'n Ekonomiese herstelplan of wenslys? - Maroela Media

23 October 2020 - Op 15 Oktober het president Cyril Ramaphosa tydens 'n gesamentlike sitting van die Parlement 'n herstelplan bekendgestel wat ten doel het om die Suid-Afrikaanse ekonomie te herbou wat deur die langdurige inperkings verwoes is.

Carl Sebastian Steenekamp

Op 15 Oktober het president Cyril Ramaphosa tydens 'n gesamentlike sitting van die Parlement 'n herstelplan bekendgestel wat ten doel het om die Suid-Afrikaanse ekonomie te herbou wat deur die langdurige inperkings verwoes is.

Die sogenaamde Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan wat hy onlangs onthul het, het weereens beloftes gemaak om hervormings te aan te bring wat reeds voor die pandemie nodig was. Hevormings wat al hoe dringender word na gelang die ekonomiese impak van die langdurige inperking al hoe erger word en toenemend Suid-Afrikaners in uiterste armoede en swaarkry dompel.

Alhoewel dit veronderstel is om ekonomiese groei te stimuleer en werkgeleenthede te skep, is die probleem met die president se plan dat dit geen noemenswaardige oplossings bevat wanneer dit kom by die beloftes om die nodige hervormings aan te bring nie. Die werklike ekonomiese krisis waarin Suid-Afrika homself tans bevind word dus glad nie aangespreek nie.

Daar word niks noemenswaardig gesê oor die tipe hervormings wat nodig is vir dringende groei in die in die voorgestelde plan nie. Daar is geen daadwerklike planne om ons mislukte staatsondernemings te hervorm of te privatiseer nie, om ons onbuigsame arbeidsmark te verander of om fiskale omsigtigheid te bewerkstellig nie.

En reeds voor die bekendstelling van die verwoestende inperking, was die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds in 'n afwaartse spiraal. Groeivoorspellings - wat die afgelope dekade gereeld gemis is - sou na verwagting 'n skamele 1% gewees het. Die begrotingstekort het op R371 miljard gestaan en die totale staatskuld sou na verwagting teen die 2022/23-boekjaar R4,15 biljoen beloop het, oftewel 67,8% van die BBP - 'n nuwe rekord hoë skuld-tot-BBP-verhouding, met geen uitkoms in sig nie.

Die gevolg van die harde inperking is dat die ekonomie na verwagting in 2020 met 7,2% sal inkrimp, terwyl daar reeds 'n inkrimping van 'n 50% op ‘n kwartaal-tot-kwartaal grondslag aangeteken is. In hierdie omstandighede sal die regering se krimpende bron van belasting ook al hoe moeilike kan tred hou met die al hoe groter wordende staatsuitgawes. Na beraming gaan die begrotingstekort toeneem tot 'n yslike 37,2% van Suid-Afrika se BBP en gaan dit R236 miljard kos net om al die staatskuld te diens.

Die benarde toestand waarin Suid-Afrika se openbare finansies is bied die land min keuses en verg ‘n fokus op die langtermyn en noodsaaklike hervormings.

Openbare indiensneming, waarvan die president ‘n ooreenkoms aangegaan het om met 800 000 te verhoog (terwyl die Minister van Finansies, Tito Mboweni beoog om die loonrekening van die openbare sektor te verlaag) sal nie die somber ekonomiese prentjie help sonder om indiensneming in die private sektor noemenswaardig te verhoog nie, wat belastinginkomste vir die staat deur 'n groter ekonomiese basis sal genereer.

Die bestaande uitgebreide program vir openbare werke, wat al meer as 'n dekade bestaan, het geen werklike impak gehad op die lang-termyn strukturele werkloosheid nie en het ook nie die nodige ekonomiese infrastruktuur vir groei opgelewer nie.

Herstel kan nie gebaseer wees op die voortsetting van die inperking, hoër belasting op 'n kleiner inkomstebasis, verhoogde regeringsuitgawes, voortgesette regeringsmonopolieë en buitensporige ingryping nie. Die 'herstelplan' is gebrekkig deurdat dit weereens voorsien dat 'n swaarhandige staat die rol van die private sektor kan oorneem - dit kan nie. Inteendeelsal hierdie ‘plan’ eerder verder bydra tot die stagnasie en massa-werkloosheid wat ons reeds ervaar.

In plaas daarvan, moet herstel bewerkstellig word deur die doeltreffendheid van die openbare sektor te verhoog. Dit sal behels dat onnodige staatsuitgawes me weggedoen moet word, die stabilisering van staatskuld op mediumtermyn, die hervorming en privatisering van onwinsgewende en onproduktiewe staatsondernemings, en die vermindering van onnodige regulasies en beleidsonsekerheid wat beleggings, werkskepping en groei afskrik. Die proses om nasionale skuld te stabiliseer, moet gelei word deur 'n duidelike plan wat 'n duidelike padkaart uiteensit van hoe dit bereik sal word.

Die nasionale tesourie en die minister van finansies het by verskeie geleenthede alarm gemaak oor hoe Suid-Afrika se openbare finansies "te veel gevaarlik gestrek word". Hulle het egter nie daarin geslaag om tussenbeide te tree om hierdie fiskale uitdaging die hoof te bied nie.

Ondanks ooreenkomste tot die teendeel, moet beleidsonsekerheid - gekenmerk deur die bedreiging van eiendomsreg in die grondwet - dringend opgelos word (en beslissend ten gunste van groei). Dit moet saamgestel word met 'n massiewe vermindering in onnodige regulasies en meer buigsaamheid, veral in die arbeidsmark.

Om die nodige hervormings te laat plaasvind, moet die president inspirasie put vanaf sy voorgangers uit die 1990's en 2000's, wat hul teenstanders binne en buite die party geïgnoreer het en liewers groei nagestreef het, selfs waar die besluite die ANC en sy bondgenote ideologiese ongemaklikheid veroorsaak het. Die gebrek aan vaste verbintenisse tot hervorming beteken dat die era van donkerte en agteruitgang sal voortduur sonder dat daar 'n einde in sig is.

Carl Sebastian Steenekamp is 19 jaar oud en hy is tans ‘n intern by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/jongstemme-n-ekonomiese-herstelplan-of-wenslys/

© 2020 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Terms & Conditions | Privacy Policy | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors