Die DA hensop weer vir die ANC - Maroela Media

Feb 18, 2019
18 February 2019 - Dit is pure rasse-nasionalieste arrogansie om te dink dat jy jou eie ondersteuners so in die gesig kan vat. Maar die DA glo vas dat hy hiermee sal wegkom omdat sy ondersteuners geen ander politieke heenkome het nie. Tensy die DA sy kwellende ideologiese rigting verander, sal dié kiesers wat ’n werklike alternatief tot die ANC se rasse-ideologie soek gou genoeg gedwing word om elders te soek.

Frans Cronje

Die afgelope naweek het die DA se Federale Raad bepaal dat enige debat oor bemagtiging gestaak moes word, met die keuse om eerder die ANC se rasse-ideologie en verwante model van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) te aanvaar, en die mantra dat ‘ras ’n volmag vir benadeling is’ as ’n regverdiging vir sy posisie aan te bied.  Dit was die besluit van ’n party wat die saak intellektueel en moreel gewonne gegee het teenoor die ANC se groot hegemoniese houvas oor Suid-Afrikaanse beleid.

Oorweeg gerus die volgende punte:

In die eerste plek is ras nie ’n volmag vir benadeling nie, soos die DA die eerste is om te erken.  Daar is baie, veral onder die ryk ANC-elite,  wat BGSEB in al sy vorms vir hul eie doeleindes misbruik het, wat nie benadeel is nie en nie staatshulp nodig het om kapitaal op te bou nie.  Dieselfde geld in ’n al groter mate vir ’n ontluikende swart middelklas.  Daar is baie bewyse daarvan en dit is statisties onomstrede.  Selfs indien ras ’n volmag vir benadeling was, is die enigste rede waarom benadeling nie gebruik moet word nie ’n openbare begeerte om aan ras toe te gee.  Dit is waarskynlik die naakte waarheid van die DA se huidige posisie.

In die tweede plek is daar nou niks wat die DA oor hierdie spesifieke saak van die ANC onderskei nie, ’n tendens wat hierdie besondere beleid verdring en oor ’n groot verskeidenheid fronte goed gevestig geraak het.  Die DA Federale Raad het ten opsigte van BGSEB in werklikheid die ANC se model van bemagtiging op groot skaal aanvaar – wat ’n mislukte model is, nie net weens die politieke misbruik daarvan nie, maar omdat dit ekonomiese groei vernietig, nie besigheid op ’n effektiewe wyse daaraan kan bind nie, en nie benadeling behoorlik kan hanteer nie.  Die enigste verskil is skynbaar die DA se oogmerk en toepassing.  Die DA se argument is dat hy die ANC se model beter, meer regverdig en sonder vooroordeel kan implementeer.  Maar wat die model self betref is dit die ANC s’n, tot in die fynste besonderhede.

Wat die DA sê, is dat hy ’n beter ANC kan wees as die ANC self.  Onder Mmusi Maimane het die DA opgehou om ’n denkleier te wees;  hy is nou ’n denkenavolger.

In die derde plek is die feit dat die DA gedwing is om dit te doen die gevolg van twee goed.  Eerstens, die toenemend teenintellektuele aard van die partyleierskap – naweekverslae berig dat Mmusi Maimane vir diegene wat hieroor wou debatteer gesê het om te ‘shut up’.  Tweedens, die politieke swakheid van die party, intern en ekstern.

Dié feit word bewys deur Maimane se eie posisie.  Hy het in Februarie 2018 verklaar dat ‘ons ’n algehele verandering in bemagtigingsbeleide nodig het, om weg te beweeg van rasgebaseerde beleide wat geleentheid bied tot verryking van die elite, na beleide wat die stelsel van ontneming wat steeds  miljoene Suid-Afrikaners in armoede vasvang fundamenteel afbreek’.  Hy kon nie sy party dra, sy eie argument wen of met enige oortuiging opstaan vir die beginsel wat hy gestel het nie.  Dit is nie leierskap nie, dit is lafhartigheid.

Maimane se beleidsweersprekings is veelvoudig en uiteenlopend.  Indien ’n leier ’n gebrek het aan intellektuele duidelikheid en morele gesag, is die onvermydelike gevolg interne verwarring en verdeling.  Indien jy nie dié verwarring kan beheer nie, is die gevolg outoritarisme en die sensorskap van bespreking, nog ’n kwellende interne DA-tendens.

By wyse van toeligting:  Vierdens, volgens die openbare rekord lyk dit asof daar hoegenaamd geen debat oor bemagtiging binne die DA was nie, maar slegs ’n reeks besprekings oor of daar in die eerste plek ’n debat moes plaasvind.  Daar was skynbaar geen beleidsalternatief vir bespreking by die Federale Raad voorgelê nie.  As ’n mens persverslae kan glo, het die party trouens ’n manifes daargestel nog voordat hy die beleide aanvaar of gelewer het wat kenmerkend so ’n dokument ondersteun.

In Augustus het die DA in die openbaar verklaar dat sy beleidseenheid ‘’n mandaat om aan alternatiewe modelle van bemagtiging te werk’ ontvang het.  Hy het oor sy benadering tot BGSEB in Augustus gesê:  ‘Ons sien daarna uit om ons hersiene beleidsplatform voor die 2019-verkiesing aan te kondig.’  Maar persverslae hierdie naweek oor die ontwikkelings in die Federale Raad meld niks van so ’n alternatief wat ter tafel gelê is nie, maar eerder dat enigiemand wat sodanige debat wou voer, aangesê is om ‘stil te bly’, en dat ’n manifes wat die ANC se model van BGSEB uitsonder eerder aanvaar is.

Niemand sal aanvoer dat n debat oor ras, vir enige politieke party, ’n maklike debat is nie.  En niemand kan vir die DA ’n beleid voorskryf nie; hy moet getrou wees aan sy eie aard of karakter.  Die probleem is dus sy karakter, of die gebrek daaraan.  Die feit is dat die DA homself nie eens sover kon kry om ’n beleid te ontwikkel of daaroor te debatteer wat hom van die ANC sou onderskei en sy eie leier  se openbare rigting sou verstewig nie.  Wanneer ’n party nie eens oor ’n saak kan debatteer nie, is dit wanneer politieke dood intree.  Dit begin intern, met die sluiting van debat, voordat dit ekstern versprei.  Al wat uiteindelik oorbly is ’n leë, hol dop. 

Amper erger is dat the DA later aangevoer het dat enigiemand wat krities is teenoor ‘n beleid rasgebaseerde bemagtiging en regstelling ‘n rasis is. Maar dit geld dan vir die groot meerderheid van die DA se stembasis! Dit is pure rasse-nasionalieste arrogansie om te dink dat jy jou eie ondersteuners so in die gesig kan vat. Maar die DA glo vas dat hy hiermee sal wegkom omdat sy ondersteuners geen ander politieke heenkome het nie. Tensy die DA sy kwellende ideologiese rigting verander, sal dié kiesers wat ’n werklike alternatief tot die ANC se rasse-ideologie soek gou genoeg gedwing word om elders te soek.

Frans Cronje is die hoof- uitvoerende beampte van die IRR. As jy saamstem met wat jy gelees het en saam druk op die DA wil plaas om rasgebaseerde beleid te laat vaar dan versprei die artikel so ver as moontlik, sluit by ons aan, leef vry, en SMS jou naam na 32823 of besoek www.irr.org.za

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-da-hensop-weer-vir-die-anc/

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi