Deur Frans Cronjé
Ondanks al die beloftes in Donderdagaand se staatsrede het pres. Jacob Zuma nagelaat om te noem dat die regering se geld aan die opraak is en dat die fiskale tekort terug is by vlakke laas ná die Soweto-opstand van 1976 gegeld het.
Dié tekort sal die meerderheid van Zuma se beloftes beduiwel.
’n Verslag wat ons vroeër vanjaar uitgereik het, wys dat staatsinkomste in verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP) toegeneem het van 19,6% in 1976 tot 21,9% ten tye van die 1994-oorgang. Dié syfer het sedertdien opgeskiet en daar word nou geprojekteer dat dit teen 2015 29,7% sal wees. Dit beteken dat die ANC-regering ná 1994 ’n al hoe groter wordende deel van die geld wat die land se ekonomie genereer, as belasting afskep. Staatsuitgawes, ook uitgedruk in verhouding tot BBP, het selfs vinniger gestyg. Dié syfer het in 1994 op 26,4% gestaan voordat dit in die middel-2000’s tot 24% van BBP gedaal het. Sedertdien het staatsbesteding skerp gestyg en daar word verwag dat dit teen 2016 byna 34% van BBP sal bereik.
Die verskil tussen die staat se inkomste en sy besteding is die fiskale tekort. Dié syfer was -5,9% van BBP ná die 1976-opstand. Dit het in die laaste apartheidsjare by relatief hoë vlakke van tussen -4% en -5% gebly terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie deur lae groeikoers, sanksies en disinvestering geteister is. In 1994 was dit -4,5%. Die konserwatiewe makro-ekonomiese bestuur van die Mbeki-era het dié syfer vir die grootste deel van die tydperk van 1999 tot 2008 tot onder -2% laat daal. In twee van hierdie jare het die regering selfs begrotingsoorskotte aangeteken.
Ná 2009 het die tekort vinnig toegeneem om in 2012 ’n toppunt van -5,3% te bereik. Volgens staatsprojeksies sal die tekort verminder tot -3,6% teen 2015-’16. Hierdie projeksies is egter gegrond op BBP-groeisyfers wat hopeloos te optimisties is. Ons voorsien dat die tekort by vlakke van naastenby -5% van BBP sal bly.
Net soos in enige huishouding het die regering drie opsies om uit die moeilikheid te kom. Die eerste is dat hulle die geld wat hulle nodig het om hul beloftes na te kom, kan leen. Dit is egter nie in Suid-Afrika se geval ’n langtermynopsie nie. Die staat se skuldvlakke in verhouding tot BBP het oor die afgelope dekade byna verdubbel en nader nou die situasie wat die ou NP-regering in die laaste apartheidsjare moes trotseer.
Die tweede opsie is dat die regering minder kan bestee. Dit is egter nie polities haalbaar nie. Amper 60% van die staatsuitgawes gaan aan welsyn en dienste wat wissel van welsynstoelae tot gratis of gesubsidieerde onderwys, behuising, water en elektrisiteit. Dit is onmoontlik om daarop te besnoei sonder om ’n regstreekse politieke terugslag te ondervind. Al wat die staat kan doen, is om kapitaalbesteding aan infrastruktuur soos nuwe paaie, hawens en kragsentrales te verminder.
Die derde opsie is dat die regering die ekonomie kan laat groei. Sy beleide is egter so vyandig teenoor beleggers dat Suid-Afrika vasgevang is in ’n lae-groei-valstrik van omtrent 2% van BBP.
Die ironie is dat die land laas so in finansiële moeilikheid was toe ons ’n muishondstaat was wat deur sanksies lamgelê is. Dit sê nie baie van ons huidige regering dat hulle in die afwesigheid van sanksies en in ’n wêreldomgewing waar ander ontwikkelende markte vooruitboer, finansieel swakker as die apartheidstaat vaar nie.