Rooi ligte oor wet - Rapport

4 July 2021 - Voorgestelde wysigings aan die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (Pepuda) kan banke, versekeraars, skole, private hospitale, pensioenfondse en kleinsakeondernemings onder druk plaas om die voorwaardes te verander waarop hulle met baie van hul kliënte handel dryf.

Anthea Jeffery 

Voorgestelde wysigings aan die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (Pepuda) kan banke, versekeraars, skole, private hospitale, pensioenfondse en kleinsakeondernemings onder druk plaas om die voorwaardes te verander waarop hulle met baie van hul kliënte handel dryf.

Veral swart, vroulike, gestremde en arm kliënte kan hieronder ly omdat sakeondernemings gedwing sal word om die voorwaardes waarop hulle met hierdie groepe handel dryf te verander omdat hulle optrede tot dusver nie “gelykheid bevorder het betreffende die impak en uitkomste daarvan nie”.

Die verpligtinge vervat in die nuwe wetsontwerp sal in die praktyk onmoontlik wees om na te kom, al is dit net omdat die “gelykheid” wat geëis word nie gemeet kan word nie – wat nog te sê die bereiking daarvan. Onvermydelik sal die onrealistiese verwagtinge wat deur die wetsontwerp geskep word, grotendeels onvervul bly. Dit sal net polarisasie aanwakker en as aansporing vir die staat dien vir net nog méér staatsingryping.

Die bestaande wet belet reeds onbillike diskriminasie op talle gronde. Dit bevat ook ’n hoofstuk wat nooit voorheen in werking gestel is nie, oor die verpligting om gelykheid te bevorder. Dit is hierdie “gelykheidsbepalings” wat die wetsontwerp hoofsaaklik ten doel het om te verander.

Banke kan aansienlike boetes opgelê word.

Die wetsontwerp vereis dat maatskappye en ander entiteite as deel van “hul algemene verantwoordelikheid om gelykheid te bevorder” die volgende doen:

Diskriminasie uitskakel op 18 gelyste gronde en ’n ongedefinieerde aantal “vergelykbare” gronde soos armoede – selfs waar sulke diskriminasie geregverdig kan word;
Gelyke toegang tot hulpbronne, geleenthede en voordele; en
Die bereiking van “gelykheid wat impak en uitkomste betref”.
Die 18 gronde wat reeds gelys is (en waarby nog gevoeg kan word), is ras, gender, geslag, swangerskap, huwelikstatus, etniese of sosiale oorsprong, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, geloof, kultuur, taal, geboorte en MIV/vigs-status.

“Sosio-ekonomiese status” of armoede kan by hierdie lys gevoeg word as ’n gelykheidshof so beslis. Een so ’n hof in die Wes-Kaap het reeds beslis dat armoede op hierdie manier erken moet word – maar dit was in die konteks van die staat se poli­siëringsverpligtinge, eerder as die sakedomein.

Oor die algemeen is die bepalings van die wetsontwerp so vaag en omvattend dat die gevolge daarvan moeilik beoordeel kan word. Enkele scenario’s kan egter getrek word uit sommige van die ekonomiese sektore wat die wet reeds uitgesonder het vir kritiek.

Tans kan banke hulself oor die algemeen teen onbillike diskriminasie-eise ingevolge die wet verdedig deur aan te toon dat hul leningspraktyke “redelik en regverdig tussen persone onderskei volgens objektief bepaalbare kriteria, eie aan die betrokke aktiwiteit”.

Ingevolge die wetsontwerp sal banke nou ’n verdere verpligting hê om “gelykheid te bevorder” – en sal hulle nie in hierdie konteks kan staatmaak op die verdediging van “objektiewe kriteria” nie. In plaas daarvan sal hulle op alle gelyste gronde “diskriminasie” moet uitskakel, selfs al is daardie diskriminasie billik.

Dit sal waarskynlik aansienlike druk op banke plaas om beproefde metodes vir risikobeoordeling te heroorweeg of gebruik te maak van leningspraktyke wat miskien nie volhoubaar is nie.

As armoede ook as ’n verbode terrein in die sakesfeer verklaar word, sal banke dalk ook moet toesien dat die armes “gelyke toegang” het tot huislenings en ander lenings en dat daar ’n “gelykheid van uitkomste” is in vergelyking met diegene wat beter daaraan toe is.

As die banke nie daarin slaag om “gelykheid” te bevorder nie, kan hulle aansienlike boetes opgelê word ingevolge ’n aantal kodes en regulasies wat nog aanvaar moet word.

Hulle sal ook moontlik staatswaarborge en reddingsboeie benodig om ’n bankkrisis te vermy. Dit kan die staatsbeheer oor die sektor verhoog, wat dit vir die SAKP/ANC-alliansie makliker sal maak om die manier te beïnvloed waarop banke hul aansienlike hulpbronne belê.

Die versekeringsbedryf, net soos die banke, kan ook vind dat hul voorheen “objektiewe kriteria” nie genoeg is om gelykheid te bevorder nie en dat hulle hul versekeringsbesluite nie meer op gevestigde risikokriteria kan grond nie.

Om hul winsgewendheid te verseker sal versekeringsmaatskappye dan premies vir almal wil verhoog – maar bloot daardeur kan hulle vir hulle boetes op die hals haal omdat dit swart, vroulike, gestremde en arm mense “gelyke toegang tot hulpbronne en geleenthede” ontsê.

In so ’n situasie sal versekeringsmaatskappye toenemend staatswaarborge benodig om te oorleef. Dit kan weer help om die versekeringsektor en die aansienlike bates wat hy bestuur onder omvattende staatsbeheer te plaas.

In gesondheidsorg kan private hospitale onder druk kom om enige vorm van diskriminasie te vermy, selfs waar dit billik is. Hulle moet moontlik ook “gelyke toegang” tot “hulpbronne en voordele” in die vorm van chirurgie en ander mediese behandelings bied – en dit doen teen pryse wat ewe bekostigbaar is vir sowel die armes as diegene wat die beste daaraan toe is.

Dit sal druk plaas op private hospitale (en die private spesialisgroepe wat daarin werk) om deel te neem aan die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekeringskema (NGV). ’n Belangrike doelwit van die NGV is om die regering volledige beheer oor die gesondheidsektor en sy belangrike hulpbronne te gee – en sodoende ’n einde te maak aan wat die SAKP/ANC-alliansie beskou as ’n “onwettige tweevlakstelsel” van openbare en private gesondheidsorg.

In die onderwys kan private en ander betaalde skole onder druk kom om “gelyke toegang” tot hul hulpbronne en voordele te bied. In die praktyk moet tariewe dalk verlaag word om skole ewe bekostigbaar te maak vir die armes en die rykes.

Toelatingskriteria gegrond op taal- of godsdiensvoorkeure moet moontlik ook verwyder word.

Sulke vereistes kan dit moeilik maak vir enige private of openbare skool wat skoolgeld hef om te oorleef. Dit sal help om ’n einde te maak aan wat baie onderwysaktiviste as ’n onaanvaarbare “tweevlak-skoolstelsel” beskryf en ook die regering se beheer oor onderwys bevorder.

Pensioenfondse moet moontlik ook toesien dat swart, vroulike, gestremde en arm mense gelyke toegang het tot die “hulpbronne en voordele” wat hulle bied. Hulle moet moontlik ook “gelykwaardige uitkomste” op beleggingsopbrengste en pensioenuitbetalings verseker.

Die gevolglike finansiële druk op pensioenfondse sal die druk op hulle verhoog om deel te neem aan die Nasionale Bestaansekerheidsfonds (NSSF) wat die regering al lank wil instel as deel van sy omvattende hervormings vir maatskaplike sekerheid.

Soos die NGV, sal die NSSF markgegronde voorsiening in groot mate beperk en kan dit op die duur heeltemal beëindig. Dit sou die regering ook beheer oor private aftreespaargeld gee.

Alle private ondernemings wat goedere en dienste verkoop, sal moontlik ook hul pryse moet verlaag om “gelyke toegang” te bied tot die “geleenthede en voordele” wat hulle bied, en om te verseker dat die resultate gelyk is tussen die welgesteldes en die armes. Dan kan hulle ook veg om te oorleef.

Onderliggend aan alles in die wetsontwerp is die SAKP/ANC-alliansie se verbintenis tot ’n nasionaal-demokratiese revolusie (NDR), wat daarop gemik is om die land geleidelik van ’n kapitalistiese ekonomie na ’n sosialistiese een te neem.

Volgens die SAKP in The South African Road to Socialism is ’n besonder belangrike NDR-doelstelling om “die reuse-hulpbronne . . . onder beheer van . . . private kapitaal” te mobiliseer vir “die transformasie-agenda”.

Hierdie mobilisering “sal egter nie spontaan gebeur nie en dit sal nie gewillig gebeur nie”.

Doeltreffende staatsregulering is dus nodig om dié doel te bereik en sal moontlik gerugsteun moet word deur dwang of selfs onteiening.

Die wetsontwerp pas duidelik binne die kategorie van “doeltreffende staatsregulering”. Sy onderliggende NDR-doelwitte word egter verswyg, terwyl die SAKP/ANC-alliansie versigtig is om die wetsontwerp se enorme implikasies aan die groot klok te hang – nie net vir banke nie, maar vir ’n hele aantal ander maatskappye en entiteite.

  * Dr. Anthea Jeffery is hoof van beleidsnavorsing by die Instituut vir Rasseverhoudinge

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/rooi-ligte-oor-wet-20210702

© 2020 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Terms & Conditions | Privacy Policy | PAIA Manual | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors

m