ʼn ‘Radikale’ staatsrede – maar gaan strukturele hervorming volg? - Maroela Media

11 February 2022 - “Ons almal weet die regering skep nie werk nie – besighede skep werk.” Die woorde, wat president Cyril Ramaphosa sommer vroeg reeds in sy staatsrede geuiter het, is waarskynlik die mees radikale erkenning van die Suid-Afrikaanse regering in die laaste 20 jaar.

Chris Hattingh

“Ons almal weet die regering skep nie werk nie – besighede skep werk.” Die woorde, wat president Cyril Ramaphosa sommer vroeg reeds in sy staatsrede geuiter het, is waarskynlik die mees radikale erkenning van die Suid-Afrikaanse regering in die laaste 20 jaar.

Die woorde is ʼn erkenning van hoeveel die regering se ideologie en beleide van die laaste 10 jaar grootliks misluk, en baie skade aan die ekonomie veroorsaak het. Maar die kanse dat radikale, pro-groei hervorming die woorde gaan volg, bly baie skraal.

Enigiemand wat hulself toelaat om deur fantastiese woorde weggevoer te word, gaan heel waarskynlik teleurgesteld wees. Om te wens sake is positief terwyl die realiteit nie saamstem nie, is ʼn baie gevaarlike posisie om in te wees.

Onteiening sonder vergoeding, die nasionale gesondheidsversekering (NGV) en die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming is nog alles baie sterk toekomstige moontlikhede – laasgenoemde veral. Die wysigingswetsontwerp sal, indien dit wet word, vir die minister van arbeid die mag gee om streeks-, sektorale en subsektorale raskwotas – beskryf as “numeriese teikens” – vas te stel. Die minister sal die diskresie hê om te besluit presies hoe die kwotas lyk. Daar sal ook boetes wees vir besighede wat nie die minister se voorskrifte volg nie. Met sulke wetshervorming op die tafel gaan Suid-Afrika se 46% werkloosheidsyfer net nog meer in die toekoms styg. Dit blyk dat die regering steeds dink dat sentralisering van mag in die staat, sowel as rasgebaseerde wette, die antwoord is vir ons ekonomiese en maatskaplike probleme – en só ʼn siening kan nie verder van die waarheid verwyderd wees nie.

President Ramaphosa het aangedui die spesiale Covid-19-noodtoelae van R350 word tot einde Maart 2023 verleng. Meer as 18 miljoen burgers ontvang tans ʼn vorm van staatsondersteuning; definitief nie ʼn “prestasie” in die normale sin van die woord nie. Wanneer die regering dit moeiliker maak vir besighede om te funksioneer en te groei en vir mense om welvaart vir hulself te skep, gaan al hoe meer mense gedwing word om op die regering staat te maak. In plaas daarvan om op klein bedrae te fokus wat die staat vir werkloses kan gee, moet daar liewer ʼn poging wees en tyd daaraan spandeer word om die regulasies wat klein- tot mediumgrootte besighede onderdruk, te verwyder.

Een van die beste voorbeelde van ideale en realiteit wat nie ooreenstem nie, was die president se aanduiding dat die regering bankvas agter sy meesterplanne om lokalisering te bewerkstellig staan. Die oënskynlike doel van die planne is om die land se nywerheidsbasis weer op te bou, maar uiteindelik gaan lokalisering net subsidies beteken vir sekere besighede en produkte, met hoër tariewe op ingevoerde goedere; arm en middelklas verbruikers gaan die meeste onder so ʼn ekonomiese plan ly. Dat Suid-Afrika ʼn meer proteksionistiese pad gaan volg, is ook baie slegte nuus vir die Afrika-vryhandelsooreenkoms (AfCFTA), wat mik om soveel handelshindernisse as moontlik te verwyder.

Die regering se lokaliseringsplanne gaan ook nie die vele strukturele probleme by ons hawens en spoorweë oplos nie – Transnet moet liewer die hawens aan privaat beleggers en bestuurders oorgee. Solank as wat die hawens so swak vaar en ondoeltreffend is, gaan veral boere en besighede in die landbousektor sukkel om hul produkte in die buiteland te kry.

Die geweld in Julie 2021 in Gauteng en KwaZulu-Natal het ongeveer 300 burgers se lewens geëis – duisende besighede en inkomstebronne is geraak. Die president het in sy staatsrede gesê die kabinet moet “‘gesamentlike verantwoordelikheid’” neem vir wat gebeur het – prakties beteken dit geen individue gaan verantwoordelik gehou word vir die regering se wanhantering van die situasie nie. Suid-Afrikaners wat bekommerd is oor hul veiligheid moet sélf stappe neem om te verseker dat hul gemeenskappe enige toekomstige opvlammings sal kan weerstaan.

Na al Ramaphosa se gevleuelde woorde oor die belangrikheid van die privaat sektor is die staat en die regerende party uiteindelik steeds sonder die nodige kapasiteit en vaardighede. Lede van die regerende party wat bewerings van korrupsie en bedrog in die gesig staar, is steeds diep betrokke, en wanneer iemand nie presteer nie, word hul eenvoudig net na ʼn ander pos geskuif – met dieselfde salaris. Dit bly hoogs onwaarskynlik dat die party van binne gaan hervorm, want soveel mense geniet die voordele van die staat se inmenging in die ekonomie.

Suid-Afrikaners moenie te gou opgewonde raak nie – daar is nog ʼn baie lang pad wat gestap moet word voor die land weer betekenisvolle groei ervaar (ongeveer 5 tot 8% elke jaar, vir ten minste die volgende vyf jaar). Die regering het oor die jare talle beloftes en planne aangekondig, met baie min uiteindelike uitslae. Individue, gemeenskappe en burgerlike organisasies moet aanhou met hul planne van staatsbestendigheid. Ongeag wat die politici en burokrate in die parlement beplan en belowe, moet ons seker maak dat ons vooruitgang nie van hulle afhang nie.

Chris Hattingh is adjunkhoof van veldtogte by die Instituut vir Rasseverhoudinge.

 

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/n-radikale-staatsrede-maar-gaan-strukturele-hervorming-volg/

© 2020 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Terms & Conditions | Privacy Policy | PAIA Manual | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors

m