Ons kom goed klaar, dankie - Rapport

Jun 06, 2021
6 June 2021 - Suid-Afrikaners is inherent rassisties en rassisme is ons grootste probleem en uitdaging. Reg? Nee, verkeerd.

Gabriel Crouse

Suid-Afrikaners is inherent rassisties en rassisme is ons grootste probleem en uitdaging. Reg?

Nee, verkeerd.

Die meeste Suid-Afrikaners dink nie rassisme is die probleem nie. En ons het data wat dit bewys.

’n Onlangse demografiese meningspeiling wat in opdrag van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) gedoen is, toon dit duidelik. Dit is die goeie nuus.

Of dié bevinding met vreugde of vyandigheid ontvang gaan word, is ’n ander vraag.

Die peiling is gedoen deur Markdata in die taal van die respondent se keuse. Die eerste vraag was: “Wat dink jy is die twee ernstigste probleme wat sedert 1994 nie opgelos is nie?” Deelnemers is geen opsies verskaf nie – hulle het vrye keuse gehad om enigiets te identifiseer wat hulle as probleem beskou.

Die probleem wat die meeste respondente boaan hul lysie gesit het, is werkloosheid. Baie mense het ook misdaad, korrupsie, behuising, dienslewering en swak onderwys gekies, maar verstommend min – net 3% – het gesê rassisme is die grootste probleem.

Die land is in die verkeerde rigting op pad.

Dink mooi daaraan. Uit elke 100 mense wat jy vandag op straat gaan raakloop, dink net drie rassisme is ons grootste probleem.

Sedert die begin van pres. Cyril Ramaphosa se termyn aan die einde van 2017 en weens Covid-19 het die land tegnies twee resessies beleef en 1,3 miljoen werkgeleenthede verloor. Dit is ’n groot probleem en ons navorsing wys dit ook.

Ons het egter verder gegaan. Ons respondente is ook gevra: “Het jy die afgelope vyf jaar persoonlik enige vorm van rassisme ervaar?”

Altesame 17% het ja gesê, met mense van alle rasse wat aangedui het dat hulle geraak is, wat duidelik toon dat rassisme ’n probleem is wat oor kleurgrense strek.

Maar die belangrike punt is natuurlik dat die oorgrote meerderheid, 80% van alle Suid-Afrikaners, die afgelope vyf jaar geen vorm van rassisme ervaar het nie.

Dit moet goeie nuus wees, ’n ondenkbare uitslag 30 jaar gelede, en iets wat min mense sou kon raai as dit nie vir ’n demografiese peiling soos hierdie was nie.

Ten spyte daarvan word ons daagliks deur die media en politici wysgemaak “rassisme is die probleem – hier, daar en oral”.

Cornwall Hill College het hom pas by die Laerskool Schweizer-Reneke, die Hoërskool Brackenfell en Pretoria High School for Girls aangesluit in ’n uitgebreide en steeds groeiende lys van “rassistiese” skole en universiteite wat sonder wesenlike bewyse van die verskriklikste wandade beskuldig word.

André de Ruyter het hom onlangs aangesluit by die eindelose lys van prominente Suid-Afrikaners, waaronder Ernst Roets, Helen Zille, Gwen Ngwenya en Lindsay Dentlinger, wat valslik as “rassiste” of “marionette van rassiste” bestempel is – tot die genot van die spreekwoordelike chattering classes wat in Sandton aan hul skemerkelkies teug./*

Die president het selfs die ekonomie as “rassisties” veroordeel en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, ons minister van samewerkende regering, het die meriete van “Cabralesque klas-selfmoord” in die winter van 2020 oorweeg – al toon Statistieke SA se syfers dat swart mense sedert 2015 die oorgrote meerderheid van die nasionale salaristjek verdien. Die top-10% van swart salaristrekkers verdien beter as die 10% van wit topverdieners met ’n faktor van drie in absolute terme.

Ondanks al die pogings om “rassisme” as die grootste probleem te beskryf, sien die meeste mense hierdie land vir wat dit regtig is: ’n ramp in wording.

In die IRV-peiling is mense ook gevra of “al hierdie praatjies van rassisme en kolonialisme” net politici is wat verskonings probeer soek vir hul mislukkings. Die meeste mense het ja gesê.

Die meeste mense dink nie net dat opportuniste lieg oor die land se “rassisme-probleem” nie, maar die meerderheid dink ook dat hierdie land in die verkeerde rigting op pad is.

Die internasionale navorsingsgroep Ipsos het in ’n reeks internasionale peilings bevind dat ’n buitengewone hoë persentasie Suid-Afrikaners al jare lank dink dat hierdie land op die verkeerde pad is.

Voeg al die bevindings bymekaar en dit blyk ons sit met ’n kollektiewe siening by mense wat besef dat dinge besig is om verkeerd te gaan – wat goeie nuus is – maar dat hulle toelaat dat dit aanhou gebeur – wat sleg is. Dit beteken een van ons probleme is dat ons nie weet hoe om ons probleme op te los nie.

’n Mens het amper meegevoel met De Ruyter.

Hoekom is dit so?

Miskien dink te veel Suid-Afrikaners dat hulle beter weet as hul medeburgers.

Miskien dink te veel Suid-Afrikaners: “Ek weet dat rassisme nie die probleem is nie, maar die meeste ander mense het dit nog nie agtergekom nie.” Miskien dink te veel: “Ek weet dat hy of sy nie rassisties is nie, maar ek sal hulle nie verdedig nie, want die meeste mense dink anders, en ek het nie tyd nie (of is te bang vir die reaksie) om hulle te oortuig dat hulle verkeerd is.”

Hoe ook al, Suid-Afrika blyk ’n spesiale geval te wees waar mense weet wat belangrik is, maar nie op daardie kennis reageer nie. Ons misluk daarin om hard en duidelik te sê dat rassisme nie die probleem is nie as eerlikheid en ordentlikheid dit van ons vereis.

Wat dit ’n spesiale saak maak, is dat die verbreking van die verband tussen dit wat ons weet en dit wat ons doen nie soseer gegrond is op willoosheid nie, maar eerder op ’n wanopvatting oor hoe geïsoleerd ons is (omdat ons onsself verbeel dat ons die enigste mense is wat die waarheid raaksien).

Kom ek verskuif die blik van die algemene na die spesifieke: Ek is net 31, maar ek kan ’n paar nare oorblyfsels van die apartheidsideologie onthou – soos om ’n paar wit ouers te ontmoet toe ek in gr. 5 was wat bly was dat hul kinders se onderwysers meestal wit is. Hulle was doodbang vir die idee dat hul kinders die idee sal vorm van swart mense as vriendelike, intellektuele persone in morele gesagsposisies. Dit sou hierdie spesifieke ouers se wêreldbeskouing ondermyn dat wit slegs van wit en swart slegs van swart mense iets kan leer.

Ek kan hierdie geïsoleerde gesprek van 20 jaar gelede onthou omdat dit my bang gemaak het. Dit het uitgestaan. Dit het my bang gemaak om te weet dat ’n ouer meer vir ras kan omgee as vir sy eie kinders. Ek het nie gedink dat ek dit ooit weer sou ervaar nie.

Maar die afgelope week hét ek, hoewel slegs op ’n afstand. ’n Paar swart ouers het by Cornwall Hill College gekla dat hulle meer onderwysers wil hê wat soos hulle lyk.

Onderwys is byna die enigste bedryf waarin klante soms betoog vir ’n rasgegronde in plaas van ’n kwaliteitsgegronde produk.

Meestal kom dié aandrang van protesterende universiteitstudente en buitestanders wat skole om politiek opportunistiese redes teiken en wat in die eerste plek nie regtig in onderwys glo nie.

Soms gebeur hierdie soort ding in die vermaakbedryf, waar ekonome verwag dat “smaak-gegronde diskriminasie” ’n rol sal speel omdat die produk so subjektief is. Maar as mense iets wil hê wat regtig vir hulle saak maak, is hulle geneig om verdienste voorop te stel.

Selfs Julius Malema, wat nie na “wit flieks” wil kyk nie, neem wit advokate saam as hy hof toe gaan.

Onderwys behoort heilige grond te wees waar ons dit wat vir ons kinders belangrik is eerste stel. Tog het min mense hulle uitgespreek teen ouers wat openlik daarop aandring dat hul kinders opgevoed word op grond van ras.

Voormalige personeel van Cornwall wat gevra het dat hulle nie geïdentifiseer word nie, het gesê hoewel hulle persoonlik besef dat kinders en onderwysers mekaar moet respekteer ongeag ras, nie almal so dink nie as gevolg van die geskiedenis van ons land. Daarom dink hulle dat dit beter is om tegemoetkomend te wees as dit kom by rasgegronde opvoeding. En die hoof van Cornwall het verskoning gevra omdat hy nie meer swart personeel gehad het nie.

Ek vermoed dit is ’n wydverspreide oordeelsfout. Die IRV doen jare al meningspeilings waarin hy keer op keer vra: “Gee jy om oor die kleur van jou kinders se onderwyser se vel of wil jy net iemand hê wat die beste is in hul werk?”

Die resultate is konsekwent.

Altesame 84% van mense wil net die beste onderwyser hê en slegs ’n klein minderheid van alle rasse stel kleur as ’n belangrike maatstaf. Volgens IRV-peilings is die algemene voorkeur vir meriete in alle poste ongeveer 80%.

Dit beteken dat ’n groot meerderheid Suid-Afrikaners die beginsel van rasgegronde aanstellings teëstaan, maar die verhouding klim nog hoër as dit by besluite oor hul eie kinders kom. En tog slaan baie én bekende skole die ander rigting in.

Die probleem is nie dat die meeste mense rassiste is wat kleurgekodeerde opvoeding of kleurgekodeerde aanstellings wil hê nie. Dis eerder dat ’n klein minderheid daarmee wegkom om te praat of hulle “die meerderheid” is – sonder enige opposisie.

Die IRV se veldtog “Rassisme is nié die probleem nie” is ’n poging om hierdie wanopvatting te stop terwyl dit nog moontlik is.

Algemene kennis

As mense net besef dat hulle nie alleen is in hul besef oor wat regtig werk nie, sal ons oukei wees.

Van Aristoteles tot die Amerikaanse filosoof David Lewis deel denkers die basiese insig dat die “politieke dier” genaamd “die mens” met mekaar moet ooreenkom oor ’n tipe “algemene kennis” is as hulle hul optrede op ’n nuttige wyse wil koördineer. In ’n filosofiese sin beteken dit dat daar kennis is wat mense in hul binnekamer aanvaar wat (byna) almal anders ook weet en aanvaar. Konsensus, dus. ’n Praktiese voorbeeld is die basiese padreël: Ons ry almal aan die linkerkant van die pad in die verwagting dat alle ander padgebruikers ook weet om dit te doen.

’n Meer diepsinnige voorbeeld is taal.

Dit sou onmoontlik wees vir jou, die leser, om te verstaan wat ek hier skryf sonder gedeelde kennis tussen ons oor die betekenis van woorde.

Vir ’n politieke voorbeeld kan ek verwys na my aangetroude familie, wat almal in Rusland onder Sowjet-beheer gewoon het.

Hulle was ongelukkig met die Sowjet­regime, maar almal het gedink dat hulle die enigstes was wat so gedink het – ten minste tot baie naby aan die einde daarvan.

In een dramatiese voorbeeld was twee susters albei heimlik verlig toe hulle die nuus van Stalin se dood hoor. Maar toe hulle mekaar in die kombuis ontmoet, het elkeen gedink dat die ander Stalin bewonder. Albei het dus trane geveins oor die “dood van ons dierbare leier”. Vandag lag die twee bitterlik oor die ervaring: “Ons het albei gedink ons weet beter as die ander een. Dit terwyl ons albei dwase was.”

Rassisme is nie die probleem nie. Maar is dit algemene kennis dit dit so is?

As jy in ’n ewekansige groep gevra sou word watter persentasie ouers gee om oor die kleur van hul onderwysers se vel, sou dit ’n maklike vraag wees om te antwoord? Sou die meeste van hulle sê dat 84% net die beste persoon vir die werk wil hê?

Sien jy die probleem? Die meerderheid Suid-Afrikaners soek dieselfde oplossings vir dieselfde probleem, maar is te bang om dit te sê uit vrees vir die negatiewe gevolge van ’n vyandige reaksie deur hul gehoor. Daar mag dalk ’n vyandige reaksie wees, maar die data wys dat so ’n reaksie nie massasteun sal geniet nie.

Die veldtog

Soms word mense wat nierassigheid bevorder, aangeval, selfs in rassistiese terme. My kollega Sihle Ngobese, beter bekend as Big Daddy Liberty, is al ’n k****r genoem deur swart mense wat sy vermoë verpes om die mites van rasgegronde kommunisme te ontbloot!

Ek is al aangeval in my werk as joernalis deur klipgooiers wat gedreig het om die umlungu dood te maak.

Ons het ’n mate van simpatie met diegene wat uit vrees bedank nadat hulle van rassisme beskuldig is. De Ruyter se onlangse onderhoud met eNCA is ’n voorbeeld. Nadat die rassisme-beskuldiging uit die weg geruim is, het die onderhoud goed gevorder – totdat hy herhaaldelik gevra is of hy nie tog ’n rassis is nie. Die uitvoerende hoof van Eskom het geantwoord dat hy nooit enige wit persoon in sy uitvoerende binnekring aangestel het nie – asof die alternatief iets sou wees om weg te steek. Teleurstellend, maar ’n mens het amper simpatie met hom.

Die IRV self het voor nuwe uitdagings te staan ??gekom toe ons hierdie “Rassisme is nié die probleem nie”-veldtog van stapel gestuur het. Twee maatskappye het geweier dat ons ’n advertensiebord oprig in Johannesburg – waarvoor ons betaal – met die boodskap “www.RacismisNOTtheproblem.co.za”. ’n Ander onderneming wou nie vir ons ’n video vervaardig om die uitslae van ons nasionale studie te verduidelik nie.

Die rede?

Hulle was bang dat “ander mense” dit nie sou verstaan ??nie. Nadat ons vir hulle die resultate van ons peiling gewys het om aan te toon dat die meeste “ander mense” wel die boodskap sal verstaan, het hulle steeds nee gesê. Ons respekteer dit en erken dat mense hul eie gevegte moet kies.

Maar as die meeste mense aanhou om ’n klein minderheid, wat meer omgee oor hoe ’n persoon lyk as sy innerlike eienskappe, toe te laat om die debat te oorheers, sal hierdie land van vrees tot isolasie verval, en van erg tot erger.

“Rassisme is nié die probleem nie” moet groei tot ’n beweging wat begin het met die tienmiljoene Suid-Afrikaners wat die afgelope drie dekades hard gewerk het aan hul verhoudings met mekaar – eers op politieke vlak en toe op grond van hul karakter, eerder as hul velkleur.

“Rassisme is nié die probleem nie” moet groei tot ’n beweging van diegene wat nie afgeskrik word deur staatsmag, rykdom of die aansien van ’n klein minderheid wat hierdie land in die verkeerde rigting dryf nie – terwyl hulle die beskuldigende vinger wys na rassisme wat hulle “oral” sien.

Rassisme is nie die probleem nie, en rasgegronde beleid is nie die oplossing nie.

Die IRV se RacismisNOTtheproblem-veldtog begin hierdie week met advertensieborde langs hoofweë en ’n digitale veldtog op sosiale media. Die doel is om oor die volgende vyf weke hierdie idee in die hoofstroom te plaas deur Suid-Afrikaners se gemeenskaplike waardes aan die groot klok te hang – soos die algemene begeerte om swart ekonomiese bemagtiging te beperk, die bedreiging wat Amerikaanse “critical race theory” inhou en om verdienstelikheid in skole te verdedig.

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/ons-kom-goed-klaar-dankie-20210605

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi