Só word SA tree vir tree gelei na sosialisme – Rapport, 29 March 2015

Party kritici sê ons ontleding is verkeerd en daar word geen poging aangewend om Suid-Afrika na sosialisme te lei nie. Maar die huidige beleidsrigting is duidelik sosialisties van aard en word deur die toenemende invloed van die SAKP gedryf. 40% van die kabinet is inderdaad lede van dié party en nie een van hulle ontken dat ons ont­leding reg is nie.

Die SAKP het op sy kongres in 1989 ’n strategie­dokument genaamd “The Path to Power” aanvaar. In die laaste dae van die Koue Oorlog het dié dokument uiteengesit hoe die ANC-geleide alliansie Suid-Afrika se toekomstige demokratiese oorgang moes manipuleer om die land ’n kommunistiese diktatuur te maak. Dié strategie realiseer vandag in Suid-Afrika.

Die openingsparagrawe van “The Path to Power” stel sy oogmerke soos volg: “Die tydperk vorentoe is gelaai met revolusionêre potensiaal en uitdagings. In hierdie program stel die SAKP ( . . .) ons strategiese benadering tot die stryd om nasionale onderdrukking te beëindig en sosialisme te bevorder, met die einddoel om kommunisme in Suid-Afrika te bou.” Die geskrif het dit onomwonde gestel dat die oorkoepelende doelwit “die vestiging van ’n sosialistiese Suid-Afrika” was, “om die grondslag vir ’n klaslose, kommunistiese samelewing te lê”.

Oor hoe dit gerealiseer moet word, lui die strategie dat “transnasionale korporasies die skokmag van neokolonialisme in die ontwikkelende lande is” en dat dit nodig sou wees om “oorheersing deur buitelandse kapitaal uit te wis”.

Dit is presies wat ons vandag in Suid-Afrika sien, met beleide wat wissel van nuwe migrasieregulasies wat geprakseer word om buitelandse vaardighede uit te skakel tot dreigemente om buitelandse beleggers volle eiendomsregte te ontsê.

Die dokument vermeld ook dat die plaaslike private sektor vernietig sou moes word om “gewone beheer oor die noodsaaklike sektore van die ekonomie te verseker”. Hierdie beheer sou net verkry kon word “deur middel van die voortdurende versterking van die staatsektor in mynbou, swaar nywerhede, banke en ander alleenhandel-bedrywe” ten einde die staat toe te laat “(om) die algemene parameters van ekonomiese aktiwiteit af te baken”. Dit is weer eens wat ons vandag sien, van die mynboubeleid tot aanvalle op intellektuele eiendomsreg, wat volgens berekening die weg moet baan tot die regering se verklaarde doel van ’n staatsbeheerde farmaseutiese sektor.

Die “instel van toenemende grondhervorming” het baie aandag in die dokument getrek. Dit het klem geplaas op die verwydering van wit boere. Kommuniste het nog altyd verstaan as jy eiendomsreg ontneem, sal individuele regte volg.

’n Onlangse konsepwet wat die staat sou toelaat om enige eiendom met kennisgewing te onteien, saam met die Wet op Eiendomswaardering, wat die regering sou toelaat om oor die waarde van die eiendom wat onteien gaan word te besluit, is voorbeelde van hoe die eiendomsregkomponente van die pad na mag-strategie ingestel word.

Dit is tekenend dat die dokument “massa-aksie” identifiseer as die doeltreffendste manier om ’n kommunistiese oorwinning te verseker. Hulle skryf: “Hoewel die ‘presiese oomblik’ van magsoorname afhang van objektiewe sowel as subjektiewe faktore, kan daar geen twyfel bestaan dat die optrede van die massas ( . . .) die aanbreek van daardie oomblik verhaas nie.”

Vandag skep honderde openbare protesoptredes per jaar presies die onstabiele omgewing wat die skrywers van “The Path to Power” besef het die staat sou nodig hê vir regverdiging om beheer van grond en sakeondernemings te neem.

Party kritici sê ons ontleding is verkeerd en daar word geen poging aangewend om Suid-Afrika na sosialisme te lei nie. Maar die huidige beleidsrigting is duidelik sosialisties van aard en word deur die toenemende invloed van die SAKP gedryf. 40% van die kabinet is inderdaad lede van dié party en nie een van hulle ontken dat ons ont­leding reg is nie.

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Copyright | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors