SEB bevoordeel slegs die elite – swart én wit – Rapport, 24 April 2016

Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie is bedrog wat teen die armes gepleeg word, en dit geniet baie min algemene ondersteuning onder ­gewone mense.

Deur Frans Cronjé

Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie is bedrog wat teen die armes gepleeg word, en dit geniet baie min algemene ondersteuning onder ­gewone mense.

Dit was die gevolgtrekking in ’n verslag gegrond op ’n nasionale steekproef wat ons vroeër hierdie maand ­gepubliseer het.

Ons het mense gevra wat die beste ­manier sou wees om hul lewe te verbeter. Dit was ’n ope vraag en geen antwoorde is voorgestel nie.

Byna 80% het gesê dat meer werkgeleenthede en beter onderwys die antwoord is. Minder as 5% het meer reg­stellende aksie en swart ekonomiese ­bemagtiging voorgestel. Slegs 2,2% het grondhervorming as antwoord gegee.

’n Baie interessante ding het gebeur toe ons mense oor hul eie ondervinding van regstellende aksie en swart bemagtiging uitgevra het. Ons het byvoorbeeld spesifiek gevra of SEB arm swart mense help, waarop amper 60% van Suid-Afrikaners ja geantwoord het.

Daarna het ons gevra of SEB “mense in u gemeenskap” gehelp het, waarop slegs 40% ja gesê het.

Toe het ons verder gegaan en gevra of “SEB u persoonlik gehelp het”. Hierop het net 12,8% van mense ja gesê.

Uiteindelik het ons gevra of “ ’n SEB-tender aan uself toegeken is”, waarop 10,5% ja geantwoord het.

Die resultate is interessant omdat dit wys Suid-Afrikaners dink SEB help mense omdat hulle voorgesê is dat dit die geval is. Die pro-SEB-propaganda wat deur ­sakeleiers en politici verkondig word, het daartoe gelei dat mense sê hulle ondersteun die beleid selfs al het hulle nooit enige voordeel daaruit ontvang nie.

Toe ons die resultate volgens ras ontleed, het dit selfs bedriegliker geblyk. Hier het ons gevind dat wit mense net so waarskynlik aan SEB-transaksies deelneem om SEB-tenders te bekom as swart mense. In antwoord op die vraag “het uself ’n SEB-tender ontvang?” het 11,5% van swart mense ja geantwoord, maar 10% van wit mense het ook ja gesê.

Dit is waarom dit so moeilik is om wit sakeleiers sover te kry om weerstand teen die beleid te bied, omdat hulle ­daardeur bevoordeel word.

Dink net hoeveel geld regs- en ouditeursfirmas en banke al gemaak het uit die strukturering van SEB-transaksies en die ouditering van SEB-voldoening.

Kyk net hoeveel SEB-adviseursfirmas deur wit mense bedryf word. ’n Kliënt wat ’n SEB-seminaar bygewoon het, vertel van hoe wit SEB-adviseurs swart bestuursamptenare onderrig het oor hoe hul ondernemings aan SEB-voorwaardes kan voldoen. Dit is ’n groteske voorbeeld van Suid-Afrika se bemagtigingsbeleide soos dit in die realiteit werk.

Ek wonder of die wit gemeenskap nie op stuk van sake meer voordeel as swart mense uit SEB trek nie? Party politici kan natuurlik saamstem en sê dat ons om hierdie rede SEB nog strenger moet maak – soos deur nuwe regulasies wat tans deur die staat ontwikkel word om druk op eienaars van ondernemings te plaas om hul SEB-eienaarskapvlak tot 51% te verhoog. Dit gebeur egter al langer as ’n dekade en elke keer dat die reëls verander, maak die konsultante en prokureurs nog meer geld.

As land het ons wat bemagtiging en regstelling betref ’n situasie van totale ­ommekeer bereik. Terwyl die politieke en sake-elite ryk word uit SEB, sterf kinders in arm, swart woonbuurte omdat die plaaslike watersuiweringsaanleg stukkend is of omdat daar geen bekwame mense is om dit reg te maak nie.

Die beleid wat veronderstel is om arm, swart mense te help, benadeel in die werklikheid hul lewenstandaarde, terwyl die banke, ouditeurs en konsultante – wit en swart – hand oor vuis geld maak.

Lees die rubriek in Rapport hier

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Copyright | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors