Ons moet wet oor grond stuit - Rapport

7 February 2021 - In sy kern versterk die wetsontwerp op onteiening wat die ANC-regering op die land wil afdwing, die magte van ’n staat wat homself al talle kere bewys het as onvoorwaardelik bereidwillig om misbruik daarvan te maak.

Terence Corrigan

In sy kern versterk die wetsontwerp op onteiening wat die ANC-regering op die land wil afdwing, die magte van ’n staat wat homself al talle kere bewys het as onvoorwaardelik bereidwillig om misbruik daarvan te maak.

En die feit dat die konsepwet “eiendom” op so ’n manier beskryf dat dit nie net “beperk (is) tot grond” nie, vergroot die reikwydte daarvan ver buite die mielielande en veeboerderye in die binneland. Dit waarborg ’n vermindering in beleggersvertroue en verweer die eiendomsreg wat noodsaaklik is vir belegging, groei en werksgeleenthede – die dinge wat die enigste betroubare bron van stabiliteit en welvaart is.

Suid-Afrika se toekoms – en veral die vooruitsigte van sy armste mense – is op die spel.

Sedert die debat oor “onteiening sonder vergoeding” aan die einde van 2017 prominensie begin kry het, is dit voorgehou as ’n noodsaaklike beleidsverandering om die land se mislukte grondhervormingspogings te laat herleef en te versnel.

Dit is voorgehou as ’n morele noodsaaklikheid – ’n regstelling van die historiese onteiening van Suid-Afrika – maar ook as ’n ekonomiese geleentheid.

Volgens dié redenasie sal ’n meer inklusiewe, toeganklike landbousektor goed wees vir werkskepping, vir die ekonomie en vir ’n samelewing wat graag wil ontsnap van sy verlede.

Suid-Afrika sal as onbelêbaar beskou word.

In 2018 het pres. Cyril Ramaphosa dit só verduidelik: “Versnelde grondhervorming, wat binne die raamwerk van die land se Grondwet onderneem word en in ooreenstemming met die wet, kan ’n doeltreffende katalisator wees vir groter landbouproduksie, landelike ontwikkeling, werkskepping en breër ekonomiese groei. Opkomende boere sal die grond, sekuriteit en ondersteuning kry wat hulle nodig het om lewensvatbare ondernemings te vestig. Arm mense in stedelike gebiede sal bekostigbare behuising hê in gebiede wat naby ekonomiese geleenthede en sosiale geriewe geleë is.”

Onteiening sonder vergoeding, die vlagskipbeleid van “versnelde grondhervorming”, sal hierdie goeie dinge dryf, het hy voorspel. Ramaphosa het immers gesê dat sonder die bates die meeste mense nie in staat sal wees om welvaart te versamel en uit armoede te ontsnap nie.

Dit is inderdaad die redenasie wat die argument onderskryf dat eiendomsreg fundamenteel is vir vrye, suksesvolle samelewings. En dit is presies die bron van die diep en geregverdigde angs oor die Wetsontwerp op Onteiening, en die konteks waarin die regering die proses dryf om dit te laat verorden.

Daar is oor die algemeen twee primêre redes vir kommer. Die eerste hou verband met die voorgestelde proses van onteiening.

Die gevaar is dat die wetsontwerp die staat in staat stel (dit kan ’n bankrot munisipaliteit wees, of ’n ander staatsorgaan wat sodanige mag kragtens die wetsontwerp of ander wetgewing kry) om eiendomme te neem selfs waar die proses betwis word.

’n Eiendomseienaar wat onteien word, kan moontlik die geldigheid van die onteiening of die vergoedingsbedrag wat aangebied word nadat die eiendom verlore is, beveg.

Soos my kollega dr. Anthea Jeffery opgemerk het, kan die werklike motivering van ’n munisipaliteit wees om sy leë geldkoffers aan te vul, maar dit sal nietemin die mag hê om te besluit dat die onteiening “in die openbare belang” is en dat ’n skamele of geen vergoedingsbedrag “regverdig en billik” is.

Mense met voldoende baie geld kan bemiddeling aanvra of direk by die howe aansoek doen om die geldigheid van die onteiening of vergoeding wat aangebied word, te betwis, maar die meeste mense sal nie oor die middele beskik nie, veral as hulle reeds eiendomsreg en besit van hul huise of ander belangrike bates verloor het wat die bron van hul inkomste kan insluit.

Dit is dus ’n direkte bedreiging vir die eiendomsreg wat Ramaphosa glo so vrugbaar en belangrik kan wees.

Die kanteling van die skaal so sterk ten gunste van die staat het ingrypende gevolge vir grondhervorming, wat die tweede primêre kategorie van kommer is.

Toe die oorspronklike parlementêre debat oor die moontlike wysiging van die Grondwet in Februarie 2018 gehou is, het Gugile Nkwinti – die voormalige minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming – dit duidelik gemaak dat private, getitelde grondbesit nie oorweeg word nie. Die staat sou eerder die grond besit en dit “beskikbaar stel vir ons mense om te bewerk”. Titelaktes sou volgens hom slegs tot die verlies van die grond lei.

Die beleidsbenadering tot grondhervorming is in elk geval al tien jaar lank gegrond op die beginsel van die bemagtiging van die staat. Dit het die vorm aangeneem van die staat wat grond wat vir herverdelingsdoeleindes verkry is, vashou terwyl die staat “toegang” aan begunstigdes verleen. Private besit is nie waarskynlik nie, soos die beleid oor die verhuur en vervreemding van staatsgrond (SLLDP) van 2013 duidelik maak.

Dit is wat Jeffery tereg “die bedrog aan die kern van die wetsontwerp” noem. Ondanks die regering se bewerings dat hy grond aan “die mense” wil teruggee sal onteiende eiendom nie in swart Suid-Afrikaners se besit oorgedra word nie, maar deur die staat as ’n instrument van patronaatskap gehou word en gebruik word om mense se afhanklikheid van die regerende party te vergroot.

Die mees ontnugterende van alles – in die lig van die feit dat die proses die staat bevoordeel en die staat se vasbeslotenheid om onteiende bates self te behou – is die breë definisie van “eiendom” wat die staat beoog om te bekom.

Jeffery stel die risiko bondig: “Alle bateklasse is kwesbaar – en so ook alle Suid-Afrikaners. U kan dalk dink dat u gevrywaar sal wees, maar dit is onwaarskynlik dat dit so sal wees.”

Die agenda van onteiening sonder vergoeding is ’n gevaar vir individue en huishoudings in die algemeen en konseptueel. Dit is ook ’n gevaar weens die wanfunksionele aard en ideologiese uitkyk van die Suid-Afrikaanse staat.

As hierdie agenda verder gedryf word, kan Suid-Afrika verwag om ’n herhaling te sien van die ekonomiese slae wat hy die afgelope dekade beleef het. Sou die onteieningsmaatreëls oorgaan in die grondwetlike bestel en die wet, sal die slag vir Suid-Afrika se geloofwaardigheid as sake- en beleggingsbestemming vinnig en ernstig wees.

Suid-Afrika word al lank geteister deur beleidsonsekerheid. ’n Skuif wat eiendomsreg verder verwater sou op sy beste aankondig dat hierdie onsekerheid nou manifesteer in die veiligheid van beleggings, of dat onsekerheid vervang is deur die sekerheid van slegte en teenproduktiewe beleid. Elke daad van onteiening sou tot hierdie krisis bydra.

Beleggers en sakelui sal heel waarskynlik ’n afwagtende houding aanneem – dit is nou as hulle Suid-Afrika nie heeltemal as ’n ernstige oorweging sal laat vaar nie. Die optrede van die regering sal baie harder spreek as wat enige strelende gerusstelling kan doen.

Hieruit sou volg ’n langdurige knou van voortdurende agterdog en depressiewe beleggersvertroue.

Die modellering wat deur die ekonome dr. Roelof Botha en prof. Ilse Botha gedoen is, dui op verliese vir die ekonomie wat honderde miljarde rande beloop, tesame met meer as twee miljoen werksgeleenthede. Suid-Afrika sal as onbelêbaar beskou word.

Wat Suid-Afrika oor onteiening sonder vergoeding doen, sal sy toekoms bepaal. Die foute in die wetsontwerp op onteiening is gevaarlik en moet weerstaan word. Suid-Afrikaners het tot 28 Februarie kans om hul opposisie te registreer – en moet dit doen in die wete dat dit wat die land nou doen of nie doen nie, langtermyngevolge kan hê.

Terence Corrigan is ’n projekbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/ons-moet-wet-oor-grond-stuit-20210206

© 2020 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Terms & Conditions | Privacy Policy | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors