Dis maak of breek vir DA - Rapport

16 December 2018 - As die DA 'n gefokusde eksterne veldtog voer met 'n aangrypende boodskap oor sake wat saak maak vir kiesers, kan hulle sekerlik verbeter van hul huidige posisie. En as dinge baie goed verloop, kan hulle selfs daarin slaag om klein groei te toon van 23% of 24% of so. Maar soos dinge nou staan, is hul interne teiken van 27% nog baie ver weg.

Gareth van Onselen

Die jongste meningsopname deur die Suid Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) toon dat die DA op die oomblik landwyd 18% steun geniet.

Dit is nie goed nie.

Toegegee, daar is 'n foutspeling van 3,9% in die peiling, wat beteken dat die steun vir die DA so hoog soos 21,9% kan wees. Maar aan die ander kant kan dit ook so laag soos 14,1% wees.

Hoe 'n mens ook al daarna kyk, die DA se steun is op die oomblik laer as die 22,2% wat die party in die 2014 verkiesing gekry het. En dit gaan regtig iets merkwaardigs verg vir die party om in 2019 enige beduidende groei te toon.

Die persentasie geregistreerde kiesers wat op stemdag opdaag om hul kruisies te trek, het stelselmatig afgeneem van 86,8% in 1994 tot 73,4% in 2014. Dit sal waarskynlik in 2019 verder daal, nie net as gevolg van die algemene tendens oor die afgelope twee dekades nie, maar ook omdat hoë vlakke van ontevre denheid gewoonlik tot hoër vlakke van apatie lei.

Gewoonlik werk sulke lae stempersentasies in die DA se guns. Dit was sekerlik die geval in die mees onlangse munisipale verkiesing. Die DA is beter as die ANC daarin om hul kiesers op stemdag by die stemlokaal te kry.

Dit was hierdie verskynsel wat bygedra het tot die party se goeie vertonings in 2016 en hul vermoe om stede soos Johannesburg en Tshwane van die ANC te verower. Maar in nasionale verkiesings het die DA nie die voordeel nie.

Dan slaag die ANC daarin om die amptelike opposisie byna stem vir stem te ewenaar wat kiesersopkoms betref en só word die DA se een groot voordeel vernietig. Die SAIRV het 'n aantal scenarios oor stempersentasie syfers geskep om te probeer voorspel wat sou gebeur as die kie sersopkoms hoer is as verwag.

As 69% van geregistreerde kiesers op stemdag opdaag, byvoorbeeld, het die DA se steun tot 22% gestyg. Maar selfs dit is dieselfde steun as in 2014. En dis nie asof die DA in hierdie scenario stemme by die ANC afrokkel nie.

Op dieselfde geprojekteerde 69% opkoms het die ANC van 56% tot 59% geklim. Die situasie in Gauteng is nie veel beter vir die DA nie. Onthou, na hul triomf in 2016 se munisipale verkiesing was die DA vasbeslote dat Gauteng die volgende groot ANC vesting sou wees wat sou val. Dit kan dalk so wees. Die SAIRV peiling toon dat geen party 'n volstrekte meerderheid in die provinsie het nie, en die ANC het slegs 48% van die stemme.

Maar die DA gaan baie waarskynlik ook nie met 'n meerderheid wen nie. Hulle geniet tans net 25% steun. En gegewe hoe swak die DA EFF koalisies tans vaar, is 'n ANC EFF koalisie in die provinsie 'n meer waarskynlike scenario.

As die DA op nasionale vlak steun verloor of net onbeduidende groei toon en nie politieke mag in Gauteng oorneem nie, sal die verkiesing 'n ramp wees vir die party. In die politiek word so 'n uitslag só beskryf: 'n bloedbad waartydens die haaie wat voortdurend in die omliggende politieke waters swem, op hul prooi gaan toeslaan.

Die DA leier, Mmusi Maimane, sal 'n paar moeilike vrae moet beantwoord, en so ook die federale leierskorps en strategiese bestuur van die party. Dit terwyl die vlakke van interne steun vir 'n aantal mense in daardie poste reeds broos is om mee te begin.

Die Gautengse situasie is simptomaties van die DA se probleme. In 2014 het die party 30,7% in die provinsie gehad. En as die 2016 verkiesings ons enigiets vertel, is dit dat die DA se groei waarskynlik uit hierdie provinsie sal kom.

Om so ver onder die party se 2014 syfers te wees, dring deur tot die kern van die DA se probleme. Die DA maak baie staat op steun uit Gauteng en die Wes Kaap. 31% van al sy steun kom uit Gauteng, gevolg deur 24% uit die Wes Kaap.

As hierdie twee provinsies nie op provinsiale vlak groei nie, sal die party nie nasionaal beter vaar nie. Daar is 'n aantal redes waarom die DA nie juis die wereld aan die brand steek in enige van die twee provinsies nie. Die eerste hiervan en verreweg die belangrikste is 'n algemene gebrek aan strategiese fokus.

Die party is oraloor. Hy het geen samehangende of dwingende boodskap oor die ekonomie nie, en dit lyk asof die party sy vermoe om die debat te bepaal, verloor het. Pleks daarvan reageer hy bloot op die debat, gewoonlik op voorwaardes wat deur die ANC of die EFF gestel word. En as jy nie 'n debat kan bepaal nie, kan jy dit nie lei nie. En as jy nie kan debatteer nie, gaan jy nie kiesers oortuig nie.

Daar is baie versagtende faktore. Een van die redes waarom die DA nie kon fokus nie, is dat hy te veel op interne probleme moes fokus soos die hele kwessie oor die uitval met Patricia de Lille. Hierdie interne politieke krisisse het 'n uitkringende uitwerking. Dit maak jou nie net seer binne die gebied waar dit afspeel nie die Wes Kaap in hierdie geval, maar dit doen ook afbreuk aan jou nasionale boodskap en dit tap jou hulpbronne.

Die droogte in die Wes Kaap, 'n ander bydraende faktor tot die party se daling in steun, is 'n goeie voorbeeld. Maimane is gedwing om, taamlik laat in die dag, meer as 'n maand daaraan te wy om beheer oor te neem van die provinsiale probleem.

So doende is hy van sy vermoe ontneem om oor enigiets anders wat saak maak te praat, terwyl hy desperaat probeer keer om 'n krisis vir die party se beeld as goeie regeerders af te weer. En dit alles nog voordat ons nog eens begin het om die impak van De Lille se nuwe party op die DA in die Wes Kaap te meet. Elke persentasiepunt tel en selfs as De Lille net 'n paar persentasiepunte van die DA se steun in die Wes Kaap kan wegkalwe, sal dit 'n verskil maak.

Al hierdie klein goedjies kan saam 'n verskil maak. In daardie opsig is dit moeilik om, as 'n mens op die afgelope jaar terug kyk, enige ernstige verkiesingskwessie te sien wat die DA hul eie gemaak het. Ja, daar was miskien 'n hof oorwinning hier en daar, maar Jacob Zuma is weg en die hofoorwinnings oor Zuma het al sy glans onder Ramaphosa verloor.

Afgesien daarvan, wat was daar? Werk loosheid? Onderwys? Misdaad? Kan jy enigiets oor die of enige ander kwessie opnoem wat die DA in die openbare sfeer geopper het en wat mense se verbeelding en entoesiasme aangegryp het? Dit is die tipe kwessies wat stemme werf.

En dit help nie juis as jy nie enige opwindende beleid het om jou denke oor die kwessies te ondersteun nie. Die spens is, ongelukkig, leeg. En dit is primer die rede waarom die party hom self in 'n afswaai bevind.

Die DA is 'n magtige, maar totaal reaksionere masjien.

Maar 'n faktor wat openbare debat lei is dit nie. Daar is steeds tyd vir die DA om die skip om te draai. Stemwerwing sal eers volgende jaar in alle erns begin.

As die verkiesingsdatum eers aangekondig is en die amptelike verkiesingsvenster open, kan partye begin om plakkate op te sit en hul advertensies op radio en TV uitsaai.

As die DA 'n gefokusde eksterne veldtog voer met 'n aangrypende boodskap oor sake wat saak maak vir kiesers, kan hulle sekerlik verbeter van hul huidige posisie. En as dinge baie goed verloop, kan hulle selfs daarin slaag om klein groei te toon van 23% of 24% of so.

Maar soos dinge nou staan, is hul interne teiken van 27% nog baie ver weg.

Gareth van Onselen is die hoof van politiek en regering by die Suid Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. 

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/dis-maak-of-breek-vir-die-da-20181216

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Terms & Conditions | Privacy Policy | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors