Sal banke, besigheid opstaan vir eiendomsreg? - Maroela Media

7 September 2022 - Eiendomsreg gaan stilweg gebuk onder veelvuldige aanvalle. Enersyds is daar reeds verdraagsaamheid vir grondbesetting binne die regstelsel. Andersyds word eiensdomsreg bedreig deur die nuwe Onteieningswetsontwerp wat onteiening sonder vergoeding (OSV) moontlik maak.

Gabriel Crouse

Eiendomsreg gaan stilweg gebuk onder veelvuldige aanvalle. Enersyds is daar reeds verdraagsaamheid vir grondbesetting binne die regstelsel. Andersyds word eiensdomsreg bedreig deur die nuwe Onteieningswetsontwerp wat onteiening sonder vergoeding (OSV) moontlik maak.

Eersgenoemde bedreiging word ten beste deur Bulelani Qolani se uitsettingsvoorval uitgelig. Qolani was deel van ʼn groep mense wat grond onwettig beset en skuilings daarop opgerig het. Binne twee dae na die besetting, in die winter van 2020, het ʼn video, wat soos ʼn veldbrand versprei het, gewys hoe Qolani uitgesit word. Dié video toon onder meer hoe hy naak geboei, vasgepen en uit ʼn hut in Khayalitsha gesleep word. Bheki Cele, minister van polisie, het vinnig op die toneel toegesak en gesê dat Qolani “soos ʼn vark behandel is… ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie”.

ʼn Ondersoek deur Kaapstad se antigrondbesettingseenheid, oftewel Anti-Land Invasion Unit (ALIU), het gevolg. Qolani se weergawe dat hy onskuldig besig was om homself te was voordat hy deur wrede uitsetters oorval is, is weerlê. Die ondersoek het die uitsettingsbeamptes gevolglik vrygespreek. Die Wes-Kaapse hooggeregshof het, in die winter van 2022, egter beslis dat Qolani se uitsetting onwettig was.

Hierdie uitspraak skep ʼn uitdagende presedent. Dit kom in ʼn neutedop daarop neer: indien iemand lank genoeg toegang tot eiendom verkry om ʼn staalplaat op te rig (of regmaak om te bad) die eienaar hom nie bloot kan verdryf nie. Hetsy persoonlik, deur ʼn sekuriteitsmaatskappy of deur die polisie. As die polisie enigsins betrokke raak, is dit dikwels om verdrywing van die onregmatige okkupeerders te verhoed.

Die gevolg van die hooggeregshofuitspraak is dat die grondeienaar eers deur ʼn hofuitsettingsproses moet gaan. So ʼn proses duur tipies agt maande. Die tipiese uitkoms hiervan is ook dat die uitgesette persoon van ʼn alternatiewe, wettige verblyfplek voorsien moet word. Terselfdertyd bly die eienaar steeds verantwoordelik vir die eiendomsbelasting asook die onregmatige okkupeerder se water- en elektrisiteitsuitgawes.

Kortom kan bewonerstatus binne ʼn paar uur verkry word met wettige uitsetting wat ʼn paar jaar kan neem.

ʼn Nuwe wetsontwerp oor besettings moet met hierdie uitspraak saamgelees word. Volgens artikel 3(4) van die Wetsontwerp op Onregmatige Betreding van Persele pleeg onregmatige okkupeerders geen misdaad nie so lank as wat hulle “redelikerwys geglo” dat hulle ʼn “belang by die perseel het”.

Wie bepaal of iemand “redelikerwys” so geglo het? Die komende Wetsontwerp op die Grondhof bepaal dat alle uitsettings nou in die Grondhof beslis sal word. Verder sal “assessors” in die Grondhof ʼn regter se uitspraak kan omkeer wanneer hulle “oor enige feitevraag” beslis. Dit beteken dat hierdie “assessors” sal kan besluit wat grondbesetters gedink het toe hulle die grond beset het en hulle sodoende kan vryspreek.

Die aanstellingsproses van hierdie assessors stel onpartydigheid nie as vereiste nie. Daar kan sodoende verwag word dat talle van die “assessors” aktiviste, lojaal teenoor rasgebaseerde Marxistiese ideologieë, sal wees.

Asof dit nie erg genoeg is nie, het president Cyril Ramaphosa onlangs OSV op die voorgrond teruggeplaas deur te sê: “Ten spyte van die terugslag ten opsigte van ons pogings om artikel 25 van ons Grondwet te wysig, moet ons voortgaan om alle beskikbare opsies na te streef, insluitend deur wetgewing soos die Onteieningswetsontwerp, om die resolusie van ons 54ste konferensie oor grondherverdeling sonder vergoeding te implementeer.”

Die Onteieningswetsontwerp maak OSV weer moontlik en sal op 14 September voor die nasionale vergadering verskyn vir goedkeuring. Dié wetsontwerp verskaf ʼn lys van vyf voorwaardes waarvolgens OSV toegelaat kan word, maar is nie beperk tot dié vyf nie.

Een hiervan, ingevolge artikel 12(3)(c), is “waar ʼn eienaar die grond verlaat het deur nie beheer daaroor uit te oefen nie” [eie beklemtoning].

Ingevolge hierdie artikel het ʼn staatsamptenaar die mag om ʼn andersins onregmatige besetting wettig te verklaar. Die staat sal OSV as pasgemaakte rede kan gebruik om sodanige eiendomme as wettige “alternatiewe” verblyf aan onregmatige okkupeerders te gee.

Hierdie wette pas soos ʼn legkaart inmekaar.

Dit word deur die Wetsontwerp op Onregmatige Betreding van Persele so maklik moontlik vir grondbesetters gemaak om te argumenteer dat hulle geen misdaad gepleeg het nie. Daarbenewens beteken die komende Wetsontwerp op die Grondhof dat daardie argumente deur “assessors” aangehoor sal word – mense wat openlik vyandig teenoor eiendomsreg is. Die Qolani-presedent kom daarop neer dat die polisie jou ná ʼn paar uur nie sal help om onregmatige okkupeerders te verwyder nie. Hulle sal eerder kom help om die besetters teen uitsetting te beskerm. Indien jy “versuim het om beheer oor jou eiendom uit te oefen” kan die staat jou titelakte wegneem, sonder vergoeding, en die besette grond nasionaliseer.

Die legkaart dui op gewettigde grondgrype – soos in Zimbabwe – net netjieser verpak.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het ʼn veldtog geloods om die Onteieningswetsontwerp en alle komende wetsontwerpe wat eiendomsreg benadeel, teen te staan.

Belangrike insigte is verkry deur ʼn landwye “omnibus”-peiling wat in 2020 deur ʼn onafhanklike maatskappy in opdrag van die SAIRV gedoen is. Dit het die politieke skynheiligheid van OSV blootgelê.

Hierdie peiling het gevra: “Verkies jy ʼn politieke party wat vinniger ekonomiese groei en meer werksgeleenthede beloof, of een wat OSV as regstelling vir die onregmatighede van die verlede beloof?”

15% van wit respondente het gesê hulle verkies OSV bo ʼn groeiende ekonomie. Die gedeelte swart respondente wat die sentiment deel, was ook 15%.

80% van swart respondente, 85% van bruin respondente, 90% van Indiër-respondente en 80% van wit respondente het gesê dat hulle werk en ekonomiese groei bó OSV verkies.

Die meerderheid respondente het die regte idee oor hierdie aangeleentheid gehad.

Maar wat dink die ultra-rykes en magtiges? Wat dink die hoofde van die groot banke? Wat dink die groot voedselprodusente en kleinhandelaars? Is iemand bereid om ʼn stem te gee aan die massas wat reeds onder die wêreld se hoogste werkloosheidsyfer ly weens irrasionele beleid?

Suid-Afrika het die hoogste werkloosheidsyfer ter wêreld. Volgens die VN ly 1,5 miljoen Suid-Afrikaanse kinders onder die ouderdom van 5 jaar aan groeivertraging weens wanvoeding.

Is iemand bereid om die Onteieningswetsontwerp se aanslag teen voedselsekerheid, eiendomsreg en vooruitsigte vir volhoubare groei te opponeer?

Die SAIRV het parlementêre voorleggings gemaak en briewe aan alle bogenoemde rolspelers in die grootondernemingswese geskryf om uit te vind waarom hulle nou so stil is oor die bedreiging vir eiendomsregte. Ons sal voortgaan om verslag te doen oor hul reaksie of die tekort daaraan.

Duisende gewone Suid-Afrikaanse burgers het reeds die SAIRV se petisie onderteken om OSV teen te staan. Wanneer goeie bure ʼn onwettige besetting sien, maak hulle alarm eerder as om niks daaraan te doen nie. Dieselfde moet vir die Onteieningswetsontwerp geld.

Gabriel Crouse, ʼn skrywer en ontleder, is hoof van veldtogte by die SAIRV.

 

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/sal-banke-besigheid-opstaan-vir-eiendomsreg/

© 2020 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Terms & Conditions | Privacy Policy | PAIA Manual | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors

m