Verskillende volke maak juis ons nasie sterk – Rapport, 21 December 2015

Ek het twee weke gelede geskryf oor Lizzie van Zyl, die Boeredogtertjie wat in Mei 1901 in ’n Bloemfonteinse konsentrasiekamp aan verhongering gesterf het op die ouderdom van sewe jaar.

Deur Frans Cronjé, 

Ek het twee weke gelede geskryf oor Lizzie van Zyl, die Boeredogtertjie wat in Mei 1901 in ’n Bloemfonteinse konsentrasiekamp aan verhongering gesterf het op die ouderdom van sewe jaar.

Haar geval het die aandag getrek omdat ’n foto van haar uitgeteerde liggaam kort voor haar dood geneem is.

Die gedagte aan ’n kind wat alleen sterf terwyl haar vader op kommando is en vir die vryheid van sy mense veg, maak allerlei emosies gaande. Ek wil beweer dat as jy ’n Afrikaner is, hierdie emosies selfs meer intens is. As jy lank genoeg na haar foto kyk, sal jy weet wat ek bedoel.

Hiermee wil ek nie voorgee dat ander mense nie ook groot empatie met die sterwende kind kan hê nie. Maar dit is anders as dit een van jou eie mense is wat in die stryd om vryheid van koloniale onderdrukking gesterf het. Sy was deel van jou en daarom voel jy haar lyding en dood meer intens aan. Mense wat nie Afrikaners is nie, moet dit respekteer.

Hiermee impliseer ek dat ons nie almal dieselfde is nie. Ons het verskillende kulturele norme, verwagtinge en geskiedkundige ervarings wat bygedra het tot wie ons vandag is.

Ek kan byvoorbeeld nie dink dat ’n Afrikaner daartoe in staat is om presies dieselfde diepte van emosie as swart Suid-Afrikaners te beleef wanneer hulle byvoorbeeld aan foto’s van die gestorwenes by Sharpeville blootgestel word nie. Dit beteken nie dat Afrikaners nie verleë genoeg oor hul verantwoordelikheid vir dié slagting is nie.

Daar is baie wit mense wat daarop aanspraak maak dat hulle die leed van swart mense verstaan, net soos baie nie-Afrikaners sal verklaar dat hulle die emosies verstaan wat deur die dood van Lizzie van Zyl gaande gemaak word.

Maar ek glo hulle nie. Ek dink, trouens, dit is kwetsend wanneer wit mense sê dat hulle die lyding van swart mense “verstaan”. Hulle is nie swart nie en daarom kan hulle nie weet hoe swart mense lyding ervaar nie. Hulle moet eerder swart lyding, geskiedenis en ikone met respek bejeën en dit daar laat – veral tot die mate waarin wit mense hierdie lyding veroorsaak het.

As ek reg is, bestaan die “reënboognasie” as ’n multikulturele smeltkroes nie werklik nie – behalwe in sommige geïsoleerde gevalle. Ek wil verder gaan en sê dat ons die idee moet verwerp dat ons eenders moet word. Dit is ook gevaarlik omdat dit die deur vir die sosialistiese doktrine oopmaak dat ons gelyk moet wees in hoe ons dink, voel en optree.

Rasse- en kulturele blindheid moet vervang word met ’n diepe rasse- en kulturele bewustheid. Wanneer ons eerlik genoeg word om te erken dat ons van mekaar verskil, beteken dit nie dat ons sê Suid-Afrika het misluk nie.

Ek dink trouens ons moet eerder erken daar is verskille wat nie oorkom kan word nie, maar dat dit nie ’n rede is wat ons belet om almal saam te werk om ’n wonderlike land te bou nie.

Dit was tog die voorbeeld van Suid-Afrika se grootste staatsman, Jan Smuts, wat sy smart en woede ná die Boereoorlog ter syde kon stel om ’n sterk bondgenootskap met Brittanje te bou, by twee Britse oorlogskabinette aan te sluit, ’n vertroude raadgewer van Winston Churchill en later die kanselier van die Universiteit van Cambridge te word terwyl hy nooit sy Afrikaner-identiteit prysgegee het nie.

Ons sal nooit een volk wees nie, maar ons kan ’n wonderlike nasie wees as ons hierdie voorbeeld volg.

Lees die rubriek in Rapport hier

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Copyright | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors