Deur Frans Cronjé
Die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het vroeër vanjaar ’n boek gepubliseer oor die volgende tien jaar vir Suid-Afrika. In die boek word gewaarsku dat, indien die regering nie beleidsbesluite neem om regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging af te skaf, eiendomsreg te beskerm en die arbeidsmark te dereguleer nie, daar geen moontlikheid is dat hy die beleggings kan verkry om die nodige ekonomiese vooruitgang te bewerkstellig en werk te skep wat aan die verwagtinge van hul arm, swart ondersteuners sal voldoen nie.
As werkgeleenthede nie geskep word nie, sal lewenstandaarde stagneer namate teenregeringsprotes toeneem en steun vir die ANC in duie stort.
In die tyd sedert die boek geskryf is, lyk dit asof die regering alles in sy vermoë gedoen het om belegging te verhinder, werkgeleenthede te vernietig en die ekonomiese prestasie van die land te skaad. In sake wat wissel van ons waansinnige nuwe migrasiebeleid tot verdere arbeidsmarkregulasies lyk dit asof die regering daarop ingestel is om sy eie politieke ondergang te verseker.
Een van die beste resensies van die boek is deur Steve Hofmeyr geskryf en op sy webwerf gepubliseer. In dié resensie vra hy die baie belangrike vraag waarom die regering goeie raad ignoreer en dinge bly doen wat die land benadeel. Die antwoord is in die volgende twee verhale opgesluit.
Die eerste storie handel oor teorie en praktyk en lui soos volg: ’n Seun kom van die skool af huis toe en sê vir sy pa die onderwyser het vir hom gesê hy moet die volgende dag voor die klas staan en die verskil tussen teorie en praktyk verduidelik – en kan sy pa hom met hierdie huiswerk help?
Die pa sê ja en sê die seun moet sy ma gaan vra of sy vir R1 miljoen by Steve Hofmeyr sal slaap. Die seun kom terug en sê vir sy pa die ma sê ja, sy dink sy sal. Hy sê toe vir die seun hy moet sy suster ook gaan vra. Hy kom toe weer met ’n “ja”-antwoord terug. Die pa, wat dit vermoed het, sê toe: “Jy sien, my seun, teoreties behoort ons miljoenêrs te wees, maar in die praktyk leef ons hier met twee hoere in die huis.”
Die huidige regering en die ondersteuners van sy sosialistiese en kommunistiese idees is net so. Hulle redekawel oor wat “teoreties” behoort te gebeur, maar ignoreer die praktiese gevolge van hul dade.
Die tweede storie gaan oor die skerpioen en die padda op die rivieroewer. Die skerpioen kom vra vir die padda of hy hom op sy rug na die ander kant van die rivier sal dra. Die padda sê nee, want hy is bang die skerpioen sal hom steek. Die skerpioen se teenargument is dat hulle albei sal verdrink as hy die padda sou steek. Die padda sien die logika hiervan in en sê die skerpioen moet opspring. Halfpad oor die rivier steek die skerpioen egter wel die padda. Terwyl hulle albei aan die verdrink is, vra die padda met sy laaste asem vir die skerpioen waarom hy so ’n vernietigende ding gedoen het. Die skerpioen antwoord: “Ek is ’n skerpioen en dit is wat skerpioene doen.”
Die ANC is in baie opsigte ook so. Sosialisme en kommunisme is so diep in sy wese verstrengel dat hy, selfs wanneer hy sy eie politieke ondergang bewerkstellig, sal voortgaan om op ’n byna berekende wyse op te tree om sy politieke dood te verhaas.