Hier staan ek, ek kan nie anders nie, so help my God. Amen. - Maroela Media

Dec 10, 2020
10 December 2020 - Die IRR is ’n klassiek liberale instelling. Die betekenis daarvan word nie altyd baie goed verstaan nie – veral in Afrikaner-kringe – dus is dit ’n goeie tyd vir ’n uiteensetting hiervan.

Frans Cronje

“Dit is nie omdat mense wette voorgeskryf het dat die lewe, vryheid en eiendom bestaan nie.  Inteendeel, dit is omdat lewe, vryheid en eiendom reeds bestaan dat mense wette instel.  Elkeen van ons ontvang ongetwyfeld van die natuur en God die reg om ons persoon, ons vryheid en ons eiendom te verdedig.”

- Frédéric Bastiat

Die IRR is ’n klassiek liberale instelling.  Die betekenis daarvan word nie altyd baie goed verstaan nie – veral in Afrikaner-kringe – dus is dit ’n goeie tyd vir ’n uiteensetting hiervan.

Om klassiek liberaal te wees beteken nie linksgesind – soos die term ‘liberaal’ in die Verenigde State gebruik word – nie, maar eerder presies die teenoorgestelde.  Alle klassieke liberaliste heg waarde aan die volgende beginsels.

Die belangrikste is dat die samelewing jou as ’n individu behoort te beoordeel op grond van jou eie oortuigings en persoonlike vermoë tot deugsaamheid of sondigheid.  Dit is verkeerd om mense op grond van hul ras, etnisiteit of herkoms te beoordeel, wat die rede is waarom die IRR alle swart ekonomiese bemagtiging en rasgebaseerde regstellende aksie-beleide teenstaan.

Die tweede is dat eiendomsreg die bousteen van elke vrye en ope samelewing vorm en dat die staat nooit die mag moet hê om jou eiendom af te neem nie.  Die feit dat middelklasmense hul huise, plase, sakeondernemings en besparings besit is nie die rede waarom baie Suid-Afrikaners arm bly nie.  Die IRR veg vir die uitbreiding van hierdie regte sodat, namate die ekonomie groei en werkgeleenthede geskep word, arm mense ook die waardigheid kan hê om te kan sê:  ‘Dit is myne; ek het daarvoor gewerk.’

Die derde is dat die regering nie die reg het om by jou besigheids- of persoonlike aangeleenthede in te meng nie.  Dit is jou eie keuse hoe jy wil leef – so lank jou optrede nie enigiemand anders benadeel nie.  Gevolglik bearbei klassieke liberaliste hulle vir ’n klein en effektiewe staat waarin die privaat sektor en vrye markte die gang van die ekonomie bepaal.

Die vierde is dat ’n mens kan sê wat jy wil, met die enigste beperking dat jou uitsprake nie regstreeks lei tot die fisieke benadeling van ’n ander persoon nie.  Indien jy nie hou van wat jy hoor nie, kan jy by die debat betrokke raak en ’n beter argument opper.

Die vier waardes wat hierbo beskryf word is gegrondves in die Joods-Christelike etiek en tradisie.  Ons veg reeds sedert lank voor die meeste Suid-Afrikaners se geboorte teen rasse-onderdrukking van een groep deur ’n ander, die ontsegging van eiendomsregte en staatsosialisme in hierdie land.

Die IRR is ook baie goed met wat hy doen.

Die IRR het die Demokratiese Alliansie van SEB en rasgebaseerde kwotas weggekeer en ons doen dieselfde met die regering en besigheid en by buitelandse beleggers.  En ek dink dit is ’n geveg wat ons sal wen.

Met eiendomsreg hanteer ons die grootste onafhanklike drukgroep in die land, met ’n werklik globale reikwydte.  Ons het oor die afgelope drie jaar in die openbaar byna elke argument – buitelands of binnelands – ten gunste van onteiening in Suid-Afrika deur middel van meer as 5 000 media- en beleidsintervensies bestry.  Ons het, byna eiehandig, elke stuk wetgewing om onteiening sonder vergoeding in te stel sedert die eerste nuwe Onteieningswetsontwerp in 2008 ontwerp is afgeweer.  Ons doen dit vandag nog steeds en ek dink dit is ’n verdere geveg wat ons sal wen as ons op ons huidige koers bly.

Net in die afgelope week het ’n IRR-drukgroep veranderinge aan Suid-Afrika se verkiesingswette geblokkeer wat staatskapingsfaksies sou kon toelaat om deur middel van elektroniese stemmery in ’n toekomstige verkiesing te knoei – en baie mense wat hierdie teks lees, weet dit miskien nie eens nie omdat ons verkies om noukeurig en stilweg te werk.

Ook verlede week het pensioenbedryfsyfers uiteindelik sterk aan die lig gekom teen die gebruik van pensioenfondse om die begrotingstekort te finansier.

Hoe finansier ons dit alles? Wie is ons groot donateurs?

Wel, ek is bevrees daar is nie veel van hulle nie.  Die grootste enkele bron van inkomste is skarefinansiering – gewone mense, van wie daar nou verskeie duisende is, wat bedrae van gemiddeld R100 per maand bydra.  Ons groot donateurs het ons oorwegend verlaat weens die posisies wat ons inneem teenoor SEB, OSV (onteiening sonder vergoeding) en die links geïnspireerde kultuuroorloë wat in die Westerse wêreld uitspeel. 

Maar ons laat nie toe dat die finansiële prys wat ons vir die inneem van hierdie standpunte betaal te swaar op ons druk nie.  Ons is onder sulke voortdurende druk om op ons beginsels toe te gee dat indien ons dit eenmaal sou doen ter wille van geld, ons dit dalk herhaaldelik sou doen totdat daar min sou oorbly van die klassiek liberale bouwerk wat ons met ons bestaan verdedig. 

Oor die afgelope week het AfriForum en die breër Solidariteitsbeweging ’n veldtog teen die IRR geloods.  Die feite daaraan verbonde is onomwonde.  Die IRR hanteer ’n aanlyn-nuusblad, die Daily Friend  om ’n ope, vryheidsgeoriënteerde platform te verskaf vir die vrye uitruiling van idees, in die lig van die ontstellende sensuur en linksgesinde vooroordeel wat ’n groot deel van die hoofstroom-media geïnfiltreer het in Suid-Afrika sowel as in die Westerse wêreld.

Een van die rubriekskrywers in diens van die Daily Friend, Ivo Vegter, het ’n artikel geskryf wat geloof kritiseer.  Ivo is ’n buitengewone rubriekskrywer wat oor die onverskrokkenheid van alle groot rubriekskrywers beskik.  Toe ek die betrokke artikel aanlyn gelees het, het ek nie gedink dat dit sy beste argument was nie.  Ek was ook bekommerd dat dit aan vele godsdienstige mense aanstoot sou gee en dat dit aan die IRR ’n teengodsdienstige kleurtjie kon gee.  Ek wou dit nie hê nie en dit sou nie met ons geskiedenis strook nie.  Ek het dus my meer godsdienstige personeel aangemoedig om van Ivo te verskil, sy argumente aan te val en ten gunste van godsdiens te betoog.  Die Daily Friend het sover vyf van hierdie stukke gepubliseer.

AfriForum wil nou hê dat ek Ivo afdank en vir sy artikel om verskoning moet vra.  My professionele kommunikasie- en bemarkingsadviseurs – wat uitstekende werk doen – het voorgestel dat ek iets soortgelyks doen, en dit was gesonde advies vanuit ’n finansiële en reklameperspektief.  Volgens hulle raming gaan ons waarskynlik baie geld en ondersteuning verloor.  Ek het egter vir hulle gesê dat ek, met respek, nie hulle raadgewing gaan volg nie, en daarin het ek die beginselsteun van my IRR-kollegas.  In plaas daarvan het ek aan ons finansiële direkteur opdrag gegee om toepaslike voorsiening te maak vir doelmatige gebeurlikhede – en so ver te gaan as om ’n lys van personeel en projekte op te stel wat ons sal moet beëindig indien Afriforum se veldtog slaag.

U sien, dit is hoe ons is:  ons laat nie onder finansiële druk ’n kollega in die steek omdat hy ’n argument geopper het nie.  Dit is nie ons werkwyse nie.  Daar is vandag te veel van dié soort ding in die wêreld gaande – te veel vrees om van die platform afgestamp, gekanselleer, ontfonds of geboikot te word weens iets wat jy gesê het.  Dit laat die hele wêreld op eiers loop.

Aan ons ondersteuners sê ek dat ek wel diegene onder u hoor wat te na gekom is en ek is jammer daaroor.  Wees verseker dat ek die diepste agting vir u almal het en besef hoe belangrik diepgewortelde geloofsoortuigings is.  Wat ek vra is dat u lees wat Ivo geskryf het en wat die vele IRR-personeel in reaksie hierop geskryf het, en daaruit tot ’n gevolgtrekking kom oor waar die liberale tradisie ten opsigte van Christenskap staan.  Dit is nie ’n onredelike verwagting nie. 

Indien u ons dan wil laat staan, sal ek baie spyt wees daaroor en ek sal myself sterk kwalik neem en dink wat ek sou kon doen om dit te voorkom.  Maar ek is bevrees dat indien u besluit om te gaan, dit maar sal moet gebeur, want ek sal Ivo en sy reg om ’n argument te opper ondersteun met dieselfde verbintenis as waarmee ons u almal ondersteun wanneer ’n rassistiese regering en linksgesinde politici u, u gesinne en alles wat vir u dierbaar is bedreig en aanval.

AfriForum sal vir u sê dat ek Ivo sou kon afdank omdat ek ’n paar maande gelede die Daily Friend-rubriekskrywer David Bullard afgedank het.  Ek het David afgedank omdat hy oor die K-woord ’n grap gemaak het.  David het nie ’n argument oor rassisme geopper nie, hy het nie ’n ander beskouing oor kolonialisme of selfs apartheid uitgespreek nie – wat ons alles sou publiseer.  Ek het hom die trekpas gegee omdat hy grappe gemaak het oor die onderdrukking wat swart mense tydens apartheid in hierdie land verduur het.

Ek het AfriForum ondersteun sedert lank voordat die meeste van u wat hier lees nog ooit daarvan gehoor het.  Die Forum doen baie belangrike werk en ek sal hom steeds ondersteun vir dié werk en u behoort dit ook te doen.  Dit is kwalik die tyd vir Suid-Afrika se doeltreffendste burgerregtegroepe om speletjies te speel of teen mekaar te draai – dit sal ’n ernstige versaking wees van die mense wat hul vertroue in ons stel.  Maar ek bekommer my ook oor AfriForum en waar hy sy meer as 200 000 volgelinge heen lei.

Daar is, en was nog altyd, ’n diepgaande verskil tussen die IRR en AfriForum.

Die doel van die IRR is om die gematigde meerderheid van Suid-Afrikaners – swart en wit – te verenig rondom gemeenskaplike waardes sodat ons gesamentlik ’n sterk land kan bou.  Hierdie eensgesindheid is die groot onvervulde uitdaging van Suid-Afrika se politiek, maar dit is ’n uitdaging waaraan ek en my IRR-kollegas dink ons land hierdie keer kan voldoen.  Ons meningspeilings toon dat, ondanks wat swart nasionaliste en wit nasionaliste in die media, op Twitter en in die Parlement sê, ’n aanmerklike 7/10 Suid-Afrikaners groot respek vir mekaar het en graag wil saamwerk om ons land te laat werk.

Ek het al by genoeg Afriforum-takke toesprake gehou  en genoeg meningspeilings gesien om redelik seker te wees dat dit is wat sy lede wil hê. 

Die doel van AfriForum is om ’n magtige Afrikaner-drukgroep te vorm – en hy het oor die afgelope dekade skitterend daarin geslaag en het honderde miljoene rand aan lidmaatskapgeld ingesamel.  Met groot mag kom egter groot verantwoordelikheid – veral wanneer gewone mense verwag dat hulle beskerm en bestuur moet word.  Dit is nie ’n mag wat ligtelik of ligsinnig opgeneem kan word of om reklame- en politieke of magspeletjies mee te speel nie.  Die belange in Suid-Afrika is nou te hoog daarvoor.

Indien ons – gesamentlik, in die burgerlike samelewing – nie daarin slaag om die middelgroep te verenig nie of die verkeerde advies aan ons ondersteuners bied, sal die gevolge werklik verskriklik wees terwyl Suid-Afrika in ’n verknorsing van rassenasionalistiese geweld en armoede verval. 

Ek het nog altyd gevoel dat AfriForum se doelstellings ter verdediging van Afrikaners vereenselwig kan word met die IRR se ambisie om die gematigde middelgroep te verenig – en ek het baie hard probeer om dié brug te bou, soos ek met elke ander gemeenskap in die land gedoen het.  Ek vrees egter dat daar ’n uitgangspunt binne die senior leierskap van die Solidariteitsbeweging is wat die IRR se doelstelling, en die swaai wat dit onder Afrikaners bereik het, as ’n dreigement tot ’n rassenasionalistiese projek beskou – om ’n nuwe apartheid op die as van Suid-Afrika se demokratiese eksperiment te bou.  Dié leierskap speel speletjies met sy ondersteuners en hul vrese en emosies – verlede week was ’n voorbeeld hiervan – en lok hulle weg na ’n donker en gevaarlike plek vanwaar hierdie ondersteuners, en Afrikaners in die algemeen, ongetwyfeld ’n geweldige prys sal betaal.

Suid-Afrika het net een volhoubare roete uit die moeilikheid uit en dit is om die meerderheid van ordentlike, hardwerkende Suid-Afrikaners te verenig rondom ’n gemeenskaplike reeks waardes ten opsigte van nierassige beleid, eiendomsregte, en die vryheid om ’n mens se lewe te lei soos jy verkies.  En dit is ’n doel, en ’n droom, wat ons kan bereik.

Namate die druk op die regering toeneem, verloor die ANC baie vining steun.  Die oomblik wanneer ons moontlik kan begin om die land om te draai is dus baie naby.  Suid-Afrikaners, swart en wit, begin reeds, miskien meer as ooit tevore, om mekaar te vind rondom die begrip dat die beleide van die huidige regering geloofwaardigheid verloor het en sal moet verander.  Dit is die tyd om brûe oor die samelewing te bou en om die grondslag te lê vir wat sal kom wanneer die ANC weg is. 

AfriForum is ’n baie magtige drukgroep en hoogs bedrewe met invloedwerwing. Sy aanval op en poging om die IRR te laat ondergaan sal groot skade aan ons projekte en ons pogings aanrig.  Ek sien egter nou geen duidelike weg daaromheen nie indien die IRR getrou aan sy doelstelling wil bly om die middelgroep te verenig.  Indien dit beteken dat ons die finansiële slag moet hanteer, terwyl sommige van ons relatief nuwe Afrikaner-ondersteuners wegdraai, is dit wat ons sal moet doen.

Ek sal op vele vlakke, waarvan die persoonlike aspek nie die minste is nie, baie spyt wees om my Afrikaner-broeders te sien wegstap van wat kon gewees het, op pad na die donker nag.

*Hierdie meningstuk is ‘n verkorte weergawe van die oorspronklik stuk wat deur die Daily Friend gepubliseer is.

Frans Cronje is die HUB van die Institute of Race Relations (IRR), ’n liberale dinktenk wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder. 

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/hier-staan-ek-ek-kan-nie-anders-nie-so-help-my-god-amen/

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi