Ons moordsyfer is byvoorbeeld 20 keer hoër as dié van Nigerië, tien keer hoër as dié van Indië en vyf keer erger as in Amerika.
Die MIV-koers is terselfdertyd 20 keer hoër as die gemiddelde vir Asië, Latyns-Amerika en Wes-Europa.
Uiteraard is daar iets fout met ons land se maatskaplike samestel as soveel jong mense by geweldpleging betrokke is en riskante seksuele gedrag toon.
Verskeie verklarings word genoem en dit wissel van die brutale apartheidstelsel tot armoede en ongelykheid.
Maar talle samelewings wat arm en ongelyk is, weerspieël nie soortgelyke maatskaplike probleme en op die skaal wat in Suid-Afrika ervaar word nie.
’n Ander verklaring wat nie dikwels genoem word nie, is dat Suid-Afrika se gesinstrukture gedisintegreer het tot op ’n punt waar kinders nie die liefde en ondersteuning kry wat nodig is om hulle in verantwoordelike burgers te omvorm nie.
Neem die volgende drie punte in ag:
Ten eerste het tot 3,5 miljoen uit 18 miljoen kinders in die land (dit is digby 20%) reeds een of albei ouers verloor.
Tweedens word net 32% van kinders groot in ’n huishouding waar albei ouers teenwoordig is. Net 27% van swart kinders word in sulke huishoudings groot in vergelyking met 80% van wit kinders.
Derdens word 26% van kinders wees groot. Dit behels 29% van swart kinders, maar net 4,4% van wit kinders.
Wat bogenoemde punte demonstreer, is dat net drie uit elke tien Suid-Afrikaanse kinders grootword in ’n tradisionele huishouding met albei ouers en waar hulle baat vind by die liefde en leiding van albei ouers.
Sowat vier uit elke tien kinders word met net een ouer groot. Hoewel hulle steeds baie ouerliefde en ondersteuning ontvang, is dit nie op dieselfde vlak as wat twee ouers kan gee nie. Dít is veral so waar daar geen vaderfiguur is nie.
Die res van ons kinders – dit is drie uit elke tien – word groot sonder enige sorg of ouerliefde.
Navorsing toon kinders wat sonder ouerleiding grootword – veral meisies sonder ’n pa – is meer geneig daartoe om riskante seksuele gedrag te openbaar, dwelms te gebruik en by misdaad betrokke te wees as kinders met twee ouers.
’n Studie oor jong oortreders toon byvoorbeeld dat kinders wat sonder pa’s grootword ’n groter kans het om in die strafregstelsel te beland as kinders wat emosionele ondersteuning van hul ’n pa kry.
Dit is konserwatief om te suggereer dat kinders net die beste daaraan toe kan wees met twee ouers.
Maar ouderwetse konserwatisme is dalk juis wat nodig is om ons maatskaplike kwessies op te los.
’n Minderheid van Suid-Afrika se kinders word vandag in normale huishoudings groot.
Dít, meer as enigiets anders, verklaar dalk die gewelddadige en riskante gedrag wat ons oral om ons sien en ervaar.
- Frans Cronje
(First published in Rapport, 19th August 2012.)