Deur Frans Cronje
Apartheid is besig om van anderkant die graf af terug te keer en kan nog daarin slaag om sy oorspronklike doel te verwesenlik.
Ná 1994 het dit gelyk asof die stelsel omvergewerp is. Die regering het die sinvolle ekonomiese beleid Gear aanvaar, rentekoerse en skuldvlakke is gehalveer en die groeikoerse het kortstondig 5% van die bruto binnelandse produk (BBP) oorskry. Die resultaat was ’n massiewe verbetering in die lewenstandaard-, onderwysprestasie- en werkverskaffingsvooruitsigte vir swart Suid-Afrikaners.
Maar dit het nou verander. Die ANC se pragmatiese leierskap is in 2007 by die party se Polokwane-konferensie verwerp. Die kommuniste in die party het die rigting van die makro-ekonomiese beleid verander en die verligte ekonomiese denkwyse wat post-1994 se ekonomiese herstel moontlik gemaak het, was daarmee heen.
Arbeidswette is strenger gemaak, wat dit moeiliker en duurder gemaak het om minder geskoolde werkers in diens te neem. Maatskappye en beleggers is met meer drakoniese bemagtigings- en diensbillikheidsvereistes gedreig.
Verhoudinge met Westerse nasies het versleg namate dié kommuniste teen hulle gedraai het. Eiendomsregte is deur ’n meer aggressiewe en hebsugtige politieke elite bedreig wat daarop begin sinspeel het dat myne en banke genasionaliseer moes word en dat grond sonder vergoeding afgeneem sou word.
Saam met die wêreldwye finansiële krisis en latere kommoditeitskrisis was die gevolg dat ekonomiese groei verlangsaam het en werkskepping gestaak is.
Die regering het desperaat begin om roekeloos geld te leen om maatskaplike welsyn en ’n groeiende staatsdiens te finansier. In net sewe jaar het die regering daarin geslaag om sy skuldvlakke te verdubbel, terwyl sy groeivlakke van meer as 5% tussen 2005 en 2007 tot onder 2% tussen 2013 en 2015 verminder het.
Die resultaat was voorspelbaar. Die opwaartse ekonomiese trajek het omgeswaai, en Suid-Afrikaners word armer.
Die kabinet, gegrief dat die ekonomie nie na wense gepresteer nie, het tot rassewaansin oorgegaan. Die departement van handel het nou voorgestel dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) se eiendomsreg-teikens tot 51% opgestoot moet word, wat impliseer dat daar geen ondernemings in wit of buitelandse besit kan wees nie. Die minister van arbeid het tien dae gelede gedreig dat sakeondernemings met tot 10% van hul omset beboet kan word as hulle nie aan rasse-indiensnemingsteikens voldoen nie. Die minister van mynbou het verlede maand eensydig voorgestel dat mynboumaatskappye SEB-eienaarskapteikens van 26% moes handhaaf. Die minister van grondsake het pas advertensies in koerante geplaas dat 50% van alle plase aan swart mense weggegee moet word. Die minister van sport het die gekke rasgedrewe verbod op rugby- en kriekettoernooie aangekondig.
Die enigste slotsom waartoe gekom kan word, is dat daar agter hierdie aankondigings ’n diepgewortelde onsekerheid skuil. As wit mense dus nie aktief verhinder word van deelname aan die ekonomie nie, sal swart mense nooit vry wees nie.
Die vrees en wrewel teenoor wit Suid- Afrikaners sal daartoe lei dat die regering massiewe ekonomiese skade aanrig wat lewenstandaarde laat val en die meerderheid swart Suid-Afrikaners verdoem tot ’n toekoms van armoede en mettertyd afhanklikheid van die hulp wat deur buitelandse donateurs in Europa en Amerika voorsien sal word.
Dit is in wese wat die argitekte van apartheid swart Suid-Afrikaners toegewens het – om afhanklik en sonder enige werklike ekonomiese en politieke invloed te wees – hoewel ek nie dink dat hulle verwag het dat dit ’n swart regering sou wees wat dié wens verwesenlik nie.
Lees die rubriek in Rapport hier.