Private sektor kan misdaad beter help keer – Rapport, 7 Desember 2014

’n Verslag wat in Oktober deur die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) uitgereik is, maak dit duidelik dat Suid-Afrika steeds met ’n verskriklike misdaadaanslag te kampe het.

Dear Frans Cronje

’n Verslag wat in Oktober deur die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) uitgereik is, maak dit duidelik dat Suid-Afrika steeds met ’n verskriklike misdaadaanslag te kampe het.

Die verslag het getoon dat moordsyfers in Suid-Afrika, die beste internasionaal vergelykende maatstaf van geweld, 10 tot 20 keer hoër is as in lande soos Australië, Italië en Brittanje. Selfs in vergelyking met die VSA, wat as ’n baie gewelddadige samelewing beskou word, is ons moordsyfers vyf keer hoër.

Die kwaaiste syfer uit hierdie verslag is dat meer as 400 000 Suid-Afrikaners sedert 1994 vermoor is – genoeg mense om die Wanderers-krieketstadion tien keer vol te maak.

En dis die geval selfs al het die moordsyfer sedert 1994 met 50% gedaal. Die meeste groot misdaadsyfers het trouens in die tydperk 2002/2003 ’n hoogtepunt bereik en daarna stadig begin afneem.

Dit is egter nie waar van die soort misdaad wat Suid-Afrikaners die meeste vrees nie. Die hoeveelheid aanslae van gewapende roof op huise en ondernemings het byvoorbeeld oor die afgelope tien jaar met heelwat meer as 100% toegeneem.

Dit is ondanks die feit dat besteding aan strafreghulpbronne tred gehou het met algehele regeringsbesteding, dat die getal mense wat lang straftermyne uitdien baie skerp toegeneem het, dat byna 1 uit 350 Suid-Afrikaners in die tronk is en dat die getal Suid-Afrikaners wat vir ’n ernstige misdaad in hegtenis geneem is oor ’n dekade met 50% toegeneem het tot byna 1,4 miljoen mense.

Maar al het inhegtenisnemings skerp toegeneem, het skuldigbevindings met 10% afgeneem.

Die afnemende getal skuldigbevindings word aan twee dinge toegeskryf: Die eerste is dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) en die gevangenisdiens heeltemal oorweldig is. Die tweede is dat die polisie se vermoë om deeglike sake te bou baie swak is. Die terugtrekking van aanklagte teen die mans wat in hegtenis geneem is vir die onderskeie prominente moorde op die vyfjarige Taegrin Morris, wat in ’n kaping agter sy ma se motor aangesleep is, en op die Suid-Afrikaanse sokkerkaptein Senzo Miyewa is voorbeelde hiervan.

Hierbenewens sal ’n verslag wat die IRV in Januarie 2015 sal uitreik, die omvang toon waarin die polisie self dikwels betrokke is by die beplanning en pleeg van ernstige en geweldsmisdade wat wissel van verkragting tot gewapende roof.

Namate die polisie geleidelik beheer oor misdadige geweld verloor het, het die private sekuriteitsbedryf gegroei. In 1994 het die polisie ongeveer 110 000 lede gehad en die private sekuriteitsbedryf 115 000. Twintig jaar later het die polisie net meer as 150 000 lede terwyl die private sekuriteitsbedryf werk gee aan 450 000 mense.

Hierdie getal sluit van die heel beste polisiebeamptes in wat uit die mag gedryf is weens regstellende aksie. In welgestelde gemeenskappe het die private sekuriteitsbedryf die polisie geword wat alles, van veiligheidsdienste tot gewapende reaksie, inligtingsinwinning, ondersoeke en voertuigopsporing hanteer. ’n Voormalige “politieke kader” wat nou betrokke was by die regering se sekuriteitsake het my onlangs vertel die staat vrees dat die private sektor nou beter ondersoek- en intelligensie-bevoegdheid as die staat het.

Dit is juis die punt: Die private sekuriteitsbedryf het ’n kragtige misdaadbestrydingsmiddel geword. Hulle het fantastiese hulpbronne, gedissiplineerde lede en van die beste misdaadbestrydingsvaardighede in die wêreld. Die staat behoort by hulle aan te klop om hulp om só die private sektor ’n gelyke vennoot in die voorkoming en ondersoek van misdaad te maak.

Ongelukkig is die huidige regeringsbeleid op die teenoorgestelde ingestel.

© 2018 South African Institute of Race Relations
CMS Website by Juizi

Copyright | Accuracy Guarantee | Sponsors & Donors