Nog ʼn vals “boerestorie” - Maroela Media

Aug 03, 2018
3 August 2018 - Grondliggend aan ons vermoë om ons weg na die toekoms te navigeer, is die behoefte aan nougesette respek vir die waarheid.

Terence Corrigan 

 

Een van die algemeenste aanhalings deur Winston Churchill – ʼn man wat bekend was vir sy gevatheid en taalkundige vaardigheid – is dat ''n leuen halfpad om die wêreld loop voordat die waarheid ʼn kans het om sy broek aan te trek’.

Na jare van maatskaplike spanning het hierdie gevatte gesegde vandag ʼn treffende weerklank in Suid-Afrika beleef. Niemand betwis die feit dat moeilike en eerlike gesprekke noodsaaklik is vir ons samelewing om iets te kry om oor saam te stem sodat ons vorentoe toe kan beweeg nie. Grondliggend aan ons vermoë om ons weg na die toekoms te navigeer, is die behoefte aan nougesette respek vir die waarheid.

Dit is dalk nêrens so belangrik as in ʼn gesprek oor die dinamiek van die ekonomie van die boeregemeenskap, ʼn gelaaide onderwerp en die teiken van baie politieke vyandigheid nie. 

ʼn Goeie voorbeeld is die dekking wat aan ʼn onlangse skietery in Bergville in KwaZulu-Natal, verskaf is. Volgens aanvanklike verslae, grootliks gebaseer op polisieverklarings, het ʼn 80-jarige ‘boer' iemand wat op sy eiendom oortree het in ʼn poging om bokke terug te kry, in ʼn skietvoorval beseer. Polisiebeamptes het op die toneel aangekom om die voorval te ondersoek en te ontlont, maar die ‘boer’ wat blykbaar sy vuurwapen op hulle gerig het, is doodgeskiet.

Op die oog af is daar iets tragies bekend aan hierdie storie propvol aanwysers van Suid-Afrika se politieke mitologieë.  Dit het diep wortels in die manier waarop die Suid-Afrikaanse gemeenskap so dikwels voorgestel word: die beledigende, skietlustige wit plaasboer, ʼn geskil oor toegang tot eiendom, die vinnige toepassing van grensgeregtigheid, en die tragiese einde.

Maar dit is nie wat gebeur het nie.

Die eiendom waarop die ‘boer’ gebly het was nie ʼn plaas nie, dit kan waarskynlik beter beskryf word as 'n werf, ongeveer 'n halwe hektaar groot. Die belangrikste feit in hierdie storie is dat die hoofspeler geen plaasboer in die werklike sin van die woord was nie. Soos Angus Braithwaite van die Bergville Boerevereniging aan die Instituut vir Rassebetrekkinge (IRV) uitgewys het, het die betrokke ‘boer’ ʼn lang rekord van wisselvallige en roekelose gedrag openbaar. Hy het ʼn reputasie gehad dat hy gereeld met ander lede van die gemeenskap geargumenteer het en dat hy mense met sy vuurwapen gedreig het. Sy gedrag het sterk daarop gedui dat hy gely het aan wat Braithwaite as ‘geestelike uitdagings’ beskryf het.

Hierdie saak eggo voorvalle wat vroeër vanjaar plaasgevind het. In Januarie het die dood van Aaron Mutavhatsidi op ʼn plaas in Tarlton naby Krugersdorp met reg wye belangstelling ontvang. Mediaverslae – aangevuur deur die beskrywing van die saak wat deur die polisie uitgereik is – identifiseer die vermeende beskuldigde as ʼn plaasboer, maar hy was in werklikheid ʼn veiligheidswag.

ʼn Ander saak wat wye belangstelling geniet het, is die een wat openbaar het hoe ʼn werker op ʼn plot naby Endicott in Springs, gedwing is om ontlasting te eet. Hier is terme wat met 'boer' te doen het tot die uiterste ontplooi: ʼn voorbladartikel in een koerant het nie minder nie as 13 keer die woorde 'plaas', ‘plaasboer’ en ‘plaaswerker’ gebruik om die brutaliteit van die storie te beklemtoon. Op die koop toe is bygevoeg dat hierdie “die laaste skokkende voorval in 'n reeks rassevoorvalle was wat toon wat nie alles plaaswerkers deur die toedoen van hul werkgewers moes verduur”.

Vanweë die grillerige besonderhede van die verslag en die polariserende toon van verslagdoening, het ons hier by die IRV alles in ons vermoë gedoen om die omstandighede hiervan vas te stel. Dit was maklik om die woning op te spoor, en bykans net so maklik om vas te stel dat indien enige boerdery ooit plaasgevind het, dit op ʼn uiters klein skaal was. ʼn Motorbesigheid is op kennisgewingborde op die heining om die eiendom adverteer. Gesprekke met bure (en ook die nuusberigte) het ʼn patroon van onverantwoordelike gedrag openbaar.

Volgens wat ons kon vasstel, was hierdie werklik gruwelike voorvalle. Elke voorval was egter werklik uniek; daar is niks wat aandui dat as gevolg van voorvalle soos hierdie, alle plaasboere oor dieselfde kam geskeer kan word as uitbuitend en beledigend nie.

Nieteenstaande, verslae soos hierdie veroorsaak stories waarin die Feindbild, (letterlik, die beeld van die vyand), van die plaasboer, buitengewoon opgeblaas word. Die wortels hiervan lê diep in Suid-Afrika se geskiedenis, maar dit word vandag steeds naarstiglik deur sekere gewetenlose politici aangemoedig.

Die vuur word ook bewustelik of onbewustelik deur gesagsfigure aangeblaas wat verkies om nie die volle besonderhede van betwiste voorvalle vas te stel voordat hulle hul monde daaroor oopmaak nie – of wat steun op vae beskrywings dat alle mense wat buite digbevolkte voorstede woon, plaasboere is. Hulle feite mag wel nie akkuraat wees nie, maar as dit wat hulle kwytraak aanhoudend herhaal word, ‘maak dit op die ou end sin’.

Wat baie ontstellend is, is dat dit bekend gemaak word deur magsbronne – in twee gevalle, deur woordvoerders van die polisie. Daar rus (of dit behoort die geval te wees), duidelike verantwoordelikheid op die skouers van mense wie se gesagsposisie onberispelike eerlikheidstandaarde en integriteit vereis. Of hulle mislukking toevallig of doelbewus is, is van weinig praktiese waarde.

Ten tyde van die Tarltonskietery het Dan Kriek, president van Agri-SA geargumenteer dat ‘valse verslagdoening oor die voorval en swak joernalisme veroorsaak het dat plaasboere se reputasie en openbare beeld skade aangedoen is’. Die skade is egter veel erger as wat hy voorgegee het want hierdie soort waninligting dien om bestaande aannames te bevestig en te verdiep.

Sodanige ‘valse nuus’ het ʼn handige politieke en ideologiese instrument geword. Die doel daarvan is tipies nie om net een storie te verwring nie, maar om verskillende stories aan te dryf of te versterk, om die polarisasie graad-vir-graad, oor 'n lang tydperk verder te vergroot. Op die ou end sal dit hul teikengehoor help om ʼn sekere houding oor dinge aan te neem en persepsies te vestig.

Deur roekeloos met die waarheid om te gaan, word polarisasie verhoog en die afstande tussen ons word vergroot, so ook die vooruitsig op ʼn oplossing van ons probleme. Plaasboere is glad nie meer uitbuitend as enige ander groot groep mense nie, en om ʼn storie te versprei dat hulle wel so is, dra by tot Suid-Afrika se laste en probleme. Dit maak enige eerlike gesprekke toenemend baie moeilik.

 Dit is ʼn prys wat ons as samelewing skaars kan bekostig – want nie alleen plaasboere nie, maar elke Suid-Afrikaner sal op die lange duur daarvoor moet opdok.

 Terence Corrigan is ʼn projekbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ʼn dinkskrum wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder. Die artikel wat in Politicsweb verskyn het word met vergunning van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) gebruik en is deur die Afrikanerbond na Afrikaans vertaal

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/nog-n-vals-boerestorie/

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi