Vuurwapens ’n saak van jou burgerregte – Rapport, 16 August 2015

Pres. Jacob Zuma het onlangs, onder politieke druk en om aandag aan die polisiemoorde te gee, voorgestel dat Suid-Afrika “ontwapen” word.

Deur Frans Cronjé,

Pres. Jacob Zuma het onlangs, onder politieke druk en om aandag aan die polisiemoorde te gee, voorgestel dat Suid-Afrika “ontwapen” word.

Wat hy bedoel, is dat beslag gelê word op vuurwapens wat regtens deur gewone mense besit word, terwyl hy en sy politieke trawante in gepantserde luukse voertuie rondry, omring deur gewapende lyfwagte.

Die wêreldwye teenvuurwapendrukgroep is welbekend vir sy analitiese oneerlikheid, manipulasie van die vrees vir geweld en siniese uitbuiting van menslike tragedie om ideologiese en politieke doelwitte te verseker. Dit beteken dat sportskuts, jagters en gewapende burgerlikes hul stem dik moet maak en feit-gegronde argumente moet gebruik as verweer.

Dit is nie nodig om private vuurwapenbesit in Suid-Afrika verder te beperk nie aangesien huidige vuurwapenwetgewing (wat kort ná die eeuwending in werking gestel is) van die strengste ter wêreld is.

Daar word van vuurwapeneienaars verwag om veeleisende agtergrondkontroles te deurstaan. Hulle moet voorgeskrewe teoretiese en praktiese opleiding voltooi en eksamens skryf. Daar word beperkings geplaas op die aantal en soort vuurwapens wat hulle mag besit en elke lisensie moet afsonderlik gemotiveer word. Hierbenewens verval vuurwapenlisensies volgens vasgestelde tydperke toegeken, waarna heraansoek gedoen moet word.

Tensy private vuurwapeneienaarskap heeltemal verbied word, verteenwoordig Suid-Afrika nou die wêreldwye “goudstandaard” ten opsigte van die regulering van private vuurwapenbesit.

Boonop word vuurwapenverwante oortredings heeltemal toereikend deur bestaande wette en regulasies hanteer. Vuurwapeneienaars word streng strawwe vir nalatige hantering en berging van vuurwapens opgelê. Kriminele oortredings wat met vuurwapens gepleeg word, word ernstig gestraf.

Wat die teenvuurwapen-aktiviste nie verstaan nie, is dat Suid-Afrika se probleem van strafbare geweld nie deur nuwe wette opgelos sal word nie, maar deur die doeltreffende toepassing van die bestaande wette.

In ’n beleidsdokument oor vuurwapenregulering wat in 2011 gepubliseer is, het ons aangedui hoe Suid-Afrika se moordsyfer in die vyf jaar ná die instelling van die streng nuwe vuurwapenwet met 18% afgeneem het. Ons kon egter ook toon dat dit in die vyf jaar tevore met die selfs hoër syfer van 25% afgeneem het. Ons kon ook aandui hoe die waarskynlikste soort misdaad wat met vuurwapens gepleeg word, soos gewapende roof by huise en ondernemings, met meer as 100% toegeneem het nadat die nuwe wette ingestel is. Dié soort misdaad neem steeds toe. Daar is geen bewyse dat die nuwe vuurwapenwet enige impak op die algemene vlakke van geweldsmisdaad gehad het nie.

Vuurwapenbesit in Suid-Afrika moet as ’n burgerregtesaak beskou word. Dit staan sportskuts en jagters vry om hul sport te beoefen. Daar is nêrens in die wêreld enige bewys dat sportskuts misdaad veroorsaak nie. Insgelyks het jy alle reg om enige wettige metode aan te wend om jou eiendom en familie teen misdadigers te beskerm.

Die staat en teenvuurwapendrukgroepe wil jóú die misdadiger maak wanneer die enigste oplossing vir die probleem van geweldsmisdaad is om bestaande wetgewing behoorlik toe te pas.

Dit is skrikwekkend hoe sommiges te kere gaan dat die staat ons burgerlike vryheid aan bande moet lê, terwyl die probleem die staat self is.

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Copyright | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors