Gryp die oomblik aan: DA moenie in dieselfde strik as David Cameron trap - Rapport

Feb 23, 2025
Die DA se ongekende veto van die nasionale begroting skep ’n sonderlinge geleentheid wat die party nie durf verspeel nie, skryf Hermann Pretorius met verwysing na ’n les uit die Britse politiek.
Gryp die oomblik aan: DA moenie in dieselfde strik as David Cameron trap - Rapport

Hermann Pretorius

Die DA se ongekende veto van die nasionale begroting skep ’n sonderlinge geleentheid wat die party nie durf verspeel nie, skryf Hermann Pretorius met verwysing na ’n les uit die Britse politiek.

Dit is Desember 2011 en David Cameron is maar slegs ’n jaar en ’n half eerste minister van Brittanje. Cameron is aan die stuur van ’n koalisieregering van sy eie Konserwatiewe Party en die Liberaal-Demokratiese Party, die derde grootste party in die laerhuis ná die 2010-verkiesing wat 13 jaar van Arbeidersregering beëindig het. Nick Clegg, die Liberaal-Demokrate se leier, is Cameron se adjunkpremier.

Soos Cyril Ramaphosa en John Steenhuisen is Cameron en Clegg ’n onwaarskynlike paartjie, maar hulle is saam in die kooi gedwing deur die kiesers se besluit om geen party in die laerhuis ’n volstrekte meerderheid te gee nie. Die ongemaklike koalisiekompromis is gesmee ná vyf dae se naarstige onderhandelinge ná stemdag.

Vir baie Liberaal-Demokrate, oftewel die LibDems, was die idee van samewerking met die Tories – hul ideologiese teenpool – verregaande.

Vir baie Tories was die LibDems ewe taboe as vennoot: wankelrig oor nasionale verdediging, wankelrig oor die vrye mark, wankelrig oor Britse identiteit en waardes – en versot op die Europese Unie (EU).

Euroskeptisisme was, en is vandag nog, ’n kragtige denkstroom in Tory-geledere.

Cameron se oorwinning in die Tories se 2005-leierskapsverkiesing was deels te danke aan sy onderneming om op te hou “hamer” op die EU-kwessie. Die Euroskeptici in sy party het dit beskou as ’n teken dat hul jong leier huiwerig sou wees om rug styf te maak teen die Brusselse burokrate.

Maar in Desember 2011 kry Cameron ’n kans om sy Euroskeptiese kritici verkeerd te bewys. Die EU was op die punt om ’n reuse-reddingspakket vir die euro-geldeenheidlande goed te keur.

Dit sou beteken Britse belastingbetalers, wat nie eens die euro gebruik nie, sou moes pa staan vir die geldkrisis in lande soos Griekeland.

Cameron het sy kontinentale ampsgenote gewaarsku dat hy ’n reddingsboei-begroting sou veto. Toe die staatshoofde van die EU-lidlande in Desember 2011 in Brussel vergader, het Cameron sy woord gestand gedoen. Met sy veto het hy die Britse belastingbetaler beskerm.

Cameron keer as ’n held terug – en verkry broodnodige politieke kapitaal by sy party se Euroskeptiese vleuel. Die Arbeiders se jaar lange voorsprong in die meningspeilings word summier beëindig.

*               *                * 

Dit is Junie 2016 en David Cameron kondig sy bedanking as eerste minister aan – ’n dag nadat die Euroskeptici hom uitoorlê het in die Brexit-referendum.

Teen die advies van hul premier het die Britte gestem om die EU te verlaat.

Die pro-Brexit-veldtog se sukses berus grootliks op die argument dat Britse belastingbetalers honderde miljoene ponde elke jaar aan die EU oorhandig – met min om daarvoor te wys.

Die politieke kapitaal wat Cameron met sy 2011-veto gekoop het, is in die voorafgaande vyf jaar verkwis. Sy poging om voor die referendumveldtog ’n nuwe bedeling met die EU te onderhandel, was te min, te laat. Dit is onmiddellik verwerp as te lig in die broek. Die premier het geen meer geloofwaardigheid by die Euroskeptici gehad nie.

Desember 2011, die oomblik van sy grootste Europese triomf, lê ver agter David Cameron toe hy Downing Street verlaat.

*****

Soos Cameron in Desember 2011 het die DA pas ’n slag vir die belastingbetaler geslaan deur ruggraat te wys en ’n begroting te veto. John Steenhuisen het gewys sy party is nie bloot ’n passasier in die regering van nasionale eenheid nie.

Soos die Tories destyds, is die DA se gees van oorwinning die laaste paar dae tasbaar en te verstane.

Die ANC se bloedneus in die begrotingstryd is ’n buitengewone gesig – iets wat die potensiaal het om die politieke aannames van ons land te herdefinieer.

Deur die BTW-verhoging te stuit, het die DA nou die geleentheid om hom as die party van gewone, hardwerkende belastingbetalers te vestig. Dié posisie is gelaai met politieke potensiaal – veral vir ’n party wat al dekades lank vry na die steun van die swart middelklas – getroue belastingbetalers en kiesers wat, luidens alle peilingaanduidings, afgerokkel kan word van die verswakkende ANC.

Hierin lê die DA se kans om deur te breek en belastinggeregtigheid ’n volhoubare politieke kwelpuntkwessie te maak as die party sy kaarte reg speel.

Vermag hy dit, sal die afgelope Woensdag in die geskiedenis opgeteken word as die dag waarop die DA ’n party geword het wat deur die plafon van 30%-steun kan breek.

Om dit te doen, moet die party sy saak strategies bou én dit rugsteun met verdere optrede om die belastingbetaler te beskerm.

Die Australiese politieke strateeg Isaac Levido glo dat ’n politieke veldtog soos ’n hofsaak gestruktureer is. Jy begin met jou openingsargumente, waarmee jy die kern van die saak voor die kieser-regter uitlê: Wat is die fundamentele waardebotsing? Dan gaan jy oor na jou bewysfase. Hier gee jy bewysstuk ná bewysstuk om te wys dat jy aan die regte kant van die waardebotsing veg. Dan sluit jy af met jou slotbetoog: ’n Verduideliking, opsomming van en herinnering aan wat die hof aangehoor het wat jou saak versterk.

Die DA se politieke oorwinning die afgelope week kan, mits hy die “bewysstukke” en “getuies” reeds nou al gereed kry, deel van sy openingsargument wees – die uiteensetting van ’n waardebotsing. As die party vleis aan die been sit en wys dat hierdie heldedaad vir die belastingbetaler ’n ware weerspieëling is van wie en wat hy is, kan hy ’n langdurige deurbraak vir sy reputasie behaal. Dit sal hom natuurlik bemagtig om voor die volgende algemene verkiesing sy saak in die hof van openbare opinie met ’n sterk slotbetoog af te sluit.

Maar as hy soos Cameron misluk om sy saak doelgerig, volhoubaar en strategies te bou, sal die DA se triomf net so vlietend soos syne wees.

Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie by die Instituut vir Rasseverhoudinge.

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/gryp-die-oomblik-aan-da-moenie-in-dieselfde-strik-as-david-cameron-trap-20250223

Gryp die oomblik aan: DA moenie in dieselfde strik as David Cameron trap - Rapport

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi