Deur Frans Cronjé
Wie is die vyande van transformasie?
Die vraag het opgeduik by ’n onlangse vergadering van die Black Management Forum waar die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), waarvan ek die hoof is, as “ ’n vyand van transformasie” deur Jimmy Manyi, president van die Progressive Professionals Forum (PPF), beskryf is.
Die PPF is ’n vermeende frontorganisasie van die ANC wat daargestel is om die uitvloei van swart middelklasondersteuning van die ANC te stuit. Dié organisasie moet glo druk op jong swart professionele persone plaas om hulle met die party te vereenselwig as hulle in die sakewêreld wil vorder.
Die SAIRV se verset teen regstellende aksie en “bemagtiging”, soos deur die ANC toegepas, is welbekend. Ons standpunt is dat hierdie beleide eenvoudig ’n wyse is om ’n klein groepie sakeleiers met (die regte) politieke verbintenisse en korrupte staatsamptenare te verryk. Hulle bied niks aan die armes en werkloses nie. Terwyl meer as R500 miljard oor die afgelope twee dekades aan “bemagtigingstransaksies” bestee is, het die hoeveelheid werklose mense trouens van 3,6 miljoen tot 8,3 miljoen toegeneem. Meer as die helfte van hedendaagse jong mense is vandag werkloos en hulle sal, deels weens die vernietigende investeringsimpak van die SEB, arm en desperaat bly terwyl ’n klein swart elite rondom hulle by die wit elite van die apartheidsera aansluit.
Wat die ANC en Manyi “transformasie” noem, is nie transformasie nie. Dit is eerder bemagtiging van die rykes wat dikwels ten koste van die armes plaasvind. Dit is ’n beleid wat sê dat die politieke elite hul namens arm mense verryk. Dit is beledigend en rassisties in die lig daarvan dat die groot meerderheid van die armes swart is.
In plaas daarvan het ons eerder ’n bemagtigingsbeleid nodig wat die armes in ’n posisie plaas om werk te vind, hul kinders na goeie skole te stuur, entrepreneurs te word en rykdom op te bou.
Ons moet duidelikheid kry oor wie die werklike vyande van transformasie is.
Dit is die maatskappye wat omkoopgeld betaal om opgedrewe staatstenders te bekom en sodoende sowat R30 miljard per jaar van die mense van Suid-Afrika steel. Dit is die raadslede wat hul vriende en familie in senior poste aanstel terwyl waterpompe breek en vullis nie verwyder word nie. Dit sluit die sakeleiers in wat sê dat hulle regstellende aksie ondersteun, maar dan swart personeel aanstel in poste met geen verantwoordelikheid nie. Dit is die tenderpreneurs wat Nkandla gebou het en die amptenare wat die kontrakte aan hulle toegeken het. Dit sluit ook die polisiemanne in wat die betogende mynwerkers by Marikana geskiet het en die amptenare en politici wat hulle daarheen gestuur het.
Die staatsamptenare wat omkoopgeld vra van beleggers en dan hul fabrieke in ander lande gaan bou, is vyande van transformasie. So is ook die verpleegsters wat pasiënte in die strate buite staatshospitale laat sterf. Dit is ook onderwysunies wat voor matriekeksamens staak. En kabinetsministers wat poste in toerisme vernietig. Dit is amptenare wat sterk grondhervormingseise vertraag, kaders wat die openbare beskermer intimideer, die onafhanklike media dreig en hofbevele ignoreer. Dit is behuisingsdepartementpersoneel wat behoeftige pensioentrekkers in ellende laat sterf terwyl regspraktisyns van die regering in die howe bly kibbel en die metropolisie wat straatverkopers se stalletjies afbrand.
Hierdie mense is almal vyande van transformasie en tog is elkeen van hulle ’n voorbeeld van die ANC se voortdurende “transformasie”-beleid.
Lees die artikel hier.