Om naïef te glo dat art. 25 van die Grondwet jou teen onteiening gaan beskerm, is gevaarlik misplaas, skryf Hermann Pretorius.
Prof. Piet Croucamp meen ek versprei waninligting en maak roekelose uitsprake wat vertrouensverhoudinge binne die landbou bedreig.
Hy sê dis “onverantwoordelik” van my om Annelize Crosby van Agbiz te kritiseer oor haar regsmening ten opsigte van die Wet op Onteiening. Hy voer ook aan dat my kritiek op die wet oordrewe, “plek-plek verkeerd en ongegrond” is.
Hy beskuldig my boonop daarvan dat ek ’n reaksionêre politieke agenda dryf.
Ek sou, sê Croucamp, daarby baat vind om my mening op grond van regsadvies te skryf. Tog is dit insiggewend dat sy eie analise van die wet deurspek is met vals note.
Al vind die debat oor die Wet op Onteiening binne ’n politieke raamwerk plaas, is dit in wese ’n regsdebat. Die opskrif by Croucamp se stuk moedig die lees van die wet aan, maar dit wil voorkom of hy onkritiese en gerusstellende analise verkies bo noukeurige lees en begrip van die relevante wetsteks.
Ek sou egter reken nie net boere nie, maar alle bate-eienaars sal wil weet wat die wet regstegnies beteken, en of die sektorliggame wat voorhou dat hulle in hul lede se belang optree, werklik hul kant bring en eerlik is oor die implikasies van gevaarlike wette en beleid. In hierdie opsig maak Croucamp ’n paar kritieke foute.
Ten eerste plaas hy naïewe vertroue in art. 25 van die Grondwet, die sogenaamde eiendomsregklousule. As regsimplement is hierdie artikel lofwaardig, maar om dit op sigself te beskou as genoegsame noodweer teen staatlike aanslae op burgerlike eiendomsregte, weerspieël ’n onkunde oor hoe wetgewende en grondwetlike regsverwikkelinge reeds die beskermingspotensiaal van art. 25 in twee noemenswaardige gevalle omseil het.
Die Nasionale Waterwet van 1998 het alle waterregte in privaat besit effektief onteien deur die staat trustee daarvan te maak.
Soortgelyk het die konstitusionele hof in die locus classicus AgriSA-saak bevind dat die staat, bemagtig deur die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne van 2002, nie die beskermings van art. 25 oortree deur alle mineraalregte in die staat te setel nie. Omdat, volgens die hof, die staat die mineraalregte in “bewaring” eerder as “besit” geneem het, is geen vergoeding ingevolge art. 25(3) nodig nie.
Hierdie regspresedente maak dit duidelik dat art. 25 geensins ’n absolute verdedigingslinie is nie. Die staat het immers reeds bewys dat dit bemagtig en bereid is om grootskaalse konfiskasie van privaat eiendom te bewerkstellig sonder ’n sent kompensasie.
Croucamp praat nie oor hierdie kommerwekkende regspresedente wat ek in ons TV-gesprek op In gesprek geopper het nie.
Wat die Wet op Onteiening besonder kommerwekkend maak, is dat dit ondermynings van eiendomsregte vervat in die Nasionale Waterwet en, te danke aan die konstitusionele hof, in die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne uitbrei om toepaslik op alle vorme van eiendom te wees. Die Wet op Onteiening se definisie van eiendom is so wyd, die definisie van onteiening daarin so nou, en die grondwetlike regspraak so riskant, dat alle bates kwesbaar is vir die skuiwergat oor bewaarderskap wat die staat toelaat om bates te onteien op ’n wyse wat art. 25 se beskermings, soos regverdige en billike kompensasie, eenvoudig ontwyk.
Croucamp se lees van art. 25 is in ’n verdere belangrike opsig gebrekkig: die kwessie van “nul” versus “geen” betreffende die vereiste van billike en regverdige vergoeding.
Hy voer aan dat ek weier om die regstegniese onderskeid tussen “nul” en “geen” te oorweeg, maar toon geen begrip dat dit in werklikheid nie die sofistiek van hierdie onderskeid is wat sy lees van art. 25(3) onoortuigend maak nie, maar eerder die feit dat hy die regstegniese inhoud van die woord “compensation” (soos in die Engelse en gesaghebbende weergawe van die Grondwet verwoord) miskyk.
Die konsep van “compensation”/kompensasie is diepgewortel in gemene reg, internasionale regstandaarde en basiese regverdigheidsteorie ten opsigte van skade of verlies.
Black’s Law Dictionary, die internasionaal erkende konsephandleiding, definieer “compensation” as die “payment of damages, or any other act that a court orders to be done by a person who has caused injury to another”. “In theory, compensation makes the injured person whole.” Kern, dus, tot die begrip van kompensasie in art. 25 is die beginsel van “heelmakende” regstelling.
Die heelmakingsdoktrine, restitutio in integrum, onderskraag die regstegniese uitwerking van kompensasie: die geaffekteerde party moet herstel word, “heel” gemaak word, tot die posisie waarin hy sou gewees het indien geen skade of verlies hom beval het nie.
Omdat restitusie en effektiewe heelmaking onlosmaaklik deel is van die regsbetekenis van “kompensasie”, is die korrekte vertolking van die “billike en regverdige” kompensasievereiste ingevolge art. 25(3) van die Grondwet dat die onteiende persoon vergoed moet word in so ’n mate dat hy effektief geen skade of verlies ervaar het nie.
Dit is binne hierdie regskonteks dat Croucamp mistas as hy meen dat R0 ’n billike en regverdige vergoedingsbedrag is.
Kompensasie korrek verstaan is dus nie simbolies of blote vergoeding nie, maar wesenlik herstellend. Geen boer wat sy grond en bron van inkomste verloor, kan moontlik “herstel” geag word met ’n bedrag van R0 nie. Die idee is regstegnies absurd.
Dit is wel teoreties moontlik dat daar iemand iewers is wat met vergoeding van R0 gekompenseer kan word vir die verlies van ’n bate. Maar om hierdie verregaande moontlikheid te gebruik om die yslike magte in die staat gesetel deur die Wet op Onteiening te regverdig, is besonder roekeloos.
Croucamp fouteer dus sowel rakende die inhoud as die jurisprudensiële impak van art. 25.
Daar word kapsie gemaak teen die beskouing van my en my kollega Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) dat die Wet op Onteiening die ganse onteieningsproses in die staat se guns kantel. Daar is, lui Croucamp en kie se argument, prosedurele beskermings binne die Wet op Onteiening vervat, onder meer die versekering dat regterlike goedkeuring benodig word voordat onteiening kan plaasvind. Ongelukkig kyk hierdie standpunt die feit mis dat die wet eiendomsoordrag na die staat moontlik maak binne slegs dae van die betekening van ’n kennisgewing van onteiening – voordat ’n hof goedkeuring hoef te gee.
Die argument is al gemaak dat onteiening slegs kan plaasvind ná afloop van ’n bona fide-onderhandelingsproses tussen die staat en die eienaar. Vals. Art. 8 van die wet stel dit uitdruklik dat die onteieningsbesluit ten volle die staat s’n is.
’n Boer kan dus sy eiendom verloor binne dae ná hierdie eensydige besluit en die ontvang van ’n kennisgewing van onteiening.
Sou die geaffekteerde eienaar dit wou betwis, is die onus op hom om op eie koste te litigeer en te bewys dat die onteieningsbedrag onregverdig is. Litigasie onder hierdie omstandighede, waar jy jou bron van inkomste en belangrikste bate reeds kwyt is, beloop nie net die risiko van uitmergelende trauma nie, maar ook van finansiële vernietiging – veral in ag genome die litigasiehulpbronne van die staat en howe wat veral in prosedurele geskille ’n geneigdheid het om eerbiedigend van staatsbelange en -argumente te beslis.
Wat die risiko van ongunstige hofbeslissings teen onteiende partye vergroot, is die vae betekenis van die “openbare belang” soos in die wet vervat. Die wet onderskei tussen “openbare belang” en “openbare doel”. “Openbare doel” het betrekking op onteiening ter bevordering van ’n staatsfunksie soos infrastruktuurontwikkeling.
“Openbare belang” is, effektief, wat ook al die regering besluit dit is.
Dit kan verwys na die ideologiese najaag van ’n sekere rassesamestelling van grondbesit. Gevolglik kan onteiening in die “openbare belang” beteken dat ’n grondeienaar se velkleur onteiening van sy bate regverdig. Dis onmoontlik om te sê of so iets gaan gebeur, maar die feit dat die Wet op Onteiening so iets toelaat, is skrikwekkend.
Dis belangrik om te noem dat hierdie enorme spektrum van moontlike redes vir onteiening ’n drastiese afwyking is van die gebrekkige en uitgediende Wet op Onteiening van 1975. Croucamp en Crosby se onverklaarbare volhouding dat die nuwe wet bloot prosedureel is en geen nuwe magte in die staat se hande plaas nie word hierdeur, as slegs een voorbeeld, ontbloot as waansin.
Fundamenteel tot geregtigheid is regsekerheid – die betroubaarheid en voorspelbaarheid van wetsuitwerkings en regsgevolge. En terwyl Croucamp my beskuldig van die saai van wantroue, is die groter kwessie, myns insiens, die wantroue wat die Wet op Onteiening ontketen vir elke bate-eienaar in Suid-Afrika – van boerdery tot boedel.
Die ekonomiese gevolge hiervan is enorm: Bates se waarde is direk gekoppel aan die sekuriteit waarmee hulle besit kan word. Deur juis hierdie sekuriteit te ondermyn, bevat die wet die kiem van ekonomiese rampspoed.
“Hoekom,” sê ’n boer nou die dag vir my, “het dit jou skop van die byekorf gevat dat hulle vir ’n slag met ons oor die risiko van onteiening kommunikeer? Hoekom laat weet hulle ons nie elke week waarmee hulle besig is om hierdie wet te stop nie?”
My kritiek op Groot Landbou is nie die produk van my eie bepeinsings nie. Deur my werk het ek oor die laaste paar jaar met baie boere verhoudings gebou.
Nie noodwendig die belangrike ouens met leiersposisies en agendas nie – gewone boere wat in die IRR se werk ’n toewyding tot kritiese, eerlike analise waardeer. Dus vertrou ek die leser om self oor my stuk in Rapport te besluit of my kritiek teen Groot Landbou geregverdig is.
Croucamp sluit sy stuk af met ’n aanhaling deur oudregter Laurie Ackermann van die konstitusionele hof wat waarsku teen oordrywing. Ja, totdat dit te laat is.
As dit kom by die soort staatsmag wat in die Wet op Onteiening en meegaande regspraak vervat word, wat is die ervaring van Suid-Afrikaners? Wette wat grondwetlike beskerming omseil; stadige en duur hofprosesse; die misbruik van mag – van seks-vir-werk-skandale tot staatskaping.
Die regstegniese swakhede wat hierdie ongeregtighede moontlik gemaak het, leef gevaarlik voort in die regsteks en -konteks van die Wet op Onteiening.
Prof. Croucamp is heel korrek wanneer hy waarsku teen oningeligte deelname aan die debat. Lees die wet, sê hy. Hy kan gerus sy eie raad volg.
Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie by die Instituut vir Rasseverhoudinge