’n Sinistere rede skuil moontlik agter Groot Landbou se onverklaarbaar lamsakkige houding teenoor die Onteieningswet, skryf Hermann Pretorius.
Twee weke gelede het Dean Macpherson, minister van openbare werke en infrastruktuur, die gehoor op die Nampo-oesfees verseker dat die nuwe Onteieningswet geen rede tot kommer is nie. Ek was saam met Macpherson in ’n paneel wat ook Jaco Kleynhans van Solidariteit, Theo Boshoff van AgBiz en Willem de Chavonnes Vrugt van AgriSA ingesluit het.
Tydens die bespreking het die minister gerusstellende, maar onakkurate punte ter verdediging van die wet herhaal.
Sy onkundige of oneerlike vertolking van die wet se teks was merkwaardig, maar nóg merkwaardiger was hoe die verteenwoordigers van die twee landboudrukgroepe óf instemmend geknik óf stilgebly het terwyl die minister ’n wet, wat swak opgestel, teenstrydig en uiters gevaarlik is, as onbelangrik afgemaak het.
Klinies beoordeel en teksgetrou gelees, bemagtig die Onteieningswet meer as 400 owerhede in Suid-Afrika om eiendom vir ’n ongeslote lys “openbare belang”-doeleindes te onteien, hetsy onder markwaarde of geheel en al sonder vergoeding.
Sekerheid wat bate-eienaarskap betref, is die grondslag van mededingende boerdery: Dit gee grond kollaterale bate-waarde, ontsluit krediet, laat familieplase volhou en bied aan nuweling-boere ’n kans om mee te ding.
Verwyder daardie fondament en kapitaal droog op, markte konsolideer rondom ’n handjievol sektorreuse en kleiner produsente word versmoor.
Tog het AgriSA en AgBiz, instellings wat die hele landbousektor, en veral sy kwesbaarste lede, teen aanvalle op hulle en hul bates behoort te verdedig, eenvoudig gekies om nie van ’n belangrike geleentheid gebruik te maak om die wet se roekelose gebreke uit te wys nie. Pleks daarvan het hulle gepaai en die gehoor verseker dat die wet hanteerbaar is.
Op die lang rit huis toe het ek nagedink oor wat ek gesien het. ’n Minister wat van sy party se manifes afwyk, kan miskien deur politieke manewales verklaar word. Maar die sussende optrede van AgriSA en AgBiz oor die Onteieningswet was moeiliker om uit te pluis.
Ek het die Instituut vir Rasseverhoudinge se rekords oor die kwessie herbesoek, met boere gepraat en ou verklarings herlees.
’n Patroon het na vore gekom: as ’t ware, Groot Agri se “wedstrydplan” rakende onteiening sonder vergoeding.
Eerstens stel hulle gerus wanneer alarm die rasionele reaksie behoort te wees.
Toe pres. Cyril Ramaphosa die wet in Januarie onderteken het, het Boshoff ’n AgBiz-memo uitgereik wat verstommend beweer het dat die wet nié eiendomsregte “verwater” nie.
’n Week later het die AgBiz-ekonoom Wandile Sihlobo in Mail and Guardian geskryf landbou staan op vaste grond en paniek is onnodig.
Boshoff se nota van 29 Januarie, getiteld “Expropriation Act – Separating Fact from Fiction”, onderskat die wet se omvang en die swak posisie wat dit eienaars oplê, gruwelik.
Hy beweer onteiening is ’n laaste uitweg omdat die staat eers ’n redelike koopaanbod moet maak. In werklikheid hoef ’n owerheid net 30 dae kennis te gee, besware te oorweeg en kan dan na goeddunke met onteiening voortgaan.
Geen hof bepaal vooraf of ’n aanbod “redelik” is voordat eienaarskap verander nie.
Boshoff voer ook aan dat onteieningsprosedures vir die staat lastiger is as ’n gewone aankoop, wat sou te kenne gee dat die staat aankoop bo onteiening sou verkies. Tog laat die wet die staat toe om ’n bate sonder wesenlike onderhandeling te konfiskeer, minder as markwaarde te betaal, betaling uit te stel, en duur litigasie op die eienaar af te dwing indien hy ontevrede is met die staat se eensydige onteieningsaanbod.
Die sprekendste is dat hy onteiening sonder vergoeding bloot ’n “akademiese moontlikheid” noem. Dié standpunt op sigself maak ’n bespotting van Boshoff se ontleding.
Annelize Crosby, AgBiz se hoof van regsintelligensie, skryf op 12 Februarie dat die wet “ ’n prosedurele stuk wetgewing is wat geen nuwe onteieningsbevoegdhede verleen nie” – ’n walglike wanlesing van die wetsteks. Sy beweer voorts, foutiewelik, dat die “wet ook die regte beskerm van nie net grondeienaars nie, maar ook van houers van ongeregistreerde regte”.
Wanneer die grootste belangegroepe in die agri-sektor sê alles is onder beheer, aanvaar baie boere, wat nie die tyd of beleidsagtergrond het om wetgewing te ontleed nie, heel redelik dat hulle nie bekommerd hoef te wees nie.
Die wet bevat talle kommerwekkende elemente wat Boshoff en De Chavonnes Vrugt op die Nampo-verhoog geïgnoreer het. Op minstens twee kritieke punte het hulle Macpherson se wanvoorstellings swygend toegelaat of selfs aangehelp.
Hulle het aangevoer die wet verseker geregtelike beskerming van eiendomsregte deur die howe. In werklikheid ontman die wet regterlike beskerming: die staat kan besit reeds die dag ná ’n onteieningskennisgewing oorneem, en vergoeding kan slegs daarna in die hof betwis word – met die onteiende party wat die bewyslas en regskoste dra.
Hulle het aangevoer die wet bring duidelikheid en regsekerheid. In werklikheid skep dit wye, vae en eindelose gronde vir geen vergoeding vir grondonteiening in die “openbare belang”.
Dit beteken enigeen van die 400-plus onteieningsowerhede hoef net aan te voer dat iets onder daardie ongedefinieerde opskrif val, dan kan hulle grond sonder vergoeding onteien. Regerings wat desperaat is vir inkomste, of wat kadervriendjies wil beloon, sal voorspelbaar hierdie gaping in die wet tot die uiterste misbruik.
Gerusstelling waar weerstand nodig is, is stap 1 van die “wedstrydplan”.
Stap 2? Wanneer kritiek onvermydelik is, ignoreer tot elke prys enige groter eksistensiële ideologiese botsings en vereng die stryd tot regspuntenerighede.
De Chavonnes Vrugt het in soveel woorde AgriSA se besware teen die drakoniese Onteieningswet tot net twee punte ingekort: die definisie van “onteiening” en die feit dat R0 nie strook met die grondwetlike vereiste van “regverdige en billike” vergoeding nie.
Niks oor die uitskakel van hofbeskermings, die oneindige omvang van “openbare belang” of die negatiewe impak op kollateraalwaardes wat kleiner plase verlam nie. In soverre AgriSA teen die felste aanval op eiendomsreg in dekades opstaan, doen hulle dit, volgens hul eie erkenning, op twee geldige dog tegniese punte – niks anders nie.
Stap 3 is om gevestigde spelers te beskerm. Die voormalige AgriSA-president Dan Kriek het in 2019 gesê as die 20% van boere wat 80% van die voedsel produseer teen onteiening sonder vergoeding beskerm word, “vordering” vinniger gemaak kan word om dit in werking te stel. Niks dui daarop dat hierdie houding verander het nie.
Stap 4, wanneer hulle gekonfronteer word, is daar ontwyking en hardnekkige stilte. In Januarie 2020 het die Instituut vir Rasseverhoudinge ’n opebriefveldtog gevoer wat AgBiz se steun belig het vir die 2019-verslag waarin die presidensiële paneel onteiening sonder vergoeding ondersteun.
John Purchase, AgBiz se destydse hoof, het dit sonder enige substantiewe verduideliking weggewuif. Tog wys ’n chronologiese oorsig van gebeure hoe AgBiz homself op kritieke oomblikke met die narratief ten gunste van onteiening sonder vergoeding belyn het.
Nadat Ramaphosa in Desember 2017 aangekondig het dat die ANC ’n wysiging van die Grondwet sou nastreef vir onteiening sonder vergoeding, het AgBiz wel kommer uitgespreek, maar die voorstel as party-politiek eerder as regeringsbeleid afgemaak.
AgBiz het ook vasgegryp aan die president se voorbehoud dat onteiening sonder vergoeding nie voedselsekerheid mag skaad nie en dit as ’n waarborg voorgehou, terwyl dit duidelik net politieke lippediens was.
Later het Groot Landbou setels in die 2018-grondhervormingspaneel bekom; Sihlobo, eens ’n kritikus van onteiening sonder vergoeding, het die meerderheidsverslag onderteken wat nul-vergoeding vir ’n wye reeks bates, insluitend “onderbenutte” grond en aandeelskemaplase, aanbeveel.
AgBiz het die verslag as “vooruitgang” geprys en in parlementêre voorleggings gepleit dat daar wegbeweeg word van “slaafse gehoorsaamheid aan markgedrewe vergoedingsmodelle” – wat gewone mense “regverdige en billike vergoeding” sou noem.
Om in Suid-Afrika te boer is reeds moeilik genoeg sonder wetgewende plaasaanvalle. Boere behoort nie ook nog die risiko te dra dat hul grond, dikwels hul grootste bate, môre vir ’n politieke slagspreuk oor “openbare belang” gegryp kan word nie.
Tog is dít die gevaar wat die Onteieningswet skep.
Die tragedie is dat Suid-Afrika se invloedrykste landbousake-instellings, wat veronderstel is om die sektor te verdedig, skynbaar nie die moed van oortuiging het om hierdie aanval op plase en ontelbare ander bates teen te staan nie, maar sinies probeer om geregverdigde openbare bekommernis te ontmoedig.
Ek was op die verhoog saam met hulle toe hulle die perfekte geleentheid gehad het om waarheid oor staatsmag te spreek en vir die belange van elke boer in Suid-Afrika op te staan. Hulle het gekies om dit nie te doen nie.
Hoekom sou hulle só optree?
Ek vrees daar skuil ’n siniese en duistere motief in Groot Landbou se stille verraad oor onteiening sonder vergoeding. Dit maak immers kommersieel sin vir Groot Landbou om toe te laat dat grond as kollateraal devalueer: Groot agri-ondernemings kan ander vorme van sekuriteit, soos kapitaalvloei, bied. As ’n ervare boer met beleidsagtergrond geglo kan word, is ’n sektorwye skuif weg van grond as sekuriteit vir finansiering reeds aan die gang.
Die gevolg is dat kleiner boere, wie se enigste werklike bate die grond is wat hulle besit, finansieel verwurg word. Dit lei onvermydelik tot ’n afname in die aantal kleiner produsente, wat Groot Landbou in staat stel om die markruimte onbetwis te onteien.
Dít is die wrede waarheid wat Kriek in 2019 laat glip het toe hy AgriSA se sielsprys van 30 munte uitgelap het. Deur onteiening sonder vergoeding te laat voortgaan, laat Groot Landbou die wet afreken met daardie lastige ontluikende boere en familieplase wat vir die sektorreuse eintlik maar net gatvlieë is.
Deur gevestigde belange bo die boerehart van die sektor te plaas, is Agri SA en AgBiz besig om hul verantwoordelikheid onvergeeflik te versaak.
Hermann Pretorius is hoof van strategiese kommunikasie van die Instituut vir Rasseverhoudinge