Hermann Pretorius
Dit is die werk van die strateeg om sy kanse op sukses te maksimaliseer. Die oogmerk word dikwels bereik deur die uitvoering van twee aanvalle in parallel, maar gemik op dieselfde einddoel.
Tipies sal daar ’n goed gefinansierde hoofaanval wees wat die aandag en hulpbronne van die opponent onmiddellik trek. Die wyse strateeg sal egter terselfdertyd ook ’n tweede aanval aanvoor – een van laer intensiteit en makliker om mis te kyk met min fanfare, vuurwerk, artillerie of kavallerie. Waar die eersgenoemde mag in die ope marsjeer, sluip dié mag nader via agterpaaie.
Die risiko vir die opponent behoort duidelik te wees: Sou die formidabele aanvalsmag sukses behaal, sal die sluipermag veilig bly. Maar sou die formidabele mag teen woedende teenkanting misluk, sal die tweede aanval die opponent onkant en uitgeput betrap.
Ten spyte van die ANC se regeringsmislukkings die afgelope paar jaar is hul vermoë vir strategiese denke onaangetas. Dit is vanuit hierdie hoek dat die kwessie van onteiening sonder vergoeding verstaan moet word.
Die formidabele aanval op privaat eiendomsregte, veral ten opsigte van onroerende eiendom, was die poging om art. 25 van die Grondwet te wysig – ’n aanval wat uiteindelik suksesvol afgeweer is toe die ANC nie die vereiste tweederdemeerderheid in die parlement kon kry nie.
Maar soos ’n wyse strateeg het die ANC nie al hul hoop op een aanvalsmag geplaas nie. In 2020 organiseer die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, ’n tweede sluipmag in die vorm van die onteieningswetsontwerp. Te danke aan suksesvolle guerrillataktiek, -aanvalle en maneuvrering, gelei deur IRV-kollegas soos Anthea Jeffery en Terence Corrigan, is dié wetsontwerp in sy eerste weergawe in 2021 teruggedryf.
Die huidige onteieningswetsontwerp is in wese geen verbetering op die 2020-weergawe nie.
Maar alle oorwinnings in die stryd om idees is tydelik. In Julie kondig pres. Cyril Ramaphosa aan dat onteiening sonder vergoeding terug op die tafel is.
Die huidige onteieningswetsontwerp is in wese geen verbetering op die 2020-weergawe nie. Die kwessie van onbillike, gevaarlike onteiening sonder vergoeding bly ’n enorme sosio-ekonomiese en politieke risiko. Boonop is die wetsontwerp ongrondwetlik in minstens drie opsigte.
Eerstens lys die wetsontwerp vyf omstandighede waar onteiening sonder vergoeding kan plaasvind. Die omstandighede waaronder hierdie diefstal kan gebeur, is egter nie duidelik of beperk nie. Dus kan enige onteieningsgesag, waaronder honderde munisipaliteite en ondernemings in staatsbesit wat in finansiële moeilikheid verkeer, onteieningsbeslag lê op bates in privaat besit – sonder vergoeding. Die konsep van regsekerheid word aan’t flarde geskeur.
Tweedens ondermyn die wetsontwerp die Grondwet se beklemtoning dat daar ’n “billike ewewig” moet bestaan tussen die openbare belang en die belange van diegene wat deur onteiening geraak word.
Soos my kollega Anthea Jeffery onlangs skryf: “Om nul vergoeding te betaal vir onteiende grond plaas so ’n enorme las op huidige grondeienaars vir die regstelling van historiese ongeregtighede, dat dit nie die vereiste van ’n ‘billike ewewig’ kan bevredig nie.”
In pleks van ’n billike bywerking van die uitgediende onteieningswet van 1975 stoom De Lille voort met ’n apartheidsera-begrip van staatsmag.
Derdens ontken die onteieningswetsontwerp die Grondwet se soewereiniteit oor die wetgewer. Waar die 1975-onteieningswet gesteun het op die wetgewer se wil sonder beperking – die minister kon eenvoudig met minimale prosedure onteienings laat geskied – het die Grondwet van 1996 die spel aansienlik verander.
Hierdie grondwetlike beskermings word nou deur die huidige wetsontwerp geïgnoreer. In pleks van ’n billike bywerking van die uitgediende onteieningswet van 1975 stoom De Lille voort met ’n apartheidsera-begrip van staatsmag.
Die stemming van 14 September is om die draai. Daar is min tyd, maar genoeg om die argument teen hierdie rampspoedige wetsontwerp te wen.
Dit moet parlementslede op die hart gedruk te word dat die huidige wetsontwerp ’n boosaardige konkoksie is van die grond-chaos in Zimbabwe en die kleptomanie van die Venezolaanse regering. Banke, die finansiële sektor, eiendomsontwikkelaars en gewone grondeienaars moet die wrede werklikhede van vernietigde eiendomsregte duidelik aan parlementslede uiteensit: Onteiening sonder vergoeding is die kortste pad na voedselarmoede, die eskalering van lewenskoste, die toedraai van beleggerskrane en die uitwissing van talle sakeondernemings en werksgeleenthede.
Die eerste onteienings-aanvalsmag se aanslag op eiendomsregte is deur ’n kragtige samespanning van Suid-Afrikaners en organisasies soos die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) gefnuik. Nou moet De Lille se sluipermag ook verslaan word
Hermann Pretorius is kommunikasie-direkteur van die IRV.
https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/grond-verslaan-tweede-aanval-so-saam-20220902