Suid-Afrika geplaas kon word.

Oor Suid-Afrika sal u die diepgrondige, datagefundeerde politieke, ekonomiese en beleidsanalises vind waarvoor my kollegas en die IRV baie dekades lank bekend is. Ons toon aan dat die ekonomiese en fiskale posisie van die regering selfs voor die Covid-19-pandemie reeds hopeloos was. Die virus het niks daaraan verander nie, behalwe om die ekonomiese agteruitgang te versnel wat volgens die boek se voorspelling deur ’n eksterne internasionale skok veroorsaak sou word. Ons toon dat ANC-steun nie van bevrydingslojaliteit afhang nie, maar van lewenspeil en werkgeleenthede. Namate dit afneem, sal die ANC verder steun verloor. Die gegewens in die boek toon die onvermydelikheid hiervan. Ten opsigte van die argument dat sy naderende nederlaag hervorming sal meebring, redeneer ek dat dit waarskynlik nie sal gebeur nie omdat hervormingsgesinde denkers nie oor die magsewewig in die regering of die ANC beskik nie. Die ANC is eerder verstrengel in ’n ideologiese traliewerk wat hyself gebou het en waarin hy sal sterf.

Die boek bevat heelwat peilingsdata wat toon dat Suid-Afrika se mense die kragtigste kompenserende mag ten gunste van die land se sukses op die langer termyn is.

Ek steun baie sterk op die argument dat Suid-Afrika se mense in die algemeen gematig en konserwatief is en wesenlik dieselfde toekoms wil hê. Daar is relatief min ondersteuning vir radikale populisme. Indien Suid-Afrika ’n oorwegend vrye en demokratiese samelewing bly, met ander woorde indien politieke keuses aan die mense oorgelaat word, is Suid-Afrika in goeie hande.

Maar of Suid-Afrika ’n vrye samelewing sal bly, is die vraag waarteenoor my hipotese die kwesbaarste bly en waar dit na verwagting die skerpste aangeval sal word. Gevolglik is ek in die boek gedwing om te waarsku dat baie in die ANC hul kwesbaarheid vir ondergang verstaan en dat hulle sal probeer om die ekonomiese teëspoed wat tans deur die land ondervind word te gebruik om populistiese en rassenasionalistiese spanning op te sweep in ’n poging om die konstitusionele basis en die oppergesag van die reg af te takel ten einde ’n verkiesingsnederlaag te voorkom.

Ideoloë in regering sal aanvanklik hul magte uitbrei.

Byna alles draai hier om die mate waartoe eiendomsregte afgetakel sal word in die lig daarvan dat dít wesenlike menslike vryheid in elke vrye samelewing veranker. Ná vele geheen-en-weer het ek uiteindelik aangevoer dat die bewys-ewewig voldoende is om te suggereer dat die basiese tooisels van demokrasie in Suid-Afrika sal oorleef. Maar indien ek verkeerd is, bevat die boek ’n scenario van hoe Suid-Afrika oor die volgende dekade sal ineenstort om ’n oorwegend mislukte staat te word.

Die boek aarsel nie met sy raadgewing oor wat dit van Suid-Afrika sal verg om suksesvol te word nie.

Die kern van die hervormingstrategie wat enige toekomstige regering moet volg, lê daarin dat daar van alle onteieningsbeleid afgesien sal moet word, alle rasgegronde wetgewing herroep sal moet word, Suid-Afrika se verkiesingstelsel verander sal moet word en ’n baie meer federale politieke bedeling aanvaar sal moet word.

Ek weet dat dit alles nou baie vergesog voorkom, maar dit was ook die geval 40 jaar gelede met die idee dat die Nasionale Party hom in die ANC sou laat instort. Indien ’n mens voormalige lede van die Obama-administrasie sou vra of hulle gedink het dat sy presidentskap deur die van Donald Trump opgevolg sou word, sal hulle jou heelwat oor onvoorsiene uitkomste kan vertel.

Dinge wat polities onmoontlik voorkom, gebeur meer dikwels as wat algemeen aanvaar word en ek dink dié presedent wat bestaan versterk my argument oor die enorme politieke en ekonomiese verskuiwings wat vir Suid-Afrika voorlê.

Hoewel my langertermyn-vooruitsig vir die land dus meer optimisties as dié van baie ander waarnemers is, is my korttermyn-evaluering baie erg. Die ekonomie sal baie sleg vaar en oor die volgende twee tot drie jaar aansienlik slegter as ander opkomende markte presteer.

Teenoor VSA-dollars sal Suid-Afrikaans- gevestigde bates baie waarde verloor en so ook die geldeenheid. Armoede en werkloosheid sal vererger. Die ideoloë in die regering sal aanvanklik hul magte uitbrei om die ekonomie te bestuur en kan selfs so ver gaan soos om geld te druk ten einde staatsbestuurde ontwikkelingsprojekte te finansier. Die sekurokrate, en oorblyfsels van die staatskaping-infrastruktuur van Jacob Zuma, sal vir ’n wyle ’n groter invloed uitoefen en hul bes doen om Suid-Afrika se demokrasie te ondermyn. Die boek voer egter aan dat al hierdie pogings uiteindelik sal boemerang en op hul ondergang sal uitloop.

Die laaste dele van die boek word gewy aan wat ’n leser moet oorweeg om te doen. Die verantwoordelikheid om advies aan te bied is iets wat ek as baie ernstig beskou, maar ek het besluit om dit wel aan te bied omdat dit wesenlik gegrond is op wat ek sal doen. Indien ek verkeerd is, sal ek soveel soos enige leser van die boek verloor.

Hierdie advies word in vier segmente aangebied, te wete u loopbaan, u kinders en hul toekoms, waar in die wêreld om heen te gaan, en wat ’n mens met jou bates behoort te doen. Hierdie vier segmente verskaf ’n grondslag waarop die meerderheid sakeondernemings en gesinne kan beplan om hulle te verskans teen die afswaai wat Suid-Afrika nog moet ervaar, terwyl dit hulle toelaat om in ’n groot genoeg mate verbinding met die land te behou om uit die latere opswaai munt te slaan.

* The Rise or Fall of South Africa word uitgegee deur Tafelberg en is op die oomblik net as e-boek beskikbaar op aanlyn platforms soos Kindle en Amazon. Gedrukte eksemplare sal beskikbaar wees sodra die inperkings genoegsaam verslap word om dit moontlik te maak. Voorleggings oor die gevolgtrekkings is beskikbaar by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/so-sal-ons-staan-of-val-20200509

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi