Slim plan agter ANC-regering se ‘dommighede’ – Rapport, 27 September 2015

Oct 05, 2015
The Economist skryf onlangs dat die ANC se buitelandse beleid dui op mense wat “geen benul het nie”.

Deur Frans Cronjé

The Economist skryf onlangs dat die ANC se buitelandse beleid dui op mense wat “geen benul het nie”.

Ek wonder egter of dié besluite, wat met die eerste oogopslag lyk asof dit geneem word deur ’n regering wat geen benul het nie, nie meer sinistere ondertone het nie. Kom ons kyk maar na ’n paar onlangse voorbeelde om dié punt te staaf.

Die ANC-regering het gesê buitelanders moenie meer die geleentheid hê om eiendom in die land te besit nie.

Dom, sê die ontleders, aangesien dit belegging sal ontmoedig.

Die ANC het toe voorgestel dat die deel van die veiligheidsbedryf wat in buitelandse besit is genasionaliseer moet word en minstens 51% van elke onderneming in buitelandse besit in Suid-Afrikaanse hande moet wees. Ons het hierna gewaarsku dat dit “breër verinheemsingsbeleide soos in Zimbabwe kan inlui”.

Dom, het die ontleders gesê, omdat so ’n stap belegging en groei aan bande sal lê en sodoende werkskepping sal skaad.

Die ANC het toe wette aanvaar om toegang tot Suid-Afrika baie moeiliker vir buitelandse reisigers te maak en die verkryging van buitelandse werkpermitte ingewikkelder te maak.

Weer eens het die hoofstroom-ontledings gedui op ’n regering wat “geen benul het nie” en die ontwikkeling van toerisme – en die invoer van hoogs noodsaaklike vaardighede – bedreig.

Nou het die ANC voorgestel dat dubbelburgerskap verbied word. Dié saak is ver van verby ondanks verskeie politici se ontkenning van so ’n beleid.

Weer eens dui die ontleding op ’n “dom” regering wat die noodsaaklike vaardighede en ondervinding vir die groei van die ekonomie verdryf.

Maar wag ’n bietjie. As jy die verband tussen die dinge probeer vind, kom ’n heel ander prentjie aan die lig.

Ons ontleding is dat die ANC dalk hier ’n langtermyn- strategiese spel speel.

Hulle vestig eers die idee dat buitelanders nie eiendom behoort te besit nie. Dan begin hulle met die proses om dit vir buitelanders moeiliker te maak om ondernemings te besit. Daarna maak hulle dit vir buitelanders moeilik om die land binne te kom of werkpermitte te verkry. Dan sê hulle burgers met dubbele burgerskap moet net een paspoort kies – en dus “buitelanders” word.

Dit verg werklik nie ’n dinkskrum vol ontleders om uit te pluis wat hier aan die gang is nie. Die ANC probeer die middelklas en buitelandse beleggers uit die land dwing. Of as hulle besluit om te bly hulle kwesbaar te laat teenoor die ergste gruwels van ’n toenemend roofsugtige staat.

Kritici sal vra waarom die ANC dít sal doen, aangesien dit die ekonomie sal skaad. Dit is so – en die ekonomiese skade sal aansienlik wees – maar dit beteken nie noodwendig dit sal die ANC benadeel nie. Die teenoorgestelde kan trouens die geval wees: Die ANC slaan munt uit anti-wit- en anti-Westerse nasionalisme om sy kwynende ondersteuning op te kikker.

Baie van die onafhanklike middelklas verlaat die land of is kwesbaar vir plundering deur die staat, wat dit vir die party baie makliker maak om meningsverskil of weerstand teenoor sy toenemend skadelike agenda te hanteer. Jy sien, die onafhanklike middelklas is ’n bedreiging vir drakoniese stelsels.

So ’n middelklas genereer die idees en finansier die stelsel wat politieke opposisie en burgerlike gemeenskapsaktivisme ondersteun. Dit is waarom kommuniste altyd eerste die intellektuele en joernaliste toesluit en mense van hul eiendom en private ondernemings ontneem.

Lees die berig hier

Support the IRR

If you want to see a free, non-racial, and prosperous South Africa, we’re on your side.

If you believe that our country can overcome its challenges with the right policies and decisions, we’re on your side.

Join our growing movement of like-minded, freedom-loving South Africans today and help us make a real difference.

© 2023 South African Institute of Race Relations | CMS Website by Juizi