Nie 'n woord oor OSV by grondkonferensie - Maroela Media

26 February 2019 - Vir die konferensie om so oppervlakkig bedaard te wees dat daar nie eens oor OSV gedebatteer is nie, het ’n parlementêre proses vereis wat, in die woorde van ekonoom Azar Jammine, ’met een slag enige hoop vernietig het dat daar ’n opbloei van kapitale belegging sou wees wat volhoubare ekonomiese groei weer sou opwek’.

Gabriel Crouse

Die Grondherverspreidingskonferensie van verlede week by die Universiteit van Wes-Kaapland was ’n geleentheid om vas te stel wat die polities-akademiese elite se ingesteldheid is.  Die inleidingsgroet was op albei dae ‘comrade’.

Verskeie LP’s het opgedaag, van wie Mncedisi Filtane van die UDM die meeste gepraat het.  In die Konstitusionele Oorsig-komitee verlede jaar het Filtane gesê dat hy keelvol is en ’ons kan weer oorlog maak indien nodig.  Dit is basies waarheen julle my van nou af vorentoe gestuur het’.  Hoewel sy lag by die konferensie hard en dikwels was, het sy idees en die manier waarop hy mense van wie hy verskil aangespreek het nie veel verander nie.

Thoko Didiza, wat waarskynlik die voorsitter van die Handves van Regte-wysigingsproses sal wees, het op die tweede dag opgedaag en is omring deur bewonderaars.  Didiza was versigtig in haar uitsprake om tegnies te bly.  Sy het opgekom vir gesentraliseerde regering in al die ‘veelduidigheid’ daarvan met ’n vae herinnering oor wie nog in beheer is.  Die kalklig het op Ruth Hall, die UWK se voorste professor, geval wat gekies is om in die president se advieskomitee oor grondhervorming te dien.  Hall het net na die konferensie reguit na die president se komitee vertrek.

Teen dag twee was Hall baie duidelik oor haar samevatting van die konferensie.  Dit was ‘merkwaardig’, het sy gesê, dat ‘ons in werklikheid nie Onteiening sonder Vergoeding (OSV) bespreek het nie’.  ’n Opmerking wat skokkend waar gebly het.

Presies hoe gebeur dit dat ’n konferensie oor grondhervorming op dié tydstip kan plaasvind sonder enige werklike bespreking van OSV?

Dit het deels plaasgevind deurdat die konferensie in drie verdeel is, om by drie opdragreferate in te skakel.  Die eerste twee referate is deur relatief gematigdes gelewer wat hulle dalk duidelik teen OSV, of die koste van OSV, sou kon uitspreek indien hulle nie daarop ingestel was om hul eie alternatiewe voorop te stel nie. 

Die derde voorstel het van die voorsitter van Oxfam Suid-Afrika en die NRO-prins Mazibuko Jara gekom.  Jara het die radikale benadering gevolg.  Sy groep het die duidelikste antwoord op Hall se openingsvraag – hoe behoort grond vir herverspreiding geïdentifiseer en verkry te word? – aangebied. In een woord, ‘besetting’.  Een deelnemer het gewonder:  ‘Hoe organiseer ons selforganiserende openbare besetting?’  Die voorsitter het soos volg gereageer: ‘Neem net jou intrek op die grond en beweeg aan.  Grondbesettings.’  Toe een persoon te velde getrek het teen’verkrampte boere’ het die voorsitter haar kop saamstemmend geknik.  ‘;Ons het aggressiewe implementering nodig.’  Die jarelange EFF-beleid.

In ’n land wat obsessief is oor sosiale identiteite is hier iets waarop gelet moet word.  Die hardste stemme ter ondersteuning van besettingstrategie het in die volgende kombinasies met rasbeklemtoning – wit Afrikaans, wit Hollands – en die voorsitter – swart Amerikaans – gekom.  Weer eens moet dit nie verbasing wek nie; ras was geen volmag vir fundamentele waardes nie.

Spesiale vermelding vir duidelikheid gaan aan Marc Wegerif, ’n Universiteit van Pretoria-dosent (voorheen van Oxfam), wat entoesiasties gepraat het oor begunstigdes van grondherverspreiding wat ‘nie-oordraagbare’ regte op hul grond sou ontvang.  Dit beteken dat gegunstigdes nie hul grond sou kon verkoop of met ’n verband beswaar nie.  Dit strook heeltemal met ’n groot deel van die denke oor grondhervorming wat uit die UWK gekom het, maar min het die moed om dit ondubbelsinnig te stel.

Tracey Ledger, wat ’n navorsingsgenoot by Wits en ’n NRO-konsultant is, verdien ook spesiale vermelding.  Ledger het verduidelik dat die ‘solidariteits’ekonomie wat Jara voorstaan – iets tussen Afrikaburn se geskenkekonomie en Stalinisme – in die prysvasstelling in spazawinkels gesien kan word wat, volgens haar, standaardpraktyk is.

Enigeen wat GG Alcock se werk oor Kasinomicks ken, sal dit belaglik vind omdat duidelik aangetoon word dat spazas dikwels uiters mededingende besighede is wat pryse tot onder dié van supermarkte kan afdwing ondanks die laasgenoemde se voordeel in skaalbesparings.  Maar selfs indien dit waar was, indien jy sou hoor dat die winkels waar jy jou kos koop by prysvasstelling betrokke was, sou jy aangetrokke voel tot dié soort ‘solidariteit’?

Toe besetting en inname as die ware jakob gevestig is, is die aspek dat ‘ons ’n bietjie geweld gaan nodig hê’ geopper.  Die verfyning wat aangebied is, was dat slegs geweld teen swart mense en swart vroue ‘fokus’ verdien het.  Dit was soos om in Ramaphosa se wêreld in die VSA te wees waar dit nie nodig was om ’n enkele vermoorde boer te erken nie.

Die groep het afgesluit toe Dan Kriek, die hoof van AgriSA, opgestaan het om te sê dat hy self nooit sy plaaswerkers laat uitgaan het wanneer daar weerlig was nie.  Dit was met verwysing na die onlangse Upington-geval waar vier werkers in die veld doodgeslaan is waar, volgens die groep, op onmiddellike vergeldings’besetting’ aangedring is met, om dit sagkens te stel, ‘ons soek ’n revolusie’.

Kriek het bygevoeg:  ‘80% [van boere] lewer 20% van voedsel, waarmee ons dan drastiese dinge kan doen.  Nee, nie drastiese dinge nie – maar ons kan vinniger vordering maak.’

Dit het gelyk asof Kriek ’n punt wat vroeër deur Ben Cousins, ’n ander UWK-grondfoendie, gemaak is wou herbevestig.  Cousins het (breedweg opgesom) betoog dat indien die 20% van boere wat 80% van die voedsel lewer onaangeraak gelaat word, die swakker 80% van boere sonder veel skade aan voedselsekuriteit vervang sou kon word.

Toe Kriek later in privaatheid daaroor uitgevra is, het hy beswaar gemaak.  Hy het verduidelik dat hy eintlik die teenoorgestelde aan Cousins wou te kenne gee, as uitgangspunt en ter afsluiting.  Hy was beslis dat dit ’n misverstand was.  Hy sal ongetwyfeld volgende keer minder dubbelsinnig wees.  Desgelyks sal Kriek miskien ook die onregverdigheid van OSV noem.

OSV is nie bespreek nie omdat die teëstanders daarvan stilgebly het en die voorstanders dit as vanselfsprekend aanvaar het dat selfs die verandering van die Grondwet oor hierdie aspek nie genoeg sou wees nie. Wat werklik nodig was, was dat die polisie aan  die kant van ‘vrywillige’ grondinname teenoor grondeienaars moes wees.

Afgesien van ’n paar uitbarstings, was die algemene gees heeltemal aangenaam, byna soos ’n paar uitgagende teenoormekaarstellings.  Koel en kalm, selfs gemoedelik, met grappies en lang vervelige kolle.  Nogtans oor die algemeen aaklig.  Vir die konferensie om so oppervlakkig bedaard te wees dat daar nie eens oor OSV gedebatteer is nie, het ’n parlementêre proses vereis wat, in die woorde van ekonoom Azar Jammine, ’met een slag enige hoop vernietig het dat daar ’n opbloei van kapitale belegging sou wees wat volhoubare ekonomiese groei weer sou opwek’.  Die ekonomie is doodgewurg, die intelligentsia is goed geolie.

Hierdie artikel het vir die eerste maal op die  Rational Standard verskyn.

Gabriel Crouse is die George F D Palmer finansiële joernalis/trustgenoot by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ’n liberale dinktenk wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder.  Lesers word genooi om saam met die IRV standpunt in te neem deur ’n SMS na 32823 te stuur (SMS’e kos R1, bepalings en voorwaardes geld).

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/nie-n-woord-oor-osv-by-grondkonferensie/

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Terms & Conditions | Privacy Policy | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors