Om nie 'n vuurwapen te mag besit nie, is 'n aanval op burgerregte - Maroela Media

Nov 09, 2018
9 November 2018 - Die polisie het in ’n groot mate getoon dat hulle nie in staat is om die land se burgers te beskerm nie (en dikwels self die aanrigters van geweld en ernstige misdaad is). Om gewone Suid-Afrikaners se regte te ontneem om ’n vuurwapen vir selfverdediging te besit is nie net onbesonne nie, maar immoreel.

’n Uitgelekte dokument, na bewering ’n amendement tot die Vuurwapenbeheerwet, het kommer gewek onder Suid-Afrikaners omdat dit onder andere die reg tot selfverdediging as ’n geldige rede vir die besit van ’n vuurwapen sal verwyder.

Ander voorgestelde wysigings sal diegene wat vuurwapens vir sportskiet of jag gebruik affekteer. Die nuwe amendemente gee ook aanleiding tot verdere hindernisse vir mense wat wettiglik ’n vuurwapen wil besit – potensiële eienaars sal byvoorbeeld ’n mediese sertifikaat van ’n mediese praktisyn moet verkry wat verklaar dat hulle geskik is om ’n vuurwapen te besit.

Om verantwoordelike Suid-Afrikaners te verhinder om ’n vuurwapen te besit is ’n aanval op burgerregte. Die polisie het in ’n groot mate getoon dat hulle nie in staat is om die land se burgers te beskerm nie (en dikwels self die aanrigters van geweld en ernstige misdaad is). Om gewone Suid-Afrikaners se regte te ontneem om ’n vuurwapen vir selfverdediging te besit is nie net onbesonne nie, maar immoreel.

Dit is ’n feit dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die stryd teen misdaad verloor. Die land se moordsyfer het, byvoorbeeld, sedert sy hoogtepunte in die middel 1990’s, voortdurend afgeneem, maar dié tendens het omtrent vyf jaar gelede begin omkeer. Die jongste statistiek van die SAPD toon dat meer as 20 000 Suid-Afrikaners in 2017/18 vermoor is – die hoogste syfer sedert 2002/03. Die moordkoers in 2017/18 was 36 vir elke 100 000 Suid-Afrikaners – die hoogste in byna tien jaar. Hoewel ons ver van die pieke van moord en geweld is wat ons in die 1990’s ervaar het, is dit uiters sorgbarend dat moord, vir die eerste maal in die demokratiese Suid-Afrika, ’n opwaartse tendens toon.

Daar word beraam dat daar in 2017, as ’n skrikwekkende maatstaf, net meer as 30 000 mense in die Siriese Burgeroorlog gedood is. Dit is insiggewend dat Suid-Afrika – ’n land in vrede – ’n volle twee derdes van die geweldsterftes in Sirië ondervind, terwyl Sirië deur een van die dodelikste konflikte van die 21ste eeu geplunder is.

Verswaarde roof het ook oor die afgelope naastenby vyf jaar ’n toename getoon, met snelle toename in hierdie misdaadkategorie sedert 2013/14. Statistiek toon dat verswaarde roof in 2017/18 ’n klein afname in vergelyking met 2016/17 getoon het. Die syfer van verswaarde rooftogte wat in 2016/17 aangeteken is, was egter die hoogste syfer wat ooit geregistreer is, en daar was slegs ’n geringe afname in 2017/18. Die verswaarde roof-koers per 100 000 in 2016/17 was ook die hoogste in byna tien jaar.

Verder toon die jongste Slagoffers van Misdaad-opname, wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, dat die publiek besig is om vertroue in die SAPD (en die breër kriminele geregtigheid-stelsel) te verloor, wat, in die lig van die bogenoemde syfers, nie verrassend is nie.

Sommige misdade – soos gewone roof, aanranding en seksuele misdrywe – toon merkbaar skerp afnames, waarvoor die polisie lof verdien. Die feit bly egter staan dat ander ernstige misdade aan die toeneem is. Om mense die reg te ontneem om hulself te verdedig in ’n konteks van stygende ernstige misdaad-syfers is roekeloos.

Ons het vernuwende oplossings vir die misdaadkrisis in Suid-Afrika nodig, en die ontwapening van gewone mense wat vuurwapens wil hê as ’n manier om hulself en hul gesinne te beskerm is nie hoe ons dit moet hanteer nie.

Ons by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) stel drie nuwe beleidsidees voor wat Suid-Afrikaners op die een of ander wyse kan help om ’n wending in die misdaadsituasie te bring.

Ons stel voor dat enige sekuriteitsopgraderings aan u huis, of enige uitgawes wat ten opsigte van sekuriteit aangegaan word, belastingaftrekbaar moet wees. Baie Suid-Afrikaners bestee reeds groot bedrae aan sekuriteit vir hul huise om hulself en hul gesinne te beskerm en hulle behoort toegelaat te word om dit as ’n uitgawe te eis om teen hul belasting te verreken. (Daar word bereken dat Suid-Afrikaners meer as die hele polisiebegroting aan sekuriteit bestee.) Dit kan geld insluit wat aan sekuriteitsopgraderings tuis bestee word, sowel as maandelikse heffings wat aan veiligheidsmaatskappye betaal word. Die belasting wat gewone Suid-Afrikaners betaal befonds reeds die polisie, wat in baie opsigte getoon het dat hulle nie daartoe in staat is om burgers te beskerm nie.

Tweedens stel ons voor dat gemeenskappe toegelaat word om hul stasiebevelvoerders te verkies tydens die plaaslike regering-verkiesings of, minstens, dat Gemeenskapspolisieforums sterk uitgebreide magte moet verkry om stasiebevelvoerders aan te stel. Op dié manier sal die hoof van u plaaslike polisiestasie regstreeks teenoor die gemeenskap aanspreeklik wees. Indien die plaaslike polisie swak presteer, korrup is of – nog erger – ernstige en geweldsmisdade pleeg, sal die gemeenskap eenvoudig die stasiebevelvoerder kan herroep en ’n ander een aanstel. Stasiebevelvoerders hoef ook nie noodwendig dienende polisiebeamptes te wees nie.  Enige toereikend ervare persoon met die kwalifikasies om ’n organisasie te bestuur sou verkies kon word, wat aan die gemeenskap ’n groot kombinasie van kandidate laat om van te kies.

In die derde plek stel ons die ontwikkeling van baie goed georganiseerde Buurtwagskemas met toereikende hulpbronne voor wat by private sekuriteitsvoorsieners geïntegreer is. Dit sal u gemeenskap in staat stel om prakties beheer van sy eie sekuriteit oor te neem. Sulke strukture kan later by die polisie geïntegreer word.

Ons het nuwe oplossings nodig om misdaad te bestry – die styging in ernstige misdrywe toon dat die polisie nuwe idees nodig het. Dit kan gedoen word sonder om gewone Suid-Afrikaners die reg te ontneem om hulself te bewapen. Suid-Afrikaners, ongeag of hulle burgerlikes of lede van die SAPD is, moet saamwerk om die deurslag te gee teen misdaad. Ontwapening van gewone Suid-Afrikaners sal enige hoop op samewerking vernietig, wat net die planne sal bevorder van diegene wat buite die grense van die wet funksioneer.

Marius Roodt is hoof van reklame by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ’n liberale dinktenk wat ekonomiese en politieke vryheid bevorder. Indien u saamstem met wat u so pas gelees het, kan u hier klik of u naam na 32823 SMS (SMSe kos R1, bepalings en voorwaardes is van toepassing).

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/om-nie-n-vuurwapen-te-mag-besit-nie-is-n-aanval-op-burgerregte/

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi