Land se politieke ‘onse’ en ‘hulles’' - Rapport

Mar 24, 2024
Een van die basisaannames van ons politiek is dat mense stamgebonde tropkiesers is. Ons kiesers, volgens hierdie denkskool, is netjies verdeel in ń klomp ‘onse’ en ń klomp ‘hulles’ met diffensieërbare karaktertrekke en gedragspatrone. Met ń verkiesing om die draai, is dit te verwagte dat die kwessie van Suid-Afrika se kieserstamme weer na vore sal tree.
Land se politieke ‘onse’ en ‘hulles’' - Rapport

Hermann Pretorius 

Een van die basisaannames van ons politiek is dat mense stamgebonde tropkiesers is. Ons kiesers, volgens hierdie denkskool, is netjies verdeel in ń klomp ‘onse’ en ń klomp ‘hulles’ met diffensieërbare karaktertrekke en gedragspatrone. Met ń verkiesing om die draai, is dit te verwagte dat die kwessie van Suid-Afrika se kieserstamme weer na vore sal tree.

Dit is egter belangrik om hierdie kwessie omsigtig te benader.

‘n Ondersoek na ons land se kieserstamme moet natuurlik histories iewers begin. Maar waar? Die Mfekane? Dingaanskraal? Sandrivier? Die Basotho-oorloë? Die Jameson-inval? Die Vrede van Vereniging? Uniewording? Die Maritz-rebellie? 1948? Republiekwording? Die 1992-referendum? Boipatong? 1994?

Of is alles tog maar wel Jan se skuld sedert 1652?

Geen lys kan werklik saamvat hoeveel momente daar in Suid-Afrikaanse geskiedenis was wat elk op ‘n unieke manier die stamgrense en -spannings in ons land gedefinieër of geherdefinieër het nie. Dit is in werklikheid ‘n onbegonne taak om na die onderonsies en onderhullesies van ons verlede te kyk en te besluit wie is wie en wie is nie.

En tog is dit ewe onmoontlik om te maak of Suid-Afrika se stamme eenvoudig nie bestaan nie. Hoe maak ons dan nou om die werklikheid van stamgevolge in vandag se politiek te verstaan?

Eerstens moet erken word dat Suid-Afrika op minstens drie vlakke ‘stamme’ het – groepe met gedeelde belange en gemeenskaplike optrede onder spesifieke politieke omstandighede. Ons land se stamvlakke manifesteer dus in rasse-identiteit, etno-kulturele groepering en sosio-ekonomiese stand.

Deur hierdie vlakke te sien as Suid-Afrika se tipes stamme, met wisselende belangrikheid deur die jare, kan ons ‘n beter begrip vorm van hoe stamstemme en tropposisie-partye veral sedert 1994 elektorale gevolge gehad het.

As ons Suid-Afrika se rassegroepe volgens historiese gebruik en grote beskou, is daar hoofsaaklik vier in ons land: swart, bruin, wit en Indies.

As ons dan die mees invloedryke partye probeer groepeer volgens die tipiese rasse-aannames, is die ANC, EFF en IVP ‘swart-partye’, GOOD en die PA ‘bruin-partye’ en die DA en VF+ ‘wit-partye’. Suid-Afrika se Indiese-bevolking, volgens hierdie kortpad-indeling, blyk sonder hul eie partye te wees.

Reeds uit hierdie oorvereenvoudigde indeling behoort die tekortkominge van ‘n suiwer ras-gebaseerde aanslag tot so-genaamde stampolitiek duidelik te wees. Waar pas die ACDP in? Wat van die bruinkieser wat DA of VF+ stem? Hoegemaak met die Indiese kieser wat vir die DA of IVP stem? En waar pas ActionSA, wat juis munt uit swartleierskap wil slaan, dan in?

Data gepubliseer in 2022 deur die Social Research Foundation (SRF) wys dat nie al ons politieke partye netjiese rasindelings volg nie.

99% van die ANC en 93% van die EFF se ondersteuners is swart. 84% van VF+-steun is wit. Maar die prentjie raak meer kompleks met die DA se steun wat 32% uit swart-steun bestaan – statisties kop-aan-kop met die 31% van hul steun wat bruin is en 30% wat wit is. ActionSA se steun verdeel as 32% swart, 4% bruin, 58% wit en 5% Indies, soortgelyk aan die 7% van die DA se Indiese steun.

Om politieke gedrag dus bloot volgens ras te beskou, skiet te kort.

Tweedens kyk ons na die rol van etno-kulturele stamlojaliteit. Hier is daar vier politieke partye wat in 2024 noemenswaardig etno-kulturele assosiasie as bestanddeel van hul identiteit het: die IVP en MK as Zoeloe-partye, die VF+ as ‘n Afrikaner-party en die PA as ‘n party vir bruinbelange.

Tog sien ons in kiesuitslae slegs ‘n mate van etno-kulturele effek.

In die 1990s was die IVP dominant in KZN en gebiede in Gauteng en Mpumalanga waar daar ‘n sterk Zoeoloe-bevolking is. Maar teen 2009 vervang die ANC die IVP as die heersende party in KZN. Analise en berriggewing uit die vroeg 2000s voorspel eenparig die onvermydelike dood van die IVP. Data oor daardie periode dui ook op ń IVP-sterftestottering: in gebiede soos uMzinyathi, uMkhanyakude en Zoeloeland, waar die IVP in 2000 na aan 60% van stemme gewen het, val hul steun onder 30% in 2011. Teen 2016 sien mens die eerste tekens van ‘n IVP-herlewing: die party groei in KZN van 16.3% in 2016 na 26.4% in 2021. Dit is egter belangrik om hier raak te sien dat hierdie tergukeer van Zoeloe-kiesers van die ANC na die IVP nie gebeur het na aanleiding van ‘n herlewing van Zoeloe-nasionalisme in die IVP nie.

Eerder, wat hier sigbaar is is die ANC se verlies aan politieke kapitaal. Tussen 1996 en 2007, het die ANC veral onder armer swartkiesers steun verdien deur suksesvolle diensleweringsinisiatiewe. Maar, teen 2016, gepaardgaande met Zuma se dalende aansien, was ANC-suksesse te ver in die verlede.

Die IVP se herlewing word dus moontlik nie as gevolg van hoofsaaklik etno-kukturele faktore nie, maar eerder sosio-ekonomiese oorwegings verbonde aan regeringsvernuf.

Soortgelyk sien mens in die VF+ se suksesvolle 2019-uitslag hoe die sosio-ekonomiese trekkrag van die DA, wat tussen 1999 en 2014 grootliks verantwoordelik was vir die Afrikaner-middelklas se skuif na die DP/DA, deur ‘n onnodige etno-kulturele antagonisme verswak is. VF+-leiers erken in privaat dat hulle nie soseer stemme vanaf die DA gewen het nie, maar dat die DA se eksperimentering met rasse-politiek stemme vir Maimane se party in 2019 verloor het. Wéér sien ons hoe etno-kulturele oorwegings intree, maar as sekondêre eerder as primêre stamfaktor. Dit was slegs toe die DA self met etno-kulturele identiteit-politiek begin mors het en amok in hul sosio-ekonomiese stam gesaai het wat die VF+ se eie etno-kulturele stam-aanbod meer suksesvol was.

Net soos met rasse-identiteit, is hierdie stamlojaliteit nie genoeg om politieke ‘onse’ en ‘hulles’ se gedrag te verduidelik nie. En tog kan die etno-kulturele invloede op kiesers se stamkeuses nie geïgnoreer word nie. Veral nie met die MK-party wat sedert Desember 2023 steun aggressief afrokkel by die ANC, EFF en IVP nie.

IRR-navorsing wys al meer as ‘n dekade-lank hoe sosio-ekonmiese drukfaktore die onderliggende prutpunte is van opvlammings in etno-kulturele spanning. Wanneer ekonomiese desperaatheid byt, soos wat dit tans in Suid-Afrika doen, borrel etno-kulturele spanning op. Wanneer ‘ons’ swaarkry en ‘ons’ kinders nie eet nie, is die sosiologiese druk enorm om steun te gee aan partye wat na ‘ons’ sal omsien.

Uit hierdie hoek beskou, met Zuma se uitmuntende veldtog-vermoë ook in rekening, maak die skielike ontploffing van MK se steun sin. Die Australiese verkiesingstrateeg Lynton Crosby sê altyd: jy oortuig deur rede, maar jy motiveer met emosie. Zuma is besig om hierdie beginsel direk toe te pas. Die huidige sosio-ekonomiese druk oortuig voormalige ANC-, EFF- en IVP-kiesers dat politieke verandering nodig is, maar Zuma se taktiese gebruik van die emotiewe krag van etno-kulturele invloede is besig om as merkwaardige motiveringsdrywer vir sy party elektorale oes op te lyn.

Die laaste vlak dus waarop Suid-Afrika se ‘stam’-groeperings verstaan moet word is juis die kwessie van sosio-ekonomiese gesindhede en aspirasies.

Peilingsdata dui aan hoe middle-klas Suid-Afrikaners van alle agtergronde gemeenskaplike prioriteite en oortuigings het. Dieselfde vind ons onder mense laer op die sosio-ekonomiese skaal.

‘n Treffende voorbeeld hiervan is die kwessie van ras in politieke leierskap.

In Februarie 2023 publiseer die SRF peilingsdata oor die vraag of politieke partye swartleiers nodige het om suksesvol te wees. Persone van alle rasse wat minder as R8 000 per maand verdien trek saam ter ondersteuning van die idee. Onder dié wat egter meer as R12 000 per maand verdien, vind mens oorweldiggende opposisie. Verder wys IRR-data uit ons jaarlikse peilingsopnames al nagenoeg 15 jaar-lank dat sosio-ekonomiese kwessies soos werkskepping, misdaad, onderwys en gesondheidsorg aansienlik meer belangrik is as meer tipiese ‘stam’-kwessies soos rassisme en ongelykheid.

Die vraag wat dus op die ou einde voortspruit uit enige oorweging van ons land se kieserstamme is watter ‘stam’ moontlik groot genoeg kan wees om politieke- en beleidsverandering te bring – verandering wat dringend nodig is.

Die data, feite en geskiedenis bevestig wat die apartheid-regering op die harde manier moes leer: die sterkste ‘stam’ in Suid-Afrika is die algemene mense wat die hoop van ‘n vreedsame en suksesvolle Suid-Afrika deel - ń samehorige sosio-ekonomiese stam.

Sou Suid-Afrikaners weereens ‘n paradigma-skuif in ons politiek wil sien, is dit slegs ‘n herlweing van hierdie stam-identiteit wat genoegsaam kan wees om die ekonmiese groei te ontketen wat al die ander tipe stamme, en die indiwiduë waaruit hulle bestaan, kan toelaat om in vryheid te werk vir die waardigheid wat slegs ekonomiese groei en geleenthede kan laat realiseer.

Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie by die IRR 

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi