Terence Corrigan.
“Die nasionale dialoog,” het pres. Cyril Ramaphosa in Junie aangekondig, “is ’n geleentheid vir alle Suid-Afrikaners van alle vlakke van die samelewing om saam te help om die volgende hoofstuk van ons demokrasie te vorm.”
Dit sou “inklusiéf”, “gelei deur die mense” en “samelewing-wyd” wees – ’n geleentheid om te “besin” en “ons toekoms te herbedink”.
Inderdaad, die nasionale dialoog is voorgehou as iets wat die Suid-Afrikaanse samelewing beliggaam: “In baie opsigte is dialoog deel van ons DNS as ’n nasie. Op elke belangrike oomblik in die geskiedenis van ons land het ons as ’n nasie saamgekom om ons uitdagings die hoof te bied en ’n pad vorentoe te baan deur met mekaar in gesprek te tree.”
Dit was alles hoogdrawende praatjies.
Baie kommentators het die plan as geldmors veroordeel (R700 miljoen in sy vroeë formulering), as oorbodig (omdat ons almal reeds weet wat die probleme is) en as bloot ’n geleentheid vir die binnekring om hulself aan staatsgeld te vergryp.
Ek dink dis erger as dit.
Dié hele projek is gegrond op ’n vals uitgangspunt. Suid-Afrika se veronderstelde spesiale vermoë tot dialoog, onderhandeling en kompromie is deel van die stigtingsmite van sy demokratiese oorgang. ’n Gerusstellende verhaal, maar nietemin ’n mite.
Voor die 1990’s was Suid-Afrika se dinamika grotendeels die weiering om te praat – of op sy beste, die gesprek so te definieer dat net baie beperkte opsies op die tafel was.
Dit het ’n onoplosbare krisis en pynlike dooiepunt geverg om werklike dialoog af te dwing – en selfs tóé was dit nie ten volle inklusief nie: Die IVP het groot dele van die onderhandelingsproses geboikot (totdat die Keniaanse bemiddelaar Washington Okumu ingegryp het en daar beloftes was van internasionale bemiddeling oor kernbelange), asook die proses om die Grondwet op te stel.
Suid-Afrika se oorgang was inderdaad ’n merkwaardige prestasie. Juis omdat dit vir ’n rukkie die diepgewortelde polarisasie oorkom het wat ons politiek gekenmerk het.
Dit was ’n oomblik van volwassenheid toe ons kollektief van die afgrond teruggestaan het.
Maar moenie dié historiese oomblik verwar met ons “nasionale DNS” nie.
Volgens die ANC se weergawe was die onderhandelingsproses ’n “terrein van stryd” tussen vyande – nie ’n kompromie of skikking tussen medeburgers nie. Selde, indien ooit, word die oorgang erken as die soort nasionale probleemoplossingspoging wat die president nou voorhou. Inteendeel. (Terloops, geen bemiddeling met die IVP is ooit oorweeg nie en oudpres. Nelson Mandela het later kortaf geweier om met Okumu te vergader.)
Ná die oorgang is daar min wat daarop dui dat Suid-Afrika se politieke kultuur die deugde van dialoog en kompromie aangeneem het. Die politiek bly gepolariseerd en wantrouig. Die ANC beskou homself as die natuurlike leier van die samelewing – die beliggaming van “die volk” – en behandel teenstanders met ’n mengsel van neerbuigendheid, minagting en afsku.
Selfs die “regering van nasionale eenheid” is skaars die naam werd; dis ’n klomp opponente wat mekaar teenstaan eerder as ’n werklike koalisie. Die president het groot moeite gedoen om sy veronderstelde vennote te verneder.
Daarby het Suid-Afrika al meer as genoeg “dialoë” gehad – oor werkgeleenthede, beleggings, rassisme (onder die slagspreuk “ ’n nasie in dialoog”), onderwys, plaaslike regering, koalisiepolitiek, en so meer. Ons het die Afrika-Unie se omvattende portuurgroep-beoordeling ondergaan en insette ingewin vir die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). Ons het hope dokumente, verslae en strategieë en ’n ensiklopedie vol aanbevelings. Tog hou Suid-Afrika se agteruitgang ononderbroke aan – in die laaste paar het dit selfs versnel.
Dit moet vir Ramaphosa baie frustrerend wees. Sy toetrede in 2018 is begroet as ’n keerpunt, ’n “nuwe daeraad”. Hy was volgens die narratief die beste van ons politieke klas – iemand wat die land kon saambind en die belofte van demokrasie herstel.
Maar ekonomiese groei het treurig gebly en werkloosheid het toegeneem, tesame met katastrofies lae beleggingsvlakke. Staatsinstellings kan dikwels nie basiese funksies verrig nie, korrupsie is endemies en nou is Suid-Afrika se betrekkinge met Amerika op sy laagste punt – met strafmaatreëls en tariewe wat dreig om ons in ’n resessie te dompel.
Ramaphosa se ampstermyn was helaas nie suksesvol nie. Uiteindelik het hy opgetree as ’n party-president eerder as ’n nasionale een. Aangesien hy blykbaar nie veel verder as die ideologiese grense en politieke eise van die ANC kan sien nie, is daar geen teken dat ’n ommekeer op hande is nie.
Selfs nadat die ANC verlede jaar by die stembus gestraf is, is daar geen aanduidings van nuwe denke nie – en ek vermoed dat nóg Ramaphosa nóg sy vertrouelinge enige werklike vooruitsigte op verbetering sien. Die haglike werklikheid waaroor hulle tans regeer, is bloot die eindpunt van ’n bestuurswyse wat hulle weier om te verander.
Dít is nie hoe hy onthou wil word nie.
As die ANC se hoofonderhandelaar ten tyde van die oorgang en die voorsitter van die Grondwetlike Vergadering, is Ramaphosa ten nouste verbonde aan die land se dialoogmite.
En dit, gekombineer met sy persoonlikheid as ’n sorgsame vaderfiguur, is waarom hy steeds aansienlik persoonlike gewildheid geniet – selfs buite sy party.
As hy nie die ideologiese of politieke vaardighede het om die dinamika te verander nie, kan hy dalk ten minste ’n tydelike verskuiwing in die narratief en die nasionale gemoedstoestand bewerkstellig. Dink byvoorbeeld aan die publikasie van die NOP of die euforie van die nuwe daeraad.
Die nasionale dialoog sal ’n verhoog wees waarop die brandende vrae aan “die volk” oorgedra word – ’n ontvlugting van verantwoordelikheid (kenmerkend van groot dele van die president se ampstermyn) – maar een waarin die illusie van eienaarskap en ’n “herstelknoppie” geskep kan word. As alles nou weer bespreek kan word, kan ons dalk in ons koppe ’n streep trek deur die wanbestuur en oneerlikheid van die verlede en vorentoe kyk.
Politici kan dan rustig daaraan tyd bestee om “die volk” se eise in besprekingsdokumente te omskep (nog konsultasie) en dan in beleidsdokumente (nóg meer). Wetgewing kan dalk iewers in die toekoms volg. Groot, gewigtige vrae sal uitgestrekte tydlyne vereis. Dit kan die verhaal van die volgende paar jaar word – dalk tot in 2029.
Ramaphosa kan dan hoop om harde oordele te vermy, terwyl hy die aandag probeer verskuif na die wonderlike toekoms wat “die volk” glo geskep het – ’n “herverbeelding” in ruil vir harde werklikhede; konsultasie in ruil vir daadwerklike optrede.
Dít, vermoed ek, is die kern van die nasionale dialoog: Om die huidige regering te verlos van die verantwoordelikheid vir Suid-Afrika se ellende en om ’n gerusstellende visie van die toekoms te kweek.
Vir die president persoonlik sal dit ’n soort nalatenskap wees: Om die amp te verlaat sonder veel tasbare prestasies, maar met die hoop om onthou te word as die goedhartige figuur wat die land ’n pad vorentoe nagelaat het.
Dis ’n illusie gegrond op ’n mite. Ons moenie daarvoor val nie.
Terence Corrigan is die projek- en publikasiebestuurder van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge.